Is gaar of rou voedsel beter? Deel 1
Heilsame voedselvoorbereiding: eerder gaar of rou?
Deel 1 van 2
Soms kan onduidelikhede ontstaan oor die definisie van rou voedsel en oor hoedat jy dit in jou dieet kan insluit.
Die nuanse van rou teenoor gaar word nie altyd reg verstaan nie. Om eenvoudig te vra of jy ‘n bepaalde soort groente moet kook of rou moet eet is om ‘n redelik ingewikkelde saak te oorvereenvoudig. Dit gaan in werklikheid oor veel meer as net groente en vrugte. Byvoorbeeld, vrae oor rou vleis, vis en suiwel en die vergelyking van voor- en nadele moet ook aandag geniet.
Die gehalte van sommige nutriënte word deur die gaarmaakproses verbeter, die meeste word vernietig. Wanneer die kwessie van rou of gaar kos ter sprake kom, moet aandag gegee word aan die effek van kook aldan nie op aspekte soos:
Patogene
Voordelige bakterieë
Nutriënte
Ensieme
Denaturalisering van proteïne
Verteerbaarheid en assimilasie
Lewenskrag
Daar is heelwat bronne waaruit jy kan leer hoe om rou kos te eet. Hier wil ons eerder kyk na die voor- en nadele aan beide kante sodat jy self kan besluit of die verhouding tussen rou en gaar kosse in jou dieet verander behoort te word.
Wat word met ‘n rou-voedseldieet bedoel?
Jy word ge-ag op ‘n rou voedsel-dieet te wees indien 70% of meer van jou dieet uit ongekookte, ongeprosesseerde organiese voedsel bestaan. Rouvoediste glo oor die algemeen dat meer rou kos altyd groter gesondheidsvoordele inhou. So ‘n oortuiging is egter debatteerbaar.
Rou kos word dikwels met ‘n vegetariese dieet verwar. Daar bestaan geen verbintenis nie, behalwe vir die feit dat die meerderheid rouvoediste ook vegetariërs is. Sommige rouvoediste se dieet bestaan egter in hoofsaak uit vetterige vleis, orgaanvleis en suiwel.
Daar bestaan meer van ‘n delikate gradeverskil in die voordele verbonde aan ‘n rou voedseldieet as eenvoudig “rou kos – goed” en “gaar kos – sleg”. Net soos wat ‘n vegetariese dieet nie noodwendig as sulks gesonder is nie, geld dit ook vir ‘n rouvoedseldieet. Dink aan groenteburgers of ‘n uiteet-aand by ‘n Indiese restaurant. Smaaklik, maar nie noodwendig gesond nie.
Dit is maklik om vegetariese maaltye uit enigiets soos olieryk, onverteerbare, hoëvet, hoë glisemie en dieetkundig-gesproke dooie voedsel voor te berei. Selfs ‘n suiwer vegetariese dieet is nie noodwendig gesond nie. Dieselfde geld vir rou voedsel, alhoewel die algemene tendens is dat dit van hoër orde kan wees as gekookte kos.
Met dit as agtergrond word enkele sleutelvraagstukke wat die gesondheidsvoordele van rou kos betref bespreek.
Patogene en rou voedsel
Een van die sleutelvraagstukke by rou voedsel is sekerlik dié van patogene.
Ons onthou goed die salmonella-paniek verbonde aan rou grondbone, grondboontjiebotter en rooibos tee. Dan was daar in 2006 die bohaai oor organiese spinasie, wortelsap en blaarslaaisap. En wie sal maklik vergeet van die onthulling, in die laat 1980’s, dat ongekraakte eiers ook besmet kan wees? Dat besmetting gedurende ovulasie kan plaasvind, wat beteken dat die eiers van binne besmet kan word? Nog ‘n voorbeeld is die VSA wetgewing wat vereis dat alle amandels gepasteuriseer moet word om salmonella uitbrake te verhoed.
Met so ‘n aanslag van gruwel-verhale sowel as veldtogte van die voedselbedryf wat die voordele van voedselbestraling bevorder sal slegs waansinniges nog rou kos wil eet. Of hoe?
Die waarheid is dat die kwessie van voedselkontaminasie en die patologiese gevare verbonde aan die eet van rou kos nie so ‘n uitgemaakte saak is as wat die pers dikwels probeer voorhou nie. Dit gaan ook nie net oor rou groente nie. Dit is heel moontlik om elke dag rou vleis, vis en suiwel te eet sonder om enige bakteriese probleme op te doen. Mense doen dit.
Die outeur van Primal Diet, Aajonus Vonderplanitz, beveel ‘n totale rou voedseldieet aan wat uit vetterige vleis, orgaanvleis, suiwel en heuning bestaan, met rou vrugte- en groentesappe daarby. Daar is duisende mense regoor die wereld wat sy dieet volg. Hoe is dit moontlik dat hulle nie siek word nie? Volgens Vonderplanitz is patogene onvermydelik, hulle is altyd oral rondom ons. Dit is dus onmoontlik om blootstelling aan patogene te vermy. Hulle is net te alomteenwoordig. Dit is egter baie belangrik om te verstaan dat dit nie wenslik of selfs gesond is om hulle te vermy nie.
Ja, jy het reg gelees. Vonderplanitz se teorie is dat selfs indien rou kossoorte wemel van die bakterieë, dit uiters gesond is om ‘n dieet te volg wat ryk is aan sulke rou voedsel. Hy bewys dit deur te verwys na gemeenskappe wat bakteriebelaaide kosse vir geneesmiddels en vir siektevoorkoming aanwend. Die Sjinese eet byvoorbeeld verrotte eiers en die Eskimos eet verrotte vis. Ongeveer 20 000 mense volg ook sy dieet met uitstekende resultate en bykans geen voedselvergiftiging nie.
Sy argument oortuig my nie, maar miskien is dit net te radikaal vir my ervaringsveld. Ek aanvaar egter die feit dat ‘n rou dieet talle voordele inhou wat in die meeste gevalle die risikos oorweldigend vêr oorskry. Jy kan byvoorbeeld geweldige gesondheidsrisikos loop indien jy geen rou kos eet nie: een van die primêre vereistes van die immuniteitsisteem is dat dit gedurigdeur aan lae patogeenvlakke blootgestel moet word. Hierdie blootstelling sorg dat die immuniteit “leer” hoe om ernstige aanslae van dieselfde patogene die hoof te bied. Sonder hierdie gereelde oefening sal jou immuniteitsisteem geen geheue van die patogene opbou nie en kan dit nie doeltreffend op bedreigings reageer nie.
Een van die groot voordele van blootstelling aan lae patogeenvlakke in rou voedsel is derhalwe die feit dat dit die liggaam in staat stel om later meer ernstige aanslae deur patogene af te weer. Sonder hierdie voortdurende oefening, is jou liggaam baie meer vatbaar en kan dit later deur salmonella, E. coli, listeria, ens. in besoedelde kos oorval word.
Die slotsom
Indien jy gedurigdeur probeer om blootstelling aan patogene in jou voedsel te vermy maak jy jouself eenvoudig meer kwesbaar vir die tye wanneer jy aan sterk aanslae deur dieselfde patogene blootgestel word.
Terloops wil ek noem dat alhoewel talle mense gesondheidsvoordele uit Aajonus se “Primal Diet” put, daar probleme met hierdie dieet kan wees. Alhoewel talle mense kort nadat hulle daarmee begin dramatiese gesondheidsvoordele geniet, sal ‘n dieet wat so ryk is aan vleis, orgaanvleis en suiwel (selfs al is dit in rou vorm) heelwaarskynlik tot hoë suurvorming lei wat die liggaam se pH afwaarts sal forseer.
Aajonus noem die Eskimo dieet as bewys van die doeltreffendheid van sy “Primal Diet”. Dit is waar dat Eskimos op hulle tradisionele dieet byna geen gevalle van kardiovaskulêre siekte en voedselvergiftiging opdoen nie, maar osteoporose is by hulle meer algemeen as op byna enige plek ter wêreld – ‘n direkte gevolg van die hoë suurvormingseienskappe van die dieet wat hulle volg.
My persoonlike voorkeur lê by vegetariese kosse bo diereproteïn as dit by rou kossoorte kom.
Voordelige bakterieë en rou kos
Daar was tye toe die mens voortdurend aan voordelige bakterieë blootgestel is. Ons het gereeld gefermenteerde kosse soos sauerkraut, verouderde beesvleis en regte jogurt ge-eet. Danksy moderne voedselprosessering gebeur dit nie meer nie.
Wat egter selfs belangriker is, is die feit dat ons gedurigdeur aan grondgebaseerde bakterieë blootgestel was. Dit was deel van die vars groente en vrugte wat uit die tuin gekom het. Dink net aan hoeveel lekker heilsame kieme met daardie wortel saam uit die grond gekom het – selfs nadat jy dit afgespoel het. En wat van daardie heerlike aarbeie wat jy direk van die plant in jou mond gestop het? Deesdae vereis gesondheidswette dat daardie selfde wortels en aarbeie, nadat dit ge-oes is, in gechlorineerde water gewas moet word om al die kieme te verwyder. Indien hulle nog die chloorbad oorleef sal hulle beslis nie die hitte van prosessering en kook oorleef nie.
Kweek jou eie gewasse
Organiese rou voedsel wat jy self kweek, bevat steeds die voordelige bakterieë. Benewens die swak ekonomie, duur voedselpryse en dreigende verlengde kragonderbrekings is dit net nog ‘n baie goeie rede om jou eie groente en vrugte te kweek.
Lees ook deel 2:
Rou kossoorte en ensieme
Proteïne deur hitte gedenatureer
Is denaturering goed of sleg?
Kook bevoordeel en benadeel voedsel
Kook verbeter verteerbaarheid (oepsie!)
Rou kos bevat meer lewenskrag
Wat is beter: rou of gekook?
en… die werklike rede vir die vetsug-epidemie: http://verslank.net/is-gaar-of-rou-voedsel-beter-deel-2/