Glutenvry of graanvry – wat is die voor- en nadele?
Is glutenvry of graanvry bevorderlik vir beter gesondheid?
Baie mense voel werklik heelwat beter as hulle grane wat gluten bevat uit hul dieet weglaat.
Diegene wat aan Crohn se siekte, prikkelbare dermsindroom of FODMAP sensitiwiteit ly, ervaar dikwels verligting deur gluten te vermy. Skakel dit beslis uit as jy ‘n coeliakieprobleem het.
Die res van ons kan maar grane eet, selfs dié wat gluten bevat. Ons moet net in gedagte hou dat ons kultuur toelaat dat ons oor die algemeen heeltemaal te veel graanprodukte eet. Daar is ‘n wanbalans wanneer ontbyt uit roosterbrood of graankos bestaan, toebroodjies vir middagete ingepak word en pasta met aandete bedien word.
Dit is egter ‘n wanbegrip dat glutenvry as sulks gesond is. In die 80’s was vetvry die in-ding, maar die groter prentjie is dat glutenvry produkte soos brood, koekies, kraakbeskuitjies en pasta dikwels meer suiker bevat as die gewone glutenbevattende weergawes.
Heelgraan, veral wanneer dit nog volledig is soos by bessies, vorm ‘n wonderlik deel van ‘n gesonde dieet. Koringbessies bevat byvoorbeeld net soveel proteïn as quinoa (ongeveer 8 gram per koppie, gekook), sowel as B vitamines, dieetvesel, mangaan, selenium, fosfaat en magnesium. In geheel gesien is graan ‘n supervoedsel!