Die Evangelie, tegnologie en die Japannese
Gevorderde Tegnologie vir Gesondheid
Die blog http://gesond.verslank.net/ beklemtoon dat die Evangelie vir die hele mens bedoel is. Al die fasette van mens-wees word geraak. Dit gaan dus oor baie meer as net die spirituele lewe en sluit die fisiese, emosionele en sosiale lewe ook in.
Hierdie week se kykie in die lewe van die Japanners illustreer die vindingrykheid van die mens in sy strewe na die vervulling van sy behoeftes. In die proses kan ons ook maklik oorboord gaan. Die punt is egter dat ons maklik gefokus raak op dinge wat ons verstaan of waarmee ons gemaklik is maar dan vergeet ons dat daar nog baie ander fasette van die lewe is wat verwaarloos word.
Vir een persoon is die liggaam ondergeskik aan die gees en dus minder belangrik, die ander een oorbeklemtoon weer die liggaamlike behoeftes en verwaarloos sy/haar geestelike lewe. Vir nog iemand is die behoeftes van ander mense allesoorheersend en hulle dink dat dit reg is om jouself te verwaarloos ter wille van naastediens. Andere sal weer alle aandag aan hulle eie behoeftes gee en nie eens agterkom dat die buurman en sy gesin sterf van die honger nie.
Japannese se Gesondheidshulpmiddels
Baie huise in Japan is toegerus met elektroniese hulpmiddels vir gesondheid.
Dit is mees ooglopend in die toilet, waar sagte musiek begin speel wanneer ’n gebruiker die badkamer binnekom. Die sitplek se hitte is verstelbaar en spoel en lugsuiwering is outomaties. ’n Osoon reukweringstelsel skakel reuke vinnig uit. Toiletdeksels maak outomaties toe ’n sekere tyd na uitspoeling. Sommige toilette gloei in die donker en mag selfs lugversorging onder die rand hê vir die warm somerdae.
Pratende toilette wat ’n besoeker groet, begin ook nou oral kop uitsteek.
Mikio Matsuzaki, 60 jaar, laat sy gesondheidstoestand nagaan, nie deur ’n dokter nie, maar deur die unieke ‘Intelligente Toilet’ stelsel wat in sy badkamer geïnstalleer is.
Hy kom sy badkamer binne, neem ’n bloeddruk meter uit die muur, haal diep asem en meet sy bloeddruk.
Met ’n ander toestel toets hy sy bloedsuikervlak. Terwyl hy voor die wasbak staan, meet ’n toestel onder die vloer outomaties sy gewig en vetpersentasie.
Die data word vir berging na sy persoonlike rekenaar versend. Dit help hom om enige afwykings in sy gesondheidstoestand te ontdek. Navorsers het mediese sensors tot die toilette bygevoeg wat data omtrent die gebruiker se bloedsuikervlak, gebaseer op urine, polsslag en vetpersentasie na ʼn mediese fasiliteit stuur.
“Gebaseer op die data so verkry, tesame met dieet en oefeninge, kan ek goeie gesondheid handhaaf” sê Matsuzaki.
Net soos hy, wil baie mense gesond en aktief bly solank hulle lewe. Die ‘Intelligente Toilet’ stelsel se doel is om mense te help om leefstylverwante siektes te voorkom deur gegewens rakende hulle gesondheidstoestand tuis te bestuur, sodat hulle nie nodig het om na ’n hospitaal te gaan en lang wagtye vir ’n dokter te verduur nie.
Bron: Yomiuri Nuus, 2008-07-24
Ek kry mense jammer wat net oor hulle fisiese gesondheid begaan is en hulle geestelike welsyn verwaarloos!
Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan
en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan
(3 Joh 1:2, OAV).
Ek bid dat jy fisies kerngesond is, maar dat jou siel ook blakende gesondheid geniet!
Met erkenning aan Neil Verwey van Japansending. Besoek gerus hulle webwerf en teken in op hulle nuusbrief:
Nou wonder ek onwillekeurig wat ek alles sou wou sê as ek die toilet was…