Drink veilige water

Is jou drinkwater veilig?

Munisipaliteite is deesdae te gereeld in die nuus oor beweerde swak dienslewering en gebrek aan kundigheid en vaardighede. Dit laat ‘n mens wonder of kraanwater in stedelike gebiede veilig is om te drink. En wat van die uitwerking op my gesin se gesondheid indien die toediening van chloor, fluoried en ander potensieel skadelike en toksiese stowwe tydens watersuiweringsprosesse nie behoorlik beheer word nie?

Almal weet dat dit geweldig belangrik is om genoeg water te drink. As jy dit boonop op die regte manier drink het dit selfs kragtige genesende eienskappe. Lees meer hieroor by http://www.verslank.net/index.php?option=com_content&task=view&id=124&Itemid=2.

Waterfiltreerders

Vrae oor watergehalte veroorsaak dat verbruikers hulle al hoe meer wend na gebottelde water of ander bronne of om duur waterfiltreerders aan te skaf.

Bemarkers van filtreerders kan hierdie situasie uitbuit deur verbruikers te konfronteer met agressiewe bemarkingsveldtogte, dramatiese fotos en demonstrasies van onsuiwerhede wat deur filtreerders uit drinkwater gehaal word. Die indruk word geskep dat al hierdie sigbare stowwe in die filters skadelik is vir jou liggaam en siektes kan veroorsaak. Daarom is dit, aldus die bemarkers, noodsaaklik dat jy jou huis met ‘n waterfiltreerder toerus en net gefiltreerde water drink.

Vooraanstaande deskundiges op die terrein van natuurlike gesondheid stem nie noodwendig hiermee saam nie. Die sogenaamde onsuiwerhede wat in die filters agterbly is nie almal skadelik nie. Sommige daarvan is bruikbare minerale, nuttige bakterieë en ander elemente wat bevorderlik kan wees vir goeie gesondheid.

Dit is byvoorbeeld belangrik dat veral klein kinders van geboorte af tot op ongeveer 3 jaar in matigheid blootgestel word aan bakterieë om hulle immuunstelsels te stimuleer. As dit nie gebeur nie, kan hulle lewenslank probleme met allergieë ervaar omdat die immuunstelsel nooit leer hoe skadelike indringers lyk nie, en begin om onskadelike stowwe wat die lugweë binnekom aan te val.

So word mense dikwels om die bos gelei om oorboord te gaan met waterfiltrering tot die mate dat dit nadelig kan wees.

Uiteindelik kom objektiewe waarnemers tot die slotsom dat die grootste gesondheidsvoordeel van ‘n huishoudelike waterfiltreerder waarskynlik daarin geleë is dat dit mense aanmoedig om meer water te drink.

Die vraag is of dit nie jou sak beter sal pas om eenvoudig van meet af te leer om meer (kraan)water te drink nie?

Munisipale water

Die Randwaterraad verseker gebruikers van goeie gehalte water, aldus hulle webblad by http://www.randwater.co.za/WaterAndInfastructureManagement/Pages/WaterQuality.aspx.

Indien jy in ander areas woon, doen gerus navraag by die owerheid wat jou water voorsien. As jy nie tevrede is met die antwoorde wat jy kry nie, doen moeite om ontledings te laat doen en besluit dan op jou volgende stap.

Gebottelde water het ook sy voor- en nadele soos uit hierdie artikel blyk: http://www.newrinkles.com/index.php/health/pros-and-cons-tap-water-versus-bottled-water

Lees gerus ook meer oor waterfiltreerders by: http://www.historyofwaterfilters.com/filtration-pc.html

By plekke waar water uit die berge kom, benodig dit gewoonlik min suiwering. Dit kan met vrymoedigheid direk uit die kraan gedrink word.

Met ‘n bietjie moeite om jou immuniteit te beskerm hou jy jou blootstelling en risiko relatief laag en is jy redelik goed toegerus om probleme wat onsuiwer water kan inhou die hoof te bied.
The quality of your life is dependent upon the quality of the life of your cells. If the bloodstream is filled with waste products, the resulting environment does not promote a strong, vibrant, healthy cell life, nor a biochemistry capable of creating a balanced emotional life for an individual. 

Outeur: Anthony Robbins 1960-, Amerikaanse skrywer, geleentheidspreker en deskundige konsultant oor optimale werkverrigting.

You may also like...