Hoe om te vas
Hoe om te vas
Die eerste deel het gegaan oor die redes waarom ons moet vas en bid en die fisiese en geestelike voordele wat dit vir ons inhou.
Vandag ‘n ietsie oor die praktyk: die hoe van vas en gebed.
Verskillende soorte van vas
Daar is drie soorte vas en die een is nie noodwendig beter as die ander nie. In al die gevalle kan die vastyd ook varieer. In hierdie artikel word hoofsaaklik aandag gegee aan die gewone tipe vas en korter vastye. Indien jy vir langer tye wil vas is dit raadsaam om eers deskundige advies in te win. Om langer te vas is nie noodwendig meer voordelig nie. Die belangrikste is om by die Here te hoor wat Hy wil hê jy moet doen.
1. Gewone vas
’n Gewone vas is om vir ’n periode (enigiets van 1-40 dae) geen vaste kos in te neem nie en net water te drink. Hierdie is die mees algemene vas en die korter weergawe daarvan (1 tot 3 dae) word hoofsaaklik in hierdie nuusbrief behandel en aanbeveel. As jy langer as drie dae wil vas is meer gespesialiseerde kennis nodig oor die beplanning, voorbereiding en afsluiting van die vastyd as wat ons hier kan behandel.
2. Algehele vas
‘n Algehele vas is om vir ’n periode (1-3 dae) geen kos en water in te neem nie. Dit moet beslis nie vir langer as drie dae gedoen word nie, behalwe as jy baie duidelike leiding van die Here het en dit ook met ander gelowiges bevestig het. Dit is ’n baie strawwe vorm van vas. ’n Algehele vas kan gevaarlik wees en moenie deur mense aangepak word wanneer hulle siek is nie en ook nie deur mense wat aan ’n kroniese mediese kwaal ly nie.
3. Gedeeltelike vas
’n Gedeeltelike vas is om vir ’n periode sekere kossoorte uit te skakel. Dit word dikwels ook ’n Daniël-vas genoem, na aanleiding van Daniël wat vir twee dae droë brood geëet en water gedrink het. In sommige gevalle gaan mense op ’n groente-vas of iets dergeliks, maar dit kan ook vermyding van ander dinge soos sjokolade, of selfs TV of enigiets anders wat verslawend kan wees insluit.
Die beginsel is dat dit ’n element van opoffering bevat.
Voorbereiding en beplanning
Berei jouself sielkundig sowel as fisies voor. Besluit biddend en saam met jou huismense watter dag die beste sal wees. As jy nog nie voorheen gevas het nie, slaan net eers een maaltyd oor. Die volgende week twee, en dan drie. As jy gemaklik genoeg met die konsep is, kan jy begin deur drie maaltye oor te slaan. Moenie probeer wetties of te hard op jouself wees nie en besluit vooraf wanneer en vir hoe lank, maar aanvanklik nie vir langer as drie maaltye nie.
Dit gaan meer oor jou gesindheid van oorgawe aan God as oor hoedat jy by jou program hou, so as jy besluit op twee dae en na ‘n dag opgee is dit nie die einde van die wêreld nie. As jy per ongeluk iets eet, aanvaar dit met dank in die naam van Jesus en gaan rustig aan met jou vas.
Vas is ‘n voorreg, nie ‘n straf nie. Dit beteken nie verhongering nie maar eerder weerhouding. Dink aan al die wonderlike voordele (kyk die vorige nuusbrief), aan hoe lief jy die Here het en hoe graag jy Hom met groter oorgawe wil dien.
In hierdie staduim beveel ek ‘n eendag vas eenmaal per week en ‘n driedag vas tweemaal per jaar aan. Alhoewel dit slegs riglyne bly, en nie die wet van Mede en Perse is nie, hou ‘n gereelde dissipline jou geestelik en fisies gefokus.
Indien die Heilige Gees jou van tyd tot tyd wys dat jy vir ‘n bepaalde doel en vir ‘n spesifieke tyd moet vas, doen dit dan in gehoorsaamheid en met vreugdevolle oorgawe.
Wanneer jy besef dat kort vastye jou nie doodmaak nie maar in werklikheid in baie opsigte help, sal dit gaandeweg makliker word om vir langer tye aan te hou. Hou hierdie wenke in gedagte:
• Drink baie water terwyl jy vas
• Konsentreer vir ‘n dag of twee voor die tyd op natuurlike kosse wat maklik verteer, soos vars vrugte en groente
• Gebruik vooraf ‘n goeie gehalte kruiemiddel vir reiniging van jou dikderm as jy voel dat jy dit nodig het
• Lees Jesaja 58 tydens elke vastyd
• Bad of stort sodat jy die uitgeskeide toksiese stowwe van jou vel af kan verwyder, maar vermy oordadigheid soos ‘n warm jacuzzi of sauna
• Drink warm water as jy koud voel
• Vermy vitamines, alkohol, tee, koffie, koeldranke en medikasie in jou vastyd en moet nie rook nie
• Newe-effekte bevestig hoe belangrik dit vir jou is om te vas. Hou aan ten spyte daarvan. As die probleme te erg raak, gaan af van die vas en moet NIE medikasie vir die probleem neem voordat jy weer normaal begin eet het nie
• As jy besluit op ‘n 24 uur vas, hou in die aand na ses op om te eet
• Eet niks en drink net water gedurende die volgende dag
• Moenie jouself versoek deur te gaan kyk wat is in die kombuis of in die koelkas nie
• Doen ligte oefening tydens jou vas, dit help jou om goed asem te haal en met die reinigingsproses
• Kry genoeg rus. Jy hoef nie weg te bly van jou werk nie, maar kry genoeg slaap, probeer tussenin ‘n slapie inkry en probeer op dae vas wanneer jou werklading ligter is
• Vermy kookboeke of tydskrifte met illustrasies van watertand geregte
• Eet na ses die volgende dag ‘n vrugteslaai of ‘n groenteslaai of ‘n lig-gekookte aartappel en ‘n gestoofde groente. As jy iets meer eet, soos vleis of kaas, hou dit baie matig
• Moet NOOIT jou vastyd eindig met gemorskos of deur te veel te eet nie
Uitskeiding van toksiese stowwe
Die vasproses ontsluit gifstowwe in jou liggaam en jy sal tekens van uitskeiding hiervan ervaar.
‘n Lagie op jou tong, hoofpyn, naarheid, gevoel van swakheid, dronkerigheid of lighoofdigheid, versteurde slaap, kouerigheid, krampe en verkouesimptome is alles tekens dat jou liggaam van gifstowwe ontslae raak en wat bevestig hoe nodig jy die vastyd het.
Indien hierdie tipe simptome te lastig word, drink ‘n bietjie vars vrugtesap met water verdun. Een deel vrugtesap met drie dele water sal jou deur die moeilike tye help. Groentesop is ook ‘n uitstekende oplossing.
Dit is alles deel van ‘n proses om jou gesondheid te verbeter en hoe gesonder jy word hoe makliker sal jou vastye word.
Hongerpyne
Onthou dat hongerpyne eerder spruit uit ‘n gewoonte om te kou en te proe as wat dit ‘n behoefte aan voedingstowwe aandui. Die smaakorgane skree net vir opwinding en die maag grom vir aandag, maar jou liggaam het genoeg reserwes van voeding in hom om jou vir dae en weke aan die gang te hou. Met langer vastye verdwyn die honger die tweede of derde dag en sommige mense het min probleme met hongerpyne van die begin af.
Die belangrike is dat jy jou versoeking om sjokolade en lekkernye te eet sal ontgroei. Jy sal eerder hunker na ‘n vrug of groente, maar as jy jouself voor die tyd met onthoudingsdieëte uitgehonger het gaan jy sukkel. Jy moet vooraf gesond, gedissiplineerd en met wysheid eet.
Drink water en bid as die honger erg word. As dit nie help nie, drink water met ‘n bietjie suurlemoensap in.
Gee aandag aan lang en aanhoudende hunkerings na sekere kossoorte terwyl jy vas. Dit kan ‘n aanduiding wees van kossoorte waarmee jy jou liggaam oorlaai het en waarvoor jy ‘n sensitiwiteit of selfs ‘n allergie ontwikkel het.
Hoe om versoeking te weerstaan
Dit kan moeilik wees om te vas omdat saam eet ‘n gewilde sosiale aktiwiteit is. Jy hoef egter nie weg te bly nie, maar voel vry om aan die groep te verduidelik waarmee jy besig is en waarom. Dit is ‘n getuienis, dit versterk jou innerlik en as die groep vir jou omgee sal hulle jou ondersteun. Jou teenwoordigheid terwyl hulle eet, jou ooglopende vreugde in wat jy doen en die feit dat dit jou nie hinder om nie te eet nie sal meebring dat hulle jou selfdissipline bewonder.
Om te vas is soms moeiliker as ander tye. Dit is gewoonlik moeiliker nadat jy jou liggaam voor die tyd aan swak gebruike blootgestel het. Verkeerd eet, te min oefening, te min slaap of te veel stres kan bydra tot moeilike vastye. Motiveer jouself met hierdie gedagtes om jou deur die moeilike tye te help:
• ek vas in gehoorsaamheid aan God
• ek vas om die juk van verslawing te breek
• ek vas om meer van God se krag in my lewe te laat werk
• die spesiale sake waarvoor ek tydens die vas bid is meer as die moeite werd
• die fisiese reiniging, genesing en verjonging wat deur vas bewerk word regverdig die kort tyd van onthouding oor en oor
• daar is tans groter dinge as om te eet wat in my lewe moet plaasvind
• om nou kos te eet sal minder bevredigend wees as om die vas te voltooi
• ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee – Filippense 4:13
Leuens om te verwerp terwyl jy vas
• die beslommernis is nie die moeite werd nie
• al wat hierdie vas doen is om my misrabel te laat voel
• my hoofpyn en swakheid moet ‘n teken van God wees dat ek moet ophou
• niemand anders martel hulleself so nie
• niemand anders vas nie so niemand sal weet as ek ophou nie
• ek doen genoeg vir my gesondheid en geloof, ek kan hierdie een maar weglaat
• sommige mense is geroepe om te vas, ek nie
• ek bereik niks hiermee nie, kan dit net sowel laat vaar
Wat om te doen as jy in die versoeking kom om te eet
• verlaat so gou as moontlik die kombuis
• lees die Woord, veral Jesaja 58
• drink warm water met suurlemoensap, kruietee of groentesop
• bepaal jou aandag by ‘n projek wat jy geniet (behalwe as dit is om kos te maak…)
• gaan lê en slaap vir ‘n rukkie
• gaan stap ‘n ent
• ruim jou hangkas op
• as niks anders werk nie, trek jou klere uit en kyk in die spieël na jou heupe…
Die moenies van vas
Johannes Calvyn het by geleentheid gese: “Allereers moet altyd beklemtoon word wat Joël (Joël 2:13) leer. Hy sê naamlik dat die harte geskeur moet word en nie die klere nie. Dit wil sê die herders moet die volk waarsku dat vas op sigself nie deur God as van baie waarde geag word nie. Daarby moet ’n innerlike gesindheid van die hart kom. Daar moet ’n ware misnoeë wees oor die sonde, ’n ware verootmoediging en ’n ware droefheid uit godvresendheid. Vir ’n tweede kwaad wat hiermee verband hou, moet ’n mens erg op jou hoede wees. Vas moet nie as ’n
verdienstelike werk of ’n soort godsdiens beskou word nie.”
Dus kan ons sê:
• moenie vas om God se seëninge te probeer verdien nie
• vas is nie ’n plaasvervanger vir gehoorsaamheid nie
• moenie vas om ander te beïndruk nie
• moenie dat vas net ’n uiterlike vorm word nie
• moenie dat vas ’n nuwe wet in jou lewe word nie
Vir verdere studie
Hierdie is slegs breë riglyne. Laat my weet as jy meer intensief op die geestelike aspekte wil ingaan, dan stuur ek vir jou ‘n e-boek oor die krag van vas en gebed deur Bennie Mostert en Peet Grobbelaar. Dit bevat ook inligting oor bykomende leesstof vir verdere studie.
Indien jy meer op die fisiese gesondheidsvoordele wil ingaan, kry die boek van Stormie Omartian getiteld “Greater Health God’s Way” wat 7 stappe tot innerlike en uiterlike skoonheid behandel.
Met erkenning aan Bennie Mostert, Peet Grobbelaar en Stormie Omartian
Kyk ook deel 3: Hoe om ‘n vastyd te beëindig
Hoe jy afsluit is net so belangrik as die vas self. Jy kan alles verydel deur op ‘n verkeerde manier weer te begin eet. Maak dus seker dat jy presies weet hoedat jy jou tyd van vas gaan afsluit.
(Klik links bo by “Afsluiting van vastye” om direk na Deel 3 te gaan)