Energie-besparingswenke

Wenke om energie te bespaar

Hoë brandstofpryse skud reeds ons sakke. Die politieke onrus in die olieproduserende lande en die uitputting van oliereserwes dui op aansienlike verdere prysstygings. Hierdie en talle ander faktore wat die ekonomie beinvloed laat die waarskuwingsligte flikker. Ons sal al die moontlike maniere om besparings te bewerkstellig moet ondersoek en onder mekaar uitruil.

Goedkoop is duurkoop

Toe ek onlangs nuwe bande vir my motor moes koop, het die pryse gewissel van R500 tot R900 per band. Met ‘n bietjie moeite en navorsing het ek ontdek dat indien jy die regte bande koop en bereid is om duurder daarvoor te betaal, jy die koste van jou stel nuwe bande binne 50 000 kilometers kan terugkry uit besparings op brandstof (teen die huidige koste van brandstof).

‘n Bekende Italiaanse bandvervaardiger maak aanspraak op besparings as gevolg van hulle tegnologies-gevorderde energiebesparende ontwerp en gespesialiseerde kombinasies van rubber en silikoon. Onafhanklike toetse dui op brandstofbesparing van tussen 4% en 7%. Na ‘n paar maande se gebruik van hierdie bande kan ek sien dat my motor se brandstofverbruik met byna 1 liter per 100 km verbeter het, dus in die omgewing van 7%. Boonop is hierdie bande bekend vir langduursaamheid.

Daar is ook reeds ander bandvervaardigers wat hierdie tegnologie probeer namaak, maar die besparings wat hulle bereik is tans nog minder indrukwekkend.

Moet dus nie aanvaar dat die laagste prys die beste waarde vir jou geld bied nie. Doen ‘n bietjie moeite om in te gaan op gehalte, duursaamheid, waarborge ens.


Ander maniere om brandstof te bespaar

Vir die van ons wat nie ons eie bio-brandstof kan vervaardig of elektriese motors kan bekostig nie, is daar talle interessante wenke wat die moeite werd is om op te volg, byvoorbeeld:

  • Koop wanneer dit koel is

Die soortlike gewig (sg) en die temperatuur van petrol, diesel en ander petroleumprodukte speel ‘n belangrike rol in die petroleumbedryf. ‘n Temperatuurverhoging van slegs 1º maak ‘n groot verskil. By die groot opgaartenks waar die tenkwaens volgemaak word is daar toerusting wat kompenseer vir temperatuurverskille sodat elke liter wat gepomp word in werklikheid presies ‘n liter is.

Vulstasies het geen manier om by hulle pompe te kompenseer vir temperatuurverskille nie. Koop dus slegs brandstof vroegoggende wanneer die grondtemperatuur laag is. Alle vulstasies se voorraadtenks is ondergrond. Hoe kouer die grond, hoe digter die brandstof. Brandstof sit aansienlik uit wanneer die temperatuur styg. Indien jy dus in die middag of aand wanneer dit warmer is brandstof koop is ‘n liter wat die pomp meet en waarvoor jy betaal in werklikheid minder as ‘n liter terwyl dit vroegoggend meer kan wees.

  • Pomp stadig

Moet nie die sneller van die spuitkop heeltemaal indruk sodat die brandstof teen maksimumdruk gepomp word nie. Die snellers het gewoonlik drie stadiums: laag, middel en hoog. Pomp jou brandstof teen die laagste druk. Sodoende beperk jy die vorming van dampe wat deur die pomp-proses veroorsaak word tot die minimum. Daar is ‘n toestel in elke brandstofpomp se pyp wat die oortollige dampe toelaat om na die opgaartenk toe terug te keer. Sodra jy teen die maksimumdruk pomp, word meer van die brandstof wat gepomp word in dampe omgesit en daardie dampe, waarvoor jy betaal, word teruggesuig na die ondergrondse opgaartenk.

  • Hou jou voertuig se tenk vol

Nog ‘n belangrike wenk is om jou motor se brandstoftenk weer vol te maak wanneer dit ongeveer half-vol is. Hoe meer brandstof daar in jou tenk is, hoe minder ruimte is daar vir die brandstof om te verdamp. Verdamping is ‘n groot faktor by petrol omdat dit so ‘n vlugtige vloeistof is. Hoe groter die oop ruimte in jou brandstoftenk, hoe meer verdamping vind plaas. Massa brandstofopgaartenks word met interne drywende dakke toegerus. So ‘n dak verseker dat daar geen ruimte tussen die brandstof en die atmosfeer is nie en sodoende word verdamping tot die minimum beperk.

Nog ‘n wenk: moet nie brandstof koop terwyl daar by die vulstasie ‘n tenkwa besig is om brandstof af te laai nie. Die brandstof in die ondergrondse tenk word deur die inpomp van nuwe voorraad omgeroer, en die kanse is goed dat daar onsuiwerhede wat normaalweg onder in die tenks lê in jou brandstoftenk sal beland.


Help om ons reserwes te bewaar

Ons wil graag sien dat hierdie wenke ‘n wesenlike impak op brandstofreserwes maak. Dit sal gebeur indien hierdie inligting by miljoene verbruikers uitkom en met jou samewerking kan dit maklik gedoen word.

Hierdie nuusbrief gaan aan ongeveer 1 600 mense. Indien elkeen wat dit ontvang dit net aan nog 10 mense stuur en hulle weer aan nog 10, sal ons gou by miljoene uitkom.

Al wat jy moet doen is om dit aan minstens 20 mense te stuur. Hoeveel van jou tyd sal dit in beslag neem?

 

Nog besparingswenke

Die grootste kragverbruikers in jou huis is jou waterverwarmer en jou stoof.

Ons vermors elke dag ‘n geweldige hoeveelheid energie en geld deur te veel water te warm te hou. As dit vir jou nodig is om die warm water uit jou krane met koue water te meng om daarin te kan stort of bad is die water te warm en het jy elektrisiteit vermors. Stel jou warmwatertoestel se termostaat laer, totdat die temperatuur laag genoeg is sodat jy die minimumhoeveelheid (of verkieslik geen) koue water moet byvoeg wanneer jy stort of bad. Jy kan ook jou warmwatertoestel afsit, en dit net vir 30 of 40 minute per dag aansit, afhangend van of dit somer of winter is en van die insulasie om jou warmwatertoestel. Ek doen dit sommer self elke dag, maar jy kan meer verfynd raak en ‘n tydskakelaar laat installeer.

Sonkrag is natuurlik ook ‘n puik alternatief vir doeltreffende waterverhitting vir diegene wat nie terugdeins vir die aanvanklike koste nie. Wanneer jou warmwatertoestel vervang moet word sal versekeraars en Eskom jou help om dit met ‘n sonverhittingstoestel te vervang. Doen hieroor navraag.

Stowe en ander toestelle wat met elemente werk gebruik geweldig baie krag. Mikrogolfoonde is nie ‘n goeie alternatief nie as gevolg van bestraling, maar daar is deesdae alternatiewe kooktoestelle wat jou kos met halogeenlampe gaarmaak. Hierdie metode gebruik ‘n breukdeel van die krag wat ‘n konvensionele stoof met elemente nodig het.

Nog ‘n innovering is om sonkrag te gebruik. Daar is ‘n verskeidenheid ontwerpe vir sonstowe wat jy kan aankoop of self kan maak. Planne is op die Internet beskikbaar en alhoewel ons self in ‘n area woon waar sonlig soms skaars is, gebruik ons ‘n tuisgemaakte sonstofie van tyd tot tyd met groot welslae. Dit is uit karton en foelie gemaak en die totale koste is minder as R20.

Stuur jou wenke vir ons 

Indien jy weet van nog besparingswenke, stuur dit gerus vir ons sodat ons dit verder kan versprei.

You may also like...