Goddelike ingryping op ons bestaan: 16 Desember 1838

Geloftedag: Wat het gebeure in 1838 vandag met ons te doen? 

 
Die antwoord lê opgesluit in hoedat Suid-Afrika sou gelyk het indien die geskiedenis anders verloop het.  

Dit is veral die groot dinge wat God in antwoord op gebed gedoen het wat belangrik is om te onthou, omdat die hedendaagse samelewing daardeur gevorm is. 

Nog nooit in die wêreldgeskiedenis is ‘n oormag van minstens 30 teen een verslaan sonder dat ‘n enkele persoon in minderheidsgeledere ernstig beseer is nie. Op 16 Desember 1838 het dit so gebeur. Dingane se impi het, danksy Goddelike ingryping deur ‘n aantal wonderwerke, in antwoord op intense gebed, ‘n verpletterende neerlaag gely toe hy 470 Trekkers by Bloedrivier aangeval het. 

Om die impak op ons land soos ons hom vandag ken te verstaan, moet die omstandighede van daardie tyd kortliks geskets word

In die gesig van totale uitwissing
 
Dit was in die tyd van die uitwissingsveldtog, mfecane. Kleiner stamme is deur Shaka en na hom, Dingane se impi oorweldig. Oues van dae en die mans wat kon veg is vermoor en die vroue en kinders is geabsorbeer. Stamme het oor ‘n wye gebied gevlug. Die Zoeloe oorlogsone het reeds vanaf die Suide van Mosambiek tot byna by Port Elizabeth en binnelands tot by die hedendaagse Gauteng gestrek. 

In 1838 is Dingane deur die opwagting van ‘n groepie wit “towenaars” bedreig. Op 6 Februarie 1838 het hy Piet Retief en sy geselskap op brutale wyse vermoor en toe sy impi gestuur om die res van die trekkers uit te wis. Binne ‘n paar maande is byna 800 mans, vroue en kinders doodgemaak.  

Die nood leer bid
 
Bykans al die weerbare mans uit Trekkergeledere het daarop by Bloedrivier saamgetrek. Indien hulle uitgewis was, sou die oorblywende Trekkers maklik oorrompel kon word. Selfs die Kaapkolonie, verswak deur die onttrekking van soveel weerbare mans in die Groot Trek, sou ‘n kwesbare teiken wees. Al wat vir hulle oorgebly het was om op God te vertrou vir uitkoms. 

Na die slag het Dingane se halfbroer, Mpande met ongeveer 17 000 volgelinge teen hom gedraai en ‘n vredesverdrag met die Trekkers gesluit. Dingane het in ‘n sluipmoord gesterf en Mpande het koning van die Zoeloekoninkryk geword.  

Wat is jou gevolgtrekking?
 
Dit neem slegs gesonde verstand om te besef dat meeste van ons hedendaagse samelewing nie vandag hier sou gewees het indien die verwoestende uitdelgingsveldtog van die Zoeloemag nie op 16 Desember 1838 deur Goddelike ingryping gestuit was nie. 

Besluit self of dit toepaslik is om by Geloftefeeste dank teenoor die Allerhoogste te betuig vir sewe wonderwerke wat op 16 Desember 1838 volgens oorlewering plaasgevind het en daartoe gelei het dat ‘n bloedige uitwissing van die voorgeslag van die oorgrote meerderheid van alle stamme en volke, swart en wit, in ons land gestuit is.  
 

 

 

You may also like...