Ly jy aan godsdienstigheid?

Vasgeketting in godsdiens en godsdienstigheid

Waarheen neem jy jou toevlug?

Gewigverlies en gesondheid is twee gesogte doelwitte, dog dikwels moeilik om te behaal. Die oorgrote meerderheid persone wat oorgewig- en gesondheidsprobleme ervaar, skryf dit toe aan ‘n gebrek aan selfdissipline wat lei tot impulsiewe eetgewoontes. Wanneer spanning ervaar word, is die “normale” reaksie om toevlug te neem na iets wat skadelik vir die liggaam is. Dit sluit in om ongesonde kossoorte te eet of om na ‘n sigaret, ‘n drankie of ander dergelike nadelige en nuttelose “hulpmiddels” te gryp.

Wanneer ander probleme opduik, is die gewone reaksie om eerste uitvlug by wȇreldse oplossings te soek. Wanneer siekte of ongesteldheid toeslaan, word die dokter of apteker geraadpleeg. As die ekonomie druk dan kla ons maklik. Die “normale” oplossing is om te soek na allerlei planne om meer geld te verdien. Die Lottokaartjies bly ook nie uit nie. So word ons maklik die slagoffer van een of ander foefie of verslaaf aan dobbelary.

Perspektief deur ‘n Besoeker uit Indië

‘n Tyd gelede was ons bevoorreg om ‘n besoeker uit Delhi in Indië te ontvang. Thomas Varghese het in daardie groot land met die tweede grootste bevolking ter wêreld in ‘n Rooms-katolieke huis grootgeword. In sy twintigerjare, bewus van die meer as 300 miljoen gode in Indië, het hy begin soek na die ware God want, so het hy geredeneer, daar kan immers net één ware God wees.

Thomas het gesoek na ‘n God wat sy hartsbehoeftes kan aanspreek en het by die Moslems, die Bhoeddiste, die Hindoes en oral waar hy kon gaan soek. Hy kon egter nêrens, te midde van eindelose argumente oor die bestaan van so baie gode, ‘n God kry wat tot sy hart spreek nie.

Uiteindelik, een nag in sy slaap, maak God vir Thomas in ‘n droom bewus van Jesus Christus. Die volgende nag gebeur dieselfde, en toe bid hy en vra dat as hierdie Jesus die ware weg na God is, iemand dit vir hom moet kom bevestig.

Die volgende dag klop iemand aan sy deur, en ‘n vreemdeling met Bybel in die hand vra of hy hom van Jesus die Redder van die wêreld kan vertel. Opgewonde nooi hy die man na binne en dié verduidelik aan hom uit die Skrif hoedat hy ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus kan aanknoop. Hierdie bekendstelling van ‘n Jesus wat Homself onskuldig oorgegee het aan ‘n wrede kruisdood ter wille van sy sondes en dié van die wêreld, het Thomas se hart aangegryp. Uiteidelik het hy ‘n God gekry wat sy hart aanspreek. Daar en dan het hy sy sondes bely en die Here Jesus as sy Here en Saligmaker aanvaar. Hy het homself laat doop en het onderneem om hierdie Jesus vir solank as wat hy mag leef te dien en onder sy mense bekend te maak.

Hy het eenvoudig begin om te vertel wat hy ervaar het, en mense het tot bekering gekom. Toe skryf hy in vir teologiese studies en behaal uiteindelik sy doktoraal. Alhoewel hy vandag, meer as 30 jaar na sy bekering, talle gemeentes en opleidingsentrums in Indië bedien, is en bly hy een van die nederigste mense wat ek ken, omdat hy onvoorwaardelik in die voetspore van Jesus volg.

Die dodelike kettings van godsdiens

Terwyl hy hier by ons kuier, merk Thomas eendag op dat godsdienstige mense baie moeiliker by God uitkom as mense uit die heidendom. Hierdie verklaring het iets wat reeds geruime tyd by my groei kragdadig bevestig. Godsdienstigheid is ‘n tronk waaruit min mense ontsnap.

Godsdienstigheid stomp mense af sodat hulle dink dat hulle nie ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus nodig het nie. Die oorgrote meerderheid mense in Suid-Afrika behoort immers aan ‘n kerk. Almal is dus christene en die feit dat my lewe nie wesenlik verskil van dié van al die ander kerkmense met wie ek elke dag skouers skuur nie, stel my gerus. Solank ek in die bondel is, is alles in orde.

Hierdie godsdiens hou ons egter in kettings geboei. Dit weerhou ons van die bron wat ‘n oplossing vir elke probleem bied maar nog belangriker, dit weerhou ons van die bron van verlossing uit ‘n ewigheid geskei van God.

Wat leer godsdiens ons?

Godsdienstigheid word maklik deur die humanisme beïnvloed om selfsug onder die vaandel van verdraagsaamheid te aanvaar. Selfsug, die wortel en oorsprong van alle vrees, is die domein van Satan en die teenoorgestelde van liefde, wat God se aard en domein is. Dink daaraan: dit is net vrees (die gedagte dat jy iets kan verloor) wat mense dryf na alle selfsugtige optrede. Selfsug weerhou ons van dankbaarheid oor wat ons het, lei ons na oneerlikheid, wanbalanse, ontrou, egbreek, vergrype aan enigiets van voedsel na losbandigheid, ongeduld, woede, haat, nyd en wellus om maar ‘n paar te noem. Onwillekeurig word hierdie dinge gode in ons lewens.

Godsdiens leer ons selde van liefde en dankbaarheid vir wat ons het. Daarsonder leef ons in selfsug. Dit is net die krag van liefde (hou in gedagte dat God=Liefde=Almag) wat alle vorms van selfsug (ja Satan self) uit ons lewens kan verdryf.

Godsdiens leer ons dat dit fatsoenlik is om aan ‘n kerk te behoort. Ons leer ook daar van godsdienstige aktiwiteite soos om “kerktoe te gaan.” Verder leer ons van aktiwiteite wat daarop gerig is om die kerkinstelling in stand te hou en sy lidmate bymekaar te hou, weg van die proseliete. Net Skrifgeleerdes kan die Boodskap bring en wanneer ander dit by uitsondering doen is hulle “leke.”

Tydens godsdienspleging word verdeeldheid en verwarring gesaai oor dinge soos hoe om te doop, welke dag die “ware sabbat” is, kleredrag, of die vrou mag preek of watse soort liedere met welke instrumente gesing mag word om maar net enkeles te noem. Sulke randsake en die oordrewe klem daarop lei daartoe dat daar net in Suid-Afrika reeds meer as 30 000 kerkinstellings is. Elke dag word daar meer bygevoeg, want elke keer as iemand onvergenoegd is oor ‘n Skrifvertolking waarmee hy/sy nie saamstem nie, stig hy/sy ‘n nuwe kerk of word daar by ‘n “meer aanvaarbare” een aangesluit.

Ons is so gebonde aan die waardesisteme van hierdie wêreld dat ons glo en dink dat al waaroor die lewe gaan, die nou en hier is. Satan sal natuurlik hierdie gedagterigting bevorder en versterk. Hy wil ons nie aan die werklikheid van sy verslane posisie teenoor God, Jesus en die Heilige Gees blootstel nie en stel ons voor aan allerlei valse “gode” waarheen ons kan vlug sodat ons naderhand net so baie het as die Indiërs!

Wat leer Jesus ons?

God se Kerk is Sy kinders, daardie mense in wie se lewens Sy Heilige Gees woon. Die Kerk kan nie “kerktoe gaan” nie. Die Here se opdrag aan sy Kerk is om uit te gaan na die wêreld met Sy boodskap van liefde en verlossing; daardie Jesus wat ons as één liggaam saambind is veel groter as leerstellings oor randsake.

Hy leer ons dat die ware Kerk die ledemate (nie lidmate nie) van die Liggaam van Christus is wat Sy opdragte uitvoer. Elke gelowige ontvang die opdrag om die Woord te verkondig, en die krag en outoriteit van die Heilige Gees om dit te doen.

Die hoofrede vir hierdie lewe op aarde, ‘n uiters korstondige bestaan in ‘n verganklike liggaam, is om te kan kies waar ons die ewigheid wil deurbring. Satan se hoofdoelwit is om ons daarvan te weerhou om te kies om in alle ewigheid by ons liefdevolle God en Hemelse Vader te woon en hy gebruik onder andere die kerk op slinkse wyse om dit reg te kry.

Lukas 12: 4: “Aan julle, my vriende, sê Ek: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie.”

Hierdie stelling van Jesus is op die oog af nie veelseggend nie. Oordink dit egter aandagtig. Moet nie diegene vrees wat die liggaam doodmaak nie, want dit is die perk van hulle mag. Hulle kan niks meer as net dit doen nie! Dit dui in werklikheid aan dat hierdie lewe van eindeloos minder belang is as wat na die dood met die jou en my onsterflike gees gaan gebeur. Dit gee perspektief oor die ewigheid en beklemtoon waarom ons aan God eerbied en ontsag moet gee.

Die lewe hier op aarde is slegs ‘n uiters kortstondige voorspel tot die ewigheid van die “regte wêreld” by ‘n God wat vir ewig leef. Hou in gedagte dat die regte ek en jy onsterflike geestelike wesens met onsterflike siele is. Ons lewe in hierdie lewe in tydelike, sterflike liggame. Hierdie tydelike verblyf is ‘n baie kort geleentheid wat God aan ons gee om te kies waar ons die ewigheid wil deurbring: by ons liefdevolle Skepper-God of in die duisternis by die vyand. As jy versuim om ‘n keuse vir ‘n verhouding met Jesus te maak, het jy reeds gekies vir die duisternis. (Lees Romeine 3:23.)

Hou op om jou te bekommer. Beywer jou allereers vir die Koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Lees Matteus 6:25-34.

Neem jou toevlug na daar waar jy geholpe kan raak

Wanneer ons hulp nodig het wil Jesus as ons liefdevolle Saligmaker, Vriend en Mentor, ons leer om nie in armoede te lewe nie. Dis nie nodig om van gemorskos, sigarette, drank, dobbelary, foefies of ander nuttelose hulpmiddels gode te maak nie. Dis ook nie nodig om in die eerste plek na mediese hulp te soek as jy siek is of na ‘n werk as jy geld nodig het nie. Dan word ook dit nog bykomende gode.

Kry jou hulp by die Betroubare, Ewige, die Een wat jou liewer het as wat jy ooit sal besef, wat reeds weet wat jy nodig het nog voordat jy vra en wat in staat is om alles in oorvloed aan jou te gee. Hy sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie. Wanneer jy eers tot Hom gebid het voordat jy planne maak om gewig te verloor of mediese hulp of werk te soek, sal jou soektog soveel meer oplewer as wat jy ooit sal besef. Wanneer jy leer dat Hy die sleutel tot al jou probleme is, sal jy begin om daardie vrede wat die verstand te bowe gaan op alle lewensterreine te beleef.

Toegang na die eetplanne by www.verslank.net

Indien jy een van die talle lesers is wat as ‘n verbruiker by www.verslank.net geregistreer het maar nie by die eetplanne kan uitkom nie, probeer gerus weer. Dikwels vergeet gebruikers dat hulle die registrasie moet aktiveer, dan doen ek dit agterna vir hulle.

You may also like...