Jou kinders en die 100-jaar effek – die meeste van hulle gaan vroeër as hul ouers sterf

Volgens Kent Thornburg van die Universiteit van Portland, VSA kan en moet ons kroniese siektes uitroei, veral ter wille van die gesondheid van ons kinders en hul nageslag.

Hy wys daarop dat die gemiddelde lewensverwagting in die jaar 1910 slegs 50 jaar was. Dit het in die daaropvolgende 100 jaar gestyg tot 80 jaar in 2010. Die kurwe is konstant, wat beteken dat as niks verander nie, daar oor die volgende 100 jaar nog 30 jaar bygevoeg sou kon word om ‘n gemiddelde lewensverwagting van 110 jaar te behaal.

Daar is egter ‘n probleem. In die afgelope 25 jaar is daar ‘n afname wat hoofsaaklik jonger mense se lewensverwagting betref. Die ontstellende feit is dat die hedendaagse jonger geslag vir die eerste keer in meer as 100 jaar vroeër as hulle ouers sal sterf. Aangesien die meeste sterftes in hierdie jeugdige kategorie nog moet plaasvind, dui die statistiek tans nog nie die tendens aan nie. Die mediese feite staaf egter dat die skrif reeds aan die muur is.

Hierdie ommeswaai word toegeskryf aan verhoogde vetsug en gepaardgaande diabetes. Die hoofoorsaak hiervoor is waarskynlik die feit dat die jeug van vandag die derde generasie is wat geprosesseerde kos eet.

Hoedat jy voor geboorte groei maak ‘n verskil

Kinders wat by geboorte minder as 2,3 kg weeg se risiko om hartsiektes te ontwikkel sal lewenslank 3 tot 5 keer hoër as gemiddeld wees vanweë voorgeboortelike ondervoeding. Babas van 4,2 kg of meer se risiko sal ook 3 tot 5 keer hoër wees as gevolg van swak glukosebeheer deur hul moeders.

Hierdie nadelige gevolge word oor drie generasies oorgedra. Beide jou ouma en oupa sowel as jou ouers se eetgewoontes beïnvloed jou vatbaarheid vir hartsiektes. Dit is ‘n vasgelegde genetiese kode waarvan slegs ‘n gedeelte voor geboorte verander kan word.

In 1960 was 1 uit 100 van die bevolking diabete.

In 1995 het dit toegeneem na 1 in 50.

In 2015 was dit 1 in 8. Indien niks verander nie sal dit teen 2050 1 in 3 wees.

Soveel as 70% van hierdie diabete sal aan hartsiektes ly. Dit is ‘n ekonomies onbekostigbare en sosiaal onaanvaarbare toedrag van sake.

Die probleem sal dadelik begin om reg te kom vir elkeen wat geprosesseerde kos uitskakel en in die plek daarvan organies-gekweekte groente, vrugte, bone, neute, heelgraan en vis eet of, indien organies nie bekombaar is nie, so ‘n dieet met die mees moderne, tegnologies-aanvaarbare aanvullers in voedselvorm, verryk.

Hou asb van ons Facebookblad: Klik hier

You may also like...