Glo ook aan gesondheid
Nuwejaarsvoornemens oor gewigbeheer
Die onderwerp by http://www.verslank.net/index.php?option=com_ content&task=view&id=200&Itemid=2 het gegaan oor die enigste volhoubare manier om nuwejaarsvoornemens, of enige nuwe voornemens te laat werk.
Hier probeer ons om dit op die gewilde onderwerp van die gesondheidsgesin, naamlik gewigbeheer of verslanking toe te pas.
Opsommend oor die genoemde nuusbrief:
Nuwe voornemens werk selde omdat ons onsself nie kan verander nie. Ons kan wel ons voorkoms verander, soos met grimering of die nuwe modegier, ‘n “makeover.”
Ons kan voorgee dat ons is wat ons nie is nie en dit so oortuigend doen dat baie mense dit sal glo. Ons innerlike mens-wees met al sy gesindhede en geite bly egter voortbestaan ongeag die uiterlike, tensy ons Skepper self intree.
Dit is soos wat dit is met ‘n pottebakker – die kleivoorwerp wat hy gemaak het kan homself nie verander nie. Net die pottebakker self kan die kleivoorwerp weer oprol en ‘n nuwe beeld daarvan maak.
Gaan na die Pottebakker met jou gewigprobleem
Indien jy vanjaar ‘n oplossing vir oorgewig en die probleme wat daarby verwant is wil vind, besef dan dat net die Pottebakker die beeld nuut kan oormaak. Die resep wat Hy vir jou gee is in Sy Woord.
Hieronder word telkens verwys na gedeeltes wat van toepassing is (daar is waarskynlik meer, laat my asseblief weet as jy hulle vind:)
Gen 1:29 Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees.
Breek die verkeerde gewoontes
Begin deur jouself los te maak van voedsel- en eetverslawings. Benewens die feit dat dit jou sal leer dat jy nie sal doodgaan as jy een dag per week of selfs heelwat langer sonder kos bly nie, word die gewoonte om te vas en te bid in die Bybel aanbeveel vir talle redes.
Kyk self na die volgende Skrifgedeeltes: Matt. 17:21; Mark. 9:29; Luk. 2:37; Hand.1 4:23; 1 Kor. 7:5.
Ander voordele van gereelde vastye word uiteengesit in ons vorige nuusbriewe oor die onderwerp, waarvan jy die eerste een hier kan lees: http://www.verslank.net/index.php?option=com_content&task =view&id=156&Itemid=2.
Die tweede aflewering volg direk na die eerste een in die webblad.
Eet die regte voedselsoorte
Hieroor kan ons niks byvoeg by die eetplanne by www.verslank.net nie. Lees die gedeelte in Daniël 1 om weer eens te besef hoe belangrik en voordelig ‘n dieet met groente as hoofkomponent vir jou liggaam is.
God wil jou gesond maak en gesond hou. Interessantheidshalwe, daar is nie sover my kennis strek iets in die Bybel oor verslanking nie, maar daar is wel heelwat oor gesondheid. Dit is ironies dat ek in my soeke na iets oor verslanking net afgekom het op ‘n gedeelte wat vet en gesond aan mekaar koppel.
Ons moet aflei dat die Handboek vir die Lewe gesondheid hoog aanslaan maar dit NIE noodwendig in verband bring met slankheid nie. Dit lyk dus of ons benadering by www.verslank.net om eerder op gesond leef as gewigverlies te fokus ook in lyn is met die riglyne wat die Skrif hieroor gee.
Die volgende is maar net etlike van die baie plekke waar die Bybel gesondheid en genesing aanspreek: (Dikwels word fisiese en geestelike genesing saamgegooi)
Spr 3:8; 4:22; 12:18; 16:24; 17:22
Jes 53:5; 58:8
Jer 30:17; 33:6
Mal 4:2
Luk 9:11
Hnd 4:22; 4:30
Op 22:2
Daar is ook talle plekke in die vier Evangelies, veral in Matteus en Lukas.
Lees totdat die plant groei en vrug dra
Begin om hierdie gedeeltes getrou, elke dag te lees en daaroor te bid. As jy klaar is, begin weer voor. Doen dit weer. En weer. Herhaal die proses soveel keer as wat nodig is, totdat die resultate in jou lewe sigbaar word en vrug dra.
Dit is dieselfde beginsel wat geld wanneer jy ‘n druiwestok in water inlê. Jy hou dit nat totdat dit wortel skiet. Dan plant jy dit in die grond en hou dit nat totdat dit sterk wortels ontwikkel, groei en vrugte dra. Dit SAL werk, eenvoudig omdat dit die Skepper se wil is dat dit moet werk, anders sou Hy dit nie so in sy Woord beskryf het nie. Al wat jy moet doen is om volhardend, elke dag, deurentyd by die water te bly TOTDAT die wortels groei, sterk word en die vrugte sigbaar word.
Gebruik ‘n konkordansie of ‘n Bybelprogram op jou rekenaar om nog plekke te vind waar die voorskrifte en riglyne vir jou gesond-leef doelwitte opgeteken is. As jy nie regkom nie, vra iemand wat meer kennis van die Bybel het om jou te help. Miskien sal jy nie maer word nie, maar dis belangrik om te aanvaar dat jou ongesonde vet as gevolg van ‘n gesonde leefstyl sal verdwyn.
Wat vol is het nie ruimte vir ander dinge nie
Jy sal nie deur selfdissipline, wilskrag of deursettingsvermoë regkry om gesond te leef nie. Die leuens van die vyand en die soetighede en lekkernye waarmee hy jou verlei is te sterk.
Die enigste manier om ontslae te raak van verkeerde eetgewoontes en ‘n ongesonde leefstyl is om seker te maak dat daar geen ruimte vir die dinge wat jy nie wil doen in jou lewe oorbly nie.
Dit beteken dat jy eerstens jou lewe en veral jou gedagtes so moet vul met positiewe Skrifgedeeltes oor gesonde gewoontes dat daar eenvoudig geen plek is vir die ongesonde dinge nie.
Wanneer jy die Here vertrou om Sy belofte oor Sy mag (gesondheid) wat in jou lewe tot stand sal kom waar te maak, glo en weet dat dit sal gebeur. Nie omdat jy so wonderlik is, goeie dissipline kan handhaaf of innerlik sterk is nie, maar omdat Hy wat jou liefhet en in jou woon reeds die oorwinning namens jou behaal het.
As jy vir lank genoeg naby genoeg aan die Here leef, moét Sy liefde en die positiewe eienskappe waarna jy streef in jou lewe posvat.
Dit werk soos enigiets wat aansteeklik is. Daar sal eenvoudig geen ruimte vir selfsugtige gewoontes en ongesonde dinge oorbly nie.
1. Begin om volhardend en met verwagting elke dag die gedeeltes oor gesondheid en vas en gebed te lees en oor jouself in gebed uit te spreek
2. Hou aan om elke dag die gedeeltes te lees en uit te spreek in die geloof dat elke belofte in die Woord waar is
3. Vestig die beeld van ‘n wingerdstok wat in water lê in jou gedagte – as dit droog word gaan die worteltjies dood maar solank dit in die water bly sal daar nuwe wortels vorm en groei sal volg
4. Hou so aan totdat die vrugte sigbaar word; dit SAL gebeur, soms neem dit net langer
5. Gee die eer aan die Here wanneer Sy beloftes in jou lewe waar word
Opsommend
Die Woord bevat die aller-antwoord vir jou oorgewigprobleme.
Maak vrede met hoe jy lyk en vergeet van verslanking.
Lees gereeld en volhardend, elke dag, die Skrifgedeeltes oor gesondheid en vas en gebed en spreek dit by elke geleentheid hoorbaar oor jouself uit
Hou aan totdat die vrug van die oplossing in jou lewe sigbaar word, totdat jy blakend gesond is en in vrede leef met wat jy het en hoe jy lyk in die wete dat die Here jou in elk geval liefhet en aanvaar net soos jy is
Gee die eer aan die Here vir die resultate deur voluit vir Hom te leef.