Kinderlose egpare

Kinderlose Egpare

Daar is baie meer mense wat kinderloos is as wat ons vermoed. Dit is normaalweg uiters traumaties, ongeag of die probleem by die man of die vrou lê. Sommige voel dat God hulle straf, ander dat hulle nie waardig is om kinders groot te kan maak nie, dat hulle mislukkings is of dat daar iewers sonde in hulle lewens is wat verhinder dat God hulle seën.

Dit is onmoontlik om ‘n antwoord op al die vrae te gee. Tog is daar riglyne wat ons kan aanspoor om met geloof vir sulke paartjies te bid. God belowe in Sy woord dat Hy gebed beantwoord. Hier volg ‘n aantal riglyne vir kinderlose paartjies:

Maak seker van julle verhouding met die Here. Lewe julle in ‘n lewende verhouding met Jesus Christus? God is heel eerste geïnteresseerd in julle verhouding met Hom. Al die ander dinge vloei daaruit voort. Moenie vinnig oor hierdie saak gaan nie. Maak seker.
Hanteer elke vorm van sonde. Moenie gaan soek vir sonde nie, maar vra die Here of daar enige iets is wat Hom hinder. Vra die Heilige Gees om te wys of daar iets tussen julle en die Here staan. God veroordeel nie, Hy is genadig en wil vergewe en ons van sonde reinig.

Baie paartjies wat kinderloos is dink hulle het een of ander sonde gedoen. Daarom dink hulle straf die Here hulle en/of Hy wil nie vir hulle sê wat hulle verkeerd gedoen het nie. Gaan dink oor hoe jy God sien: sien jy Hom as ‘n Vader wat wag dat jy iets verkeerd doen sodat Hy jou kan straf? Of dalk as ‘n Vader wat onwillig is om jou te help en nou moet jy smeek en pleit dat Hy van plan sal verander – dat jy deur gebed Sy onwilligheid moet oorkom?

Beide van julle moet tyd neem en gaan neerskryf wat julle emosies rondom God is, hoe julle oor Hom dink of oor Hom voel. Wees eerlik daaroor – God weet in elk geval wat julle dink en beleef. Sê dit dan vir Hom en vra Hom om julle denke en emosies in lyn te bring met hoe Hy werklik is. Sien julle Hom as ‘n Vader van liefde (regtig liefde), wat onvoorwaardelik liefhet, ‘n Vader wat goed is, ‘n Vader wat genadig is en ‘n Vader wat vergewe? Dit bepaal hoe julle gaan bid.

Bid met vrymoedigheid, vra Hom vir ‘n kind. Glo in God en glo God. Dit beteken: “Here ons vra U vir ‘n kind. Vir U is alles moontlik.”
Dit beteken ook: “Here, laat U wil geskied. U weë is nie ons weë nie. Wat U besluit is reg. Ons onderwerp ons aan U wil, maar ons vra ook met vrymoedigheid want U is ons Vader.” Daar kan redes wees waarom God nie toelaat dat julle kinders kan hê nie, maar dan moet julle verstaan dit is nie noodwendig omdat God julle straf of omdat God julle minag nie.

Moenie mekaar veroordeel as niks gebeur nie. Moenie dat dit ‘n wig tussen julle indryf nie. Moenie jouself veroordeel as die fout by jou lê nie. Meestal is dit vir mans moeiliker as hulle weet die “fout” is by hulle. Dit tas hulle manlikheid aan en dit lei dikwels tot ‘n swak selfbeeld en allerlei onnodige afleidings en emosies. Vrouens beleef dit anders. Daarom moet beide van julle hierdie emosies probeer verwoord en dan daaroor bid.
Leef in vreugde en hoop. God is goed en God is getrou en God is steeds almagtig en in beheer al sou daar nooit ‘n baba wees nie. Moenie toelaat dat die duiwel julle vreugde steel nie en moenie onder sy veroordeling en beskuldigings leef nie.

Vra die Here wat Hy vir julle wil sê oor die situasie. Luister mooi. Soms kan ons so ingestel wees om net te vra en met God te worstel dat Hy ‘n baba moet gee, dat ons nie mooi luister wat Hy in die situasie wil sê nie.

Okkultisme

Indien julle ouers of julleself by okkultiese aktiwiteite betrokke was, is dit raadsaam om saam met iemand wat genoeg kennis oor hierdie sake het, te bid.

Etiek

Daar is etiese perke aan ons pogings om ‘n baba te kry. Daar is byvoorbeeld geen probleem met die aanneem van kinders nie. Maar wanneer ons kom by surrogaat-moeders, die gebruik van die saad van ‘n ander man, ens. is ons by ‘n plek waar ons die grense van die Skrif oorskry. Ons moet met integriteit voor God leef, sedelik rein en heilig. Dit is God se bedoeling met die Skrif. Hierdie opmerking is nie om te veroordeel nie, maar wel om te waarsku en leiding te gee.

Alternatiewe Hulpmiddels

Vrugbaarheidsprobleme kan verband hou met wanfunksies in die manlike en/of vroulike voortplantingsisteme. Gebrek aan voldoende mikrovoedingselemente in moderne voedsel is dikwels ‘n onderliggende oorsaak. Gespesialiseerde kombinasies van mikronutriënte kan help deurdat dit die funksionering van die manlike sowel as die vroulike endokrinesisteme wat met voortplanting te doen het, kan verbeter.

Gebed

Riglyne vir ander wat vir ‘n kinderlose paartjie bid: Dit is belangrik dat mense wat vir sulke paartjies bid, nie veroordelend sal bid nie, en bv. aanneem dat die paartjie nie met geloof bid nie, of dat daar sonde in hulle lewe is nie. Moenie maak asof jy die antwoord het nie. Luister liewer, bewys onvoorwaardelike liefde en tree met meegevoel op. Bid dat wanneer die paartjie vir mediese hulp gaan, die dokters die regte diagnose sal maak, met integriteit teenoor hulle sal optree en dat die Here die dokters sal gebruik om hulp te verleen.

Daar is Hoop

Daar is heelwat gebalanseerde pitkos oor verskeie fasette van mens-wees by http://www.hope365.co.za/

Met erkenning aan Jerigo Mure Gebedsgids

Kos is ‘n belangrike deel van ‘n gebalanseerde dieet – Fran Lebowitz, 1950-

You may also like...