Kies geluk

Kies self om gelukkig, gesond en vervuld te wees

Goeie en goedbedoelde wense vir ‘n geseënde en voorspoedige jaar is teen elke jaar-einde volop. Ek wil egter graag probeer om vir jou iets te gee wat jou daadwerklik gaan help om in die komende jaar en jare gesonder en gelukkiger te wees.

Dit begin by jou belangrikste keuse: wie is in beheer van jou lewe. Jesus, één met ons liefdevolle Hemelse Vader, het gekom sodat ons lewe in oorvloed kan hê (Joh. 10:10).

Het jy al mooi gedink wat dit alles beteken? Dat dit in werklikheid beteken dat ALS wat jy nodig het om gesond, gelukkig, slank, suksesvol, liefdevol, geduldig en al die ander mooi dinge te wees, reeds volbring is. Hy het alles reeds gedoen wat nodig is om jou te verseker dat alle goeie dinge in oorvloed aan jou beskikbaar is.

Omdat Sy wese liefde is, is Sy naam sinoniem met liefde. Liefde verdryf vrees uit ons lewens. Dit is net vrees (die afwesigheid van Liefde) wat meebring dat ons die pad na geluk en alles wat daarmee saamgaan byster raak, of die pad gladnie vind nie.

Vrees (die afwesigheid van Liefde) bring twyfel, ongeloof, onenigheid, twis, jaloesie, ongehoorsaamheid en al die ander negatiewe dinge wat ongelukkigheid veroorsaak.

As jy Hom toelaat om jou lewe met Sy liefde te vul, bly daar geen ruimte vir die negatiewe dinge waaraan Hy geen deel het nie. Dan sal jy Sy wil soek en doen in alles wat jy aanpak, hetsy in jou dieet, werk, verhoudingslewe, sport en ontspanning, ja in ALLES wat jy doen.

Dis JOU keuse.

You may also like...