Afsluiting van vastye

Hoe om jou vastye te beëindig

Die wyse waarop jy jou vastye afsluit is net so belangrik as die voorbereiding en die vas self. Die derde en finale aflewering van die reeks oor vas en gebed handel oor hierdie belangrike afsluitingsfase van vas en gebed.

Hoe om jou vastye af te sluit

As jy net na ‘n vastyd te veel eet of die verkeerde goed eet, maak dit geen sin om hoegenaamd te vas nie. Vastye moet stadig en beheersd afgesluit word. Hoe langer die vas, hoe stadiger en versigtiger moet jy daarvan afkom.

Jy sal gewoonlik na vastye self voel dat jy met wysheid en goeie oordeel wil besluit wat jy gaan eet en hoe jy gaan eet.

Daar is drie reels:

1. Moet nooit ooreet wanneer jy jou vastyd afsluit nie

Om te ooreet is die mees algemene fout. Wanneer jy kos inskep, hou in gedagte dat vas jou maag laat krimp. Jy sal dus minder kos nodig hê. Handhaaf selfbeheer, kalmte en ‘n stadige pas.

2. Sluit altyd af met ‘n rou, effe-gestoofde vrug of groente of ‘n glas vars uitgedrukte vrugte- of groentesap.

‘n Lemoen, papaja, waatlemoen, tuisgemaakte appelsap of dergelik is reg. Verdun vrugtesappe met ongeveer 50% water.

Moet NOOIT afsluit met vleis, hoender, melk of kaas nie. Bring hierdie kossoorte eers na ‘n ete of twee by. Dit spreek vanself dat dit rampspoedig sal wees as jy in hierdie stadium naby kitskos kom.

Jou liggaam reageer na ‘n vastyd baie sterk op elke brokkie kos. Die reaksie is positief op kos van goeie gehalte en negatief op swak kos. Bly weg van alle geblikte, geprosesseerde of verfynde produkte en souse vir solank as wat jy kan.

In hierdie tyd waardeer jou smaaksintuie enigiets – gee hulle net die allerbeste kos wat jy jou hande op kan lê.

3. Nie meer as drie kossoorte nie

Begin met een of twee maar nie meer as drie soorte vrugte of groente nie. Voeg geleidelik swaarder kossoorte by, maar hou die verhoudings reg volgens die langtermyn eetplan by www.verslank.net.

Vastye sal jou smaak verander sodat jy al hoe meer sal hunker na suiwer, natuurlike kossoorte. Jy sal ook meer sensitief word vir chemiese bymiddels en onnatuurlike bestanddele. Bly vir solank as wat jy kan, verkieslik permanent, weg van sout, peper en speserye,.

Eet stadig en kou jou kos deeglik om die spysvertering behoorlik aan die gang te kry.

Drink steeds jou ses tot agt glase water per dag, maar hou by die riglyne van waterterapie by hierdie skakel

Wat om te verwag

Na ‘n maand of twee op ‘n gereelde vasprogram kan jy die volgende voordele verwag:

om beter, sterker en meer energiek te voel

‘n skoner, gladder vel met ‘n gesonder kleur

helder, vonkelende oë en ‘n jonger gevoel en voorkoms

‘n helderder verstand

gewigverlies, mits jy al die ander dinge ook doen (snuffel rond tussen die nuusbriewe by www.verslank.net)

‘n toenemende voorkeur vir kos soos God dit gemaak het

liggaams- en asemreuke sal verdwyn

jou lewensuitkyk en jou prioriteite sal verander

jy sal meer tyd vir belangrike dinge vind

menstruasie sal meer gereeld en minder problematies word

Let daarop dat agteruitgang of negatiewe reaksie aanvanklik ervaar kan word voordat sommige van die voordele manifesteer. Dit is deel van die detoksifikasieproses en moet jou nie ontmoedig nie. As jy volhard sal jy meer voordele geniet as wat jy verwag. Jy mag maar hoë verwagtings koester.

Wie nie moet vas nie

Daar is diegene wat om mediese redes nie kan of behoort te vas nie.

Swanger vroue en vroue wat borsvoed wil nie toksiese stowwe aan hulle ongebore of jong kinders oordra nie. Gee jou hormone vier na ses maande of langer as jy so voel, om te normaliseer en vir jou liggaam om te herstel nadat baba gebore is. Begin dan stadig en bou geleidelik op na waar jy voorheen was.

Enigeen wat aan ernstige ongesteldhede ly, soos diabetes, lewer- of nierprobleme, tuberkulose, hipoglisemie, hartsiektes of iemand wat uiters ondergewig is behoort nie te vas nie.

Raadpleeg deskundiges as jy gesondheidsprobleme het maar steeds graag wil vas. Miskien sal dit vir jou nuttig wees om op een dag per week net vrugte en groente te eet. God sal jou gesindheid eerder as wat jy eet raaksien as jy dit tot Sy eer doen.

Slotsom

Vas en gebed is een van die gawes wat God gee om ons te lei en te help na totale gesond-wees op alle lewensterreine. Dit is nie die maklikste maar ook nie die moeilikste dissipline nie. Dit is egter tog makliker as wat jy dink.

Indien jy wil lewe om jou vleeslike begeertes te bevredig en nie bereid is om God se weë te erken en daarvolgens te lewe nie, sal jy die gevolge moet dra. Hoe groter die afwyking van Sy opdragte, hoe erger sal die gevolge wees. Kyk rondom jou wat aangaan en besluit self wat jy gaan doen.

‘n Gedissiplineerde vas-en gebedsprogram sal jou en jou gesin help om die ernstige leefstylsiektes van ons tyd te bekamp, om balans in jul lewe te vestig en te handhaaf en om nader aan jou Skepper te leef. Dit is nie ‘n wonderkuur vir alles nie. Dit is wel een van God se metodes van genesing. Moenie daarvoor bang wees nie. Wees eerder bang vir oorgewig, hoë bloeddruk, hartkwale, swak sirkulasie, kroniese moegheid, aanhoudende siektetoestande en vir verslawings.

God het jou gemaak en Hy het vas en gebed vir jou ontwerp omdat Hy weet wat jy nodig het. Dit is in Sy Woord. Leer daaruit. Lees Jesaja 58:6-14 elke keer as jy vas. Vra die Here om in jou hart te spreek en vir jou te verduidelik wat alles wat jy lees beteken. Dit is ryk aan sinvolheid, beloftes en die waarheid wat jou vry maak.
Met dankbare erkenning aan Stormie Omartian se “Greater Health God’s Way”

Skaf die boek aan en lees dit.

Aanhaling :

Health is the condition of wisdom, and the sign is cheerfulness — an open and noble temper.

Outeur:

Ralph Waldo Emerson 1803-1882, Amerikaanse outeur, opstelskrywer

You may also like...