Jou denke kan jou siek maak

Dink jouself siek of gesond

Mediese navorsing bewys reeds vir meer as 50 jaar dat die verstand die liggaam kan genees. Dit word “die placebo effek” genoem. Wanneer pasiënte in kliniese toetse niks meer nie as suikerpille, soutinspuitings of skynsjirurgie ontvang glo hulle dat hulle een of ander wondermiddel kry en hulle gesondheid verbeter in 18% tot 80% van die gevalle.

Die skynbaar geheimsinnige placebo effek is redelik bekend, maar minder mense weet van sy bose tweeling, “die nocebo effek.” Daar is goeie rede om te glo dat jy jouself kan genees as jy dink dat jy kan. Dit werk selfs beter as ‘n geneser saamwerk wat die liggaam se natuurlike self-genesende meganismes kan aktiveer.

Maar is die teenoorgestelde ook waar? Doen negatiewe oortuigings oor ons gesondheid of swak sorg deur onsensitiewe dokters nie ook skade aan die liggaam nie? Blykbaar wel!

Skadelike oortuigings vergiftig jou liggaam

Volgens ‘n artikel in The Lancet, het navorsers in San Diego die doodrekords van byna 30 000 Chinese-Amerikaners ondersoek en hulle vergelyk met dié van meer as 400 000 lukraak-gekose blankes. Daar is bevind dat die Chinese-Amerikaners tot soveel as vyf jaar vroeër as normaal sterf indien hulle ‘n kombinasie het van ‘n siekte en geboortejaar wat deur Chinese astrologie en Chinese geneeskunde as nadelig bestempel word. Dit gebeur nie by die blankes nie.

Die navorsers het bevind dat hoe sterker die Chinese-Amerikaners die tradisionele Chinese bygelowe aanhang, hoe vroeër sterf hulle. Daar is bevind dat die afname in lewensverwagting nie deur genetiese faktore, leefstylkeuses of gedrag van die pasiënte, die vaardigheid van die dokters, of enige ander veranderlike verklaar kon word nie.

Waarom het die Chinese-Amerikaners vroeër gesterf?

Die navorsers het bevind dat hulle nie vroeër gesterf het omdat hulle Chinese gene het nie, maar omdat hulle Chinese oortuigings huldig. Hulle glo dat hulle vroeër sal sterf omdat die sterre so voorspel. Hierdie negatiewe oortuigings het hulle lewensduur verkort.

Dit is nie net Chinese Amerikaners wie se vrese oor hul gesondheid ‘n negatiewe invloed op hulle lewens uitoefen nie. Een studie het getoon dat 79% van mediese studente simptome aanmeld wat verband hou met die siektes wat hulle bestudeer. Hulle word paranoïes en dink dat hulle sal siek word, dan reageer hulle liggame deur siek te word.

‘n Eerstejaar mediese student vertel dat hy tydens lang ure en middernagtelike studies van die talle maniere waarop die liggaam amok kan maak, besig was met memorisering van die lang lys van patologiese prosesse wat kan lei tot duisende verskillende siektes.

Skielik was sy hartklop 230 en het hy besef dat wat hy gevrees het toe hy lees oor hartritmestoornisse, eintlik besig was om met hom te gebeur. Sy behandelende geneesheer het ‘n EKG gedoen en sy mede-studente het “supraventrikulêre tagikardie” gediagnoseer. Hy het vir ‘n jaar lank aan hartkloppings gely.

Dit was ook nie net hy nie. Die studente-gesondheidskliniek was skynbaar nie verbaas oor die studente se selfdiagnosering van bisarre klagtes en ‘n rits vreemde simptome nie. Die dokters en verpleegpersoneel by die klinieke was gewoond aan soortgelyke klagtes uit jare se ervaring met mediese studente. Hulle het selfs vir die sindroom ‘n naam gegee: “medstudentitis,” of meer formeel, “mediese student siekte.”

Jy kan jouself siek dink

Indien jy jou gedagtes met negatiewe idees oor jou vatbaarheid vir siekte vul sal jy jou liggaam onnodig aan siekte blootstel. Dit maak nie saak of jy ‘n Chinese-Amerikaner, ‘n mediese student of iemand soos Angelina Jolie is wat deur middel van ‘n swak prognose of ‘n hoë risiko van siekte of dood beïnvloed is nie. Selfs al is jy net iemand wie se onderbewussyn gevul is met beperkende oortuigings uit jou kinderjare soos “ek is die sieklike tipe” of “my familie kry kanker,” is dit wetenskaplik bewys dat jy jou liggaam meer vatbaar vir siektes maak indien jy jou aandag fokus op siekte. Oormatige kennis oor wat verkeerd kan gaan met die liggaam kan skade doen. Hoe meer jou aandag vasgevang word deur die oneindige maniere waarop die liggaam kan afbreek, hoe meer waarskynlik is dit dat jy fisiese simptome sal ervaar.

Terwyl die placebo effek die krag van positiewe denke, verwagtinge, hoop en koesterende sorg demonstreer, illustreer die nocebo effek die fisiologiese effekte van negatiwiteit, ongeloof, vrees, angs en wat Martin Seligman “aangeleerde hulpeloosheid” noem.

Hierdie negatiewe emosies aktiveer die amigdala in die limbiese brein om ‘n noodwaarskuwing uit te stuur wat die “veg-of-vlug” stresreaksie aktiveer. In die boek “Mind Over Medicine” word in besonderhede beskryf hoedat die liggaam se self-herstel meganismes nie behoorlik funksioneer wanneer die senuweestelsel in die “veg-of-vlug” fase verkeer nie. Dan is die liggaam baie vatbaar vir siektes, en dit net omdat jy jouself siek gedink het.

Hoe lank, glo jy, sal jy leef?

Die goeie nuus is dat jy jou gesondheidstestand kan verander deur eenvoudig jou gedagtes te verander! Becca Levy het ‘n studie gedoen oor die invloed wat ons oortuigings oor langlewendheid uitoefen op hoe lank ons leef. Wat het sy bevind? Diegene wat die langste leef, is diegene wat glo dat hulle lank sal leef.

Positiewe ingesteldheid is natuurlik nie die enigste faktor nie. Ongelukke en genetiese risikofaktore beïnvloed ook ons lewensduur. Slegte dinge gebeur met goeie mense, selfs met diegene met positiewe gedagtes. Die studies toon egter dat, selfs in die lig van hierdie dinge wat ons nie altyd kan verhoed nie, dit wat ons glo en veral dit wat ons vrees, ‘n neiging het om as werklikheid te manifesteer. Negatiewe oortuigings vul ons liggame met skadelike kortisol en adrenalien, terwyl positiewe oortuigings ons senuweestelsels laat ontspan en daartoe bydra dat ons liggame gesond bly.

Jy is die hekwag van jou gedagtes

Jy sal nie ‘n pil uit ‘n bottel met ‘n skedel en beendere daarop neem nie, maar elke keer wanneer jy negatiewe gedagtes oor jou gesondheid koester, is jy besig om jou liggaam met streshormone te vergiftig. Dit deaktiveer jou liggaam se natuurlike self-herstel meganismes. Jy is die hekwagter van jou gees, en dit is jou verantwoordelikheid om jouself te beskerm teen wat jy dink.

Hoe dink jy oor jou liggaam? Dis vir jou om te besluit!

You may also like...