Kinders wat bid

Leer jou kind om te bid

Glo my asseblief. Eers wanneer jou kinders groot en uit jou huis uit is, besef ‘n mens vir hoe ‘n kort tydjie hulle aan jou geleen word. Ons kan nie genoeg doen om daardie kosbare paar jaar te benut om ons kinders toe te rus en van ‘n stewige fondasie te voorsien vir die lewe wat vir hulle voorlê nie.

Ek en Jua het ‘n tydjie gelede te doen gekry met ‘n vroutjie wie se moeder aan drankverslawing oorlede is. Die Ma was voor haar dood in vier onsuksesvolle huwelike betrokke en die kind is grootgemaak sonder enige verwysingsraamwerk van ‘n stabiele huwelik en gesinslewe. Sy was verstom om ons familiefotos te sien wat in die huis hang – sy het nie geweet dat sulke dinge bestaan nie! Haar Ma het by geleentheid vir haar as jong meisie gesê dat dit tyd is vir haar om swanger te word sodat sy ‘n man kan kry en uit die huis kan kom.

Hierdie jong vrou het uit haar eerste huwelik weggeloop, later haar tweede man en haar dogtertjie by hom netso gelos en by ‘n nuwe, derde man ingetrek. Na ‘n jaar of twee was hy ook nie goed genoeg nie en het sy haar tot nog ‘n huwelik verbind. Laas toe ons gehoor het, is die jongste eggenoot oorlede en ons het kontak met haar verloor. Al wat ons nou kan doen is om vir haar en die spoor van hartseer wat sy agtergelaat het te bid. Die ergste is dat sy dit nie so wil hê nie; sy is egter nie toegerus om te weet hoedat dinge behoort te wees nie. Sy het geen verwysingsraamwerk om na te leef nie. Sy doen wat haar ouers haar deur hulle voorbeeld geleer het.

Leer jou kind om te bid en God die Vader te leer ken. Kinders is gemotiveerd om oor die dinge te bid wat hulle na aan die hart lê – vriende, familie, onderwysers, selfs troeteldiere. Ons glimlag dikwels oor die onskuld van hulle gebede, party soms taamlik ongodsdienstig, maar dit is soos ons wil hê hulle moet bid: eenvoudig en eerlik. Soos hulle leer om na hulle hemelse Vader te gaan met hulle daaglikse probleme en behoeftes (en sien hoe dit beantwoord word), leer kinders om op Hom te vertrou dat Hy die Een is wat hulle en hulle geliefdes se probleme kan oplos. Hulle leer om na Hom op te sien om vir hulle te sorg en hulle te beskerm.

Kinders bid ook nie net oor persoonlike probleme nie. Kinders so oud soos drie en vier jaar kan sensitief wees vir armoede, honger, misdaad en egskeiding. Gememoriseerde gebede het ook hulle plek om ons kinders se gebedslewens te bou.

Die Onse Vader is ‘n Bybelse raamwerk wat kinders aan gebedsonderwerpe blootstel waaraan hulle nooit andersins sou dink nie. Kinders moet weet dat die Naam van die Here ‘n sterk vesting is, dat hulle daarin skuiling kan vind (Spr.18:10).

Deur hierdie teksverse te bid, kan hulle die gevoel van magteloosheid (baie algemeen by kinders) omkeer in die vertroue dat al is hulle klein, hulle kragtige gebede kan bid in Jesus se Naam en dat Hy sal hulle sal help.

Dit is egter uiters belangrik om ten grondslag van al hierdie gebede, Jesus as sy/haar persoonlike Redder aan jou kind voor te stel. Verduidelik dit by elke geleentheid van kleins af aan hulle, totdat daar ‘n dag kom dat die kind uit sy eie gereed is om Jesus in sy/haar lewe te nooi. (Sien nr. 5 en 6 hieronder).

Hier is nog ‘n paar praktiese idees om jou te help om jou kind te leer bid, ongeag hoe oud (of hoe jonk) jou kinders is:

1. Nooi jou kinders saam wanneer jy bid. As hulle sien hoe jy jou hart op ‘n eerlike, pretensielose manier teenoor die Here uitstort, sal dit hulle aanmoedig om dieselfde te doen. Hulle sal mettertyd agterkom dat jy Hom persoonlik ken en dat Hy jou gered en skoongewas het met Sy bloed. Wat gaan ‘n kind leer as hy jou gebedslewe dophou?

2. Skep ‘n tyd vir gesinsgebed. Dit kan ‘n verlengde gebedstyd tydens maaltye wees, of met slaaptyd, of ‘n spesiale weeklikse gebedstyd. Op die manier leer kinders om te bid deur te luister, te kyk en deel te neem.

3. Laat kinders toe om deel te wees van gesamentlike gebedstye by julle gemeente. Kinders het nodig om mense van alle ouderdomsgroepe met God te hoor praat – en ook om te hoor van die antwoorde op hulle gebede.

4. Gee kinders visuele hulpmiddels om hulle gebede te motiveer vir dinge buite hulle eie lewenservaring en verhoudings. Prente (soos tydskrifprente en prente van kinders in nood oral oor die wêreld) sal vir hulle die ware nood in die wêreld wys en die soort emosionele reaksie ontlok wat nodig is om uit die hart te bid. Vra terselfdertyd vir Sy leiding dat jou kind nie verskrik word deur lyding en ‘n geestelike knou kry nie.

5. Help kinders om hulle hemelse Vader persoonlik te leer ken. Dit is die belangrikste van alles. Hulle het nodig om te besef dat gebed ‘n verhouding is, nie ‘n godsdienstige aktiwiteit nie, en ook nie ‘n “towerformule” nie. Dit is belangrik vir kinders om te verstaan dat hulle tot hulle liefdevolle hemelse Vader bid in die Naam van Jesus Christus. Leer hulle wat God se karakter is en dit sal geloof in hulle harte laat toeneem.

6. Sodra jou kind gereed is, lei hom of haar in gebed om Jesus Christus as Here en Verlosser aan te neem. Dit is per slot van sake die belangrikste gebed wat hy of sy ooit sal bid!

You may also like...