Sinvolle leefstylwenke uit die Woord

Sinvolle Advies vir Elke Dag

‘Moet nooit uit die toekoms leen nie. As jy jou bekommer oor wat moontlik more kan gebeur en dit doen nie, het jy jou vergeefs bekommer. Indien dit wel gebeur, bekommer jy jouself tweemaal daaroor.’

Hierdie wenke sal jou help om rustiger en gesonder te leef:

1. Bid.

2. Gaan betyds bed-toe.

3. Staan betyds op sodat jou dag rustig kan begin.

4. Sê nee vir projekte wat nie in jou skedule kan inpas nie, of wat sal inbreuk maak op jou geestesgesondheid.

5. Delegeer take aan bekwame mense.

6. Vereenvoudig jou lewe; raak ontslae van beslommernisse.

7. Minder is meer. (Alhoewel een dikwels onvoldende kan wees, is twee dikwels te veel.)

8. Laat ekstra tyd toe om dinge gedoen te kry of om by plekke uit te kom.

9. Hou reelmatig tred met jouself. Versprei groot veranderings en moeilike projekte sodat jy nie te veel gelyktydig hoef te vermag nie. Moenie al die moeilike dinge gelyktydig probeer afhandel nie.

10. Neem elke dag soos dit kom.

11. Skei bekommernisse van besorgdhede. Indien jy besorg is oor ‘n situasie, vind by die Here uit wat Hy wil hê dat jy moet doen en laat vaar die angstigheid. Indien jy niks aan ‘n situasie kan doen nie, vergeet eerder daarvan.

12. Leef binne jou begroting; moenie kredietkaarte vir gewone aankope gebruik nie.

13. Skep rugsteune; ‘n ekstra motorsleutel in jou beursie of versteek in ‘n strategiese plek onder die motor, versteek ‘n ekstra sleutel vir die huis in die tuin, eksta posseels, ens.

14. B.S. (Bly Stil). Hierdie klein stukkie raad kan ‘n enorme hoeveelheid moeilikheid voorkom.

15. Doen elke dag iets vir die Kind in Jou.

16. Hou ‘n Bybel byderhand en lees dit wanneer jy in toue of op ander plekke moet wag.

17. Kry genoeg rus.

18. Eet reg.

19. Raak ge-organiseerd sodat elke ding ‘n plek het.

20. Luister na opnames wat kan bydra om jou lewenskwaliteit te verbeter terwyl jy bestuur.

21. Skryf idees en inspirasies neer.

22. Vind elke dag tyd om alleen te wees.

23. Praat daar en dan met die Here as jy probleme het. Probeer om klein probleempies in die kiem te smoor. Moenie uitstel om te bid totdat dit slaaptyd is nie.

24. Maak vriende met mense wat die Here dien.

25. Hou ‘n versameling van jou gunsteling Bybelverse byderhand.

26. Onthou dat die kortste brug tussen wanhoop en hoop dikwels ‘n eenvoudige “Dankie Jesus” is.

27. Lag.

28. Lag nog!

29. Benader jou werk ernstig, maar hoegenaamd nie jouself nie.

30. Ontwikkel vergewingsgesindheid (die meeste mense doen hulle bes).

31. Wees goedhartig teenoor onvriendelike mense (hulle het dit waarskynlik die meeste nodig).

32. Sit op jou ego.

33 Praat minder; luister meer.

34. Verminder spoed.

35. Herinner jouself dat jy nie die algemene bestuurder van die heelal is nie.

36 Dink elke aand voor slaaptyd aan een ding waarvooor jy dankbaar is waaraan jy nog nooit vantevore gedink het nie.

GOD HET ‘N MANIER OM DINGE VIR JOU OM TE KEER.

‘God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?’

(Romeine 8:31)

Die rol van Engele

Die nuusbrief hierbo is aanvanklik uitgestuur onder die vaandel van “Advies van Engele”.

Een van die wonderlike voorregte van ledemaat-wees van die liggaam van Christus is dat jy altyd ander ledemate het wat jou help om op koers te bly en die balans te behou. Twee van die nuusbrieflesers het my aandag op die probleem gevestig, en ek moes dit regstel.

Die nuusbrief kon die indruk skep dat boodskappe van engele altyd betroubaar is. Dit is so dat God steeds deur engele met mense kan kommunikeer, maar die satan kan homself ook voordoen as ‘n engel van die lig.

Hebreërs 2:2-5 Want as die woord deur engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het, hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het, terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil? Want aan die engele het Hy die toekomstige wêreld waarvan ons spreek, nie onderwerp nie;

God se Woord is onwankelbaar en dié van engele wankelbaar. Luister slegs na engele as hulle bevestig dat Jesus die Seun van God is wat in die vlees gekom het en gesterwe en opgestaan het:

1 Johannes 4:1-3 Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.

Die wenke uit die vorige nuusbrief is geldig en nuttig vir elke dag se praktiese leefwêreld, en dit kom van mense wat hulleself graag aan die Woord van God en Sy opdragte wil onderwerp. In ‘n sin tree hulle dan ook, soos engele, as gesante van God op. Soos die geval by engele is hulle, en ek, egter feilbaar en volledig afhanklik van en onderworpe aan die Woord van God.

My innige dank gaan aan die lesers wat nie geskroom het om hierdie belangrike beginsel onder my aandag te bring nie. So moet ons mekaar elke dag oppas, vermaan, aanmoedig en opbou.

Daar is ‘n verskil tussen kennis en wysheid

Kennis is om te weet dat ‘n tamatie ‘n vrug is en nie groente nie.
Wysheid is om te weet om dit nie by vrugteslaai te sit nie.

Terloops, ‘n tamatie is die enigste gewas onder die vrugte- en groentesoorte waarvan die voedingswaarde verbeter as dit gaargemaak word. Die likopeengehalte verbeter met verhitting en likopeen is ‘n waardevolle anti-oksidant.

Tong-in-die-kies Bepeinsing

Ek het baie natuurlike kosse ge-eet totdat ek ontdek het dat die meeste mense van natuurlike oorsake sterf.

You may also like...