Die hele jaar Kersfees
‘n Boodskap vir die Kersfeesseisoen
Bêre die skuldgevoelens sodat jy die vakansietyd ten volle saam met jou dierbares kan geniet
Is jy hierdie tyd van die jaar gefrustreerd omdat jy nou al weet dat daar dinge is wat jy in oormaat gaan doen? Ontspan eerder, dit sal jou beter te staan kom as jy eenvoudig ophou stres daaroor en voluit gaan om die beste uit die feesseisoen te put.
Vergeet vir ‘n tydjie van al die reels en die voorskrifte – dit is belangriker dat jy veral in hierdie spesiale tyd ontspan sodat jy doelgerig aandag kan gee aan jou verhouding met jou geliefdes.
Doen moeite om uit te vind wat hulle pla of wat jy vir hulle kan doen wat hulle sal laat voel dat jy werklik omgee, en doen dan jou bes. Dink aan wat jy sou waardeer het as jy in hulle posisie was en doen dit vir hulle.
Ek en Jua breek self ‘n bietjie weg van die alledaagse. Probeer om dit ‘n rare geleentheid te maak wat almal sal onthou – om al die kleinkinders bymekaar te kry. Oupa en Ouma wil hulle ‘n bietjie bederf, ‘n voorreg wat ons nie aldag kry nie.
Hulle en hulle ouers weet egter dat dinge nie elke dag so kan werk nie (dis nie elke dag Krismis nie) en waardeer dit daarom des te meer.
Ons het mekaar immers geleer dat daar so iets soos matigheid en dissipline is, maar ook dat ‘n mens die spesiale tye met spesiale vergunnings meer spesiaal kan maak. Dit maak dit dubbel lekker, want niemand bekommer hom oormatig oor die gesondheidsaspekte of ekstra gewiggie wat gaan bykom nie. Ons weet mos hoe om “reg” te leef en sodoende gou weer na normaal terug te keer.
Boonop gaan Januarie weer eens ‘n holderstebolder wegspring van ‘n nuwe jaar wees, met nuwe uitdagings en nuwe voornemens. Ook wat gewigbeheer en gesondheid betref. Maar eers ‘n bietjie lekker ontspan ek kuier, sonder skuldgevoelens.
Tot dan, mag jy en jou gesin ‘n baie geseënde Christus-fees geniet, met die Jesus-kind se geboorte as die fokuspunt. Ons vertrou dat die nuwe jaar vir julle baie positief sal wees.
Aanhaling: It is a wearisome disease to preserve health by too strict a regimen.
Outeur: Francois De La Rochefoucauld 1613-1680, Franse Klassiekskrywer