Om vinke te skiet en om doelgerig te bid
My grootste Kersgeskenk was ‘n windbuks in 1949, toe ek ses jaar oud was.
Lastige voëltjies wat die boorde verniel, veral vinke, moes dit ontgeld. Eindelose swerms, so dig dat ek nie kon dink dat jy tussen hulle deur kan skiet sonder om een raak te skiet nie, het laatmiddae verbygevlieg
Dag na dag het ek gesit en wag vir die swerms om verby te kom. Ek het honderde keer probeer. Hoe hard ek ookal probeer het, kon ek egter nooit ‘n enkele vink raak skiet nie. Daardie vinke het my ‘n belangrike les geleer: dit is nutteloos om in die bondel te skiet.
Min het ek in daardie sorgvrye kinderdae besef dat my Skepper en Verlosser besig is om die fondasie te lê vir een van my grootste lewenslesse: die belangrikheid van doelgerigte gebed.
God het ons lief en wil graag vir ons Sy vrede gee wat alle verstand te bowe gaan (Filippense 4:7.) Hy kan en wil die onmoontlike vir ons doen: as’t ware seker maak dat elke enkele koëltjie ‘n vink tref! Waarom gebeur dit nie?
Herinneringe in ons onderbewussyn veroorsaak ons innerlike worsteling, probleme, emosionele hartseer en ellende. Hierdie verborge herinneringe spruit uit ons ervarings vanaf ons vroeë kinderjare, selfs voor geboorte, wat fisies in ons brein vasgelê is. Ons is gewoonlik nie eens bewus van die werklike bron van ons hartseer en emosionele pyn nie. Ons dink dat dit die huidige lewensomstandighede is wat dit veroorsaak. Wanneer ons dus bid vir vrede maar nie weet wat die oorsaak van die onrus is nie, kan ons nie “raak skiet” nie.
Niemand behalwe Jesus weet wat die probleem is nie. Daarom kan geen mens help nie, al is hy of sy die bes-gekwalifiseerde en bekwame terapeut. Dit is net die Een wat weet wat die probleem is wat dit kan en wil oplos en sodoende vir ons Sy vrede kan gee wat alle verstand te bowe gaan.
Dis egter ironies dat dit slegs ons eie vrye wil is wat Jesus keer om Sy waarheid wat vrede bring vir ons te gee. As ek nie bereid is om Hom toe te laat nie, sal Hy nie my wil skend nie: as ek kies om Hom nie vir Sy waarheid en die vrede wat dit bring te vra nie, sal Hy dit nie op my afdwing nie. Aan die ander kant, as ek wel Sy vrede wil ontvang, benodig ek net ‘n metode om Jesus toe te laat om die Terapeut te wees.
Gebede “in die bondel” is gewoonlik net so doeltreffend as die koeëltjies wat ek tussen die vlieënde swerms vinke ingeskiet het. Die kans dat dit ‘n teiken gaan tref is uiters skraal.
Wil jy in die bondel skiet, of sal jy verkies om God se wil vir jou gebedslewe te vind, sodat elke gebed ‘n kolskoot sal wees wat jou lewe transformeer? Transformerende, doelgerigte gebed is die antwoord en is binne bereik van elkeen wat op die spoor daarvan wil kom.
Stuur ‘n e-pos aan Kobus by kobus.pokka@gmail.com of kontak my by jan@verslank.net vir meer inligting.
Saam in die strewe na daardie vrede wat die verstand te bowe gaan.
Jan Greeff
014 736 6676 / 084 548 3890