Mangelinfeksie, inflammasie en oplossings
Met die oog op mangelinfeksies wat veral in die winterkoue voorkom, publiseer ek graag hierdie vertelling van my ervaring met my mangels.
Op ‘n Saterdagmiddag speel ons in een van daardie snerpende koue winde rolbal. Daar is ‘n verskil tussen koud kry en koud word, en daardie dag het ek van koudkry koud geword.
Die daaropvolgende Maandag voel ek daar is fout met my linkermangel. Ja, hulle sit nog altwee op 69 jarige ouderdom, danksy ons familieraat. Klik hier vir die resep.
Juanita moes dadelik die mengsel voorberei en ek begin om dit te neem. ‘n Dag of twee later voel dit asof die raat soos gewoonlik werk, maar net toe ek dink die seer mangel klaar mooi op toe begin die regtermangel met dieselfde manewales. Na ‘n week word die tweede knoffelmengsel gekook, en die regtermangel bedaar, maar die linkerkantse een het intussen weer erger geword en bly hardnekkig seer.
Na twee weke word die derde mengsel gekook. Dít het my in meer as 60 jaar nog nooit oorgekom nie. Nie met myself nie, ook nie met die dosyne mense wat oor die jare hulle mangels so gedokter het nie. Toe span ek al my immuniteitbouers in, maar niks help nie. Die mangel bly seer. Dit word ‘n missie om net te sluk. Na drie weke soek ek mediese hulp by my oop-kop dokter wat altyd met my saamwerk en begrip het vir my natuurlike gesondheidsmiddels.
Ek vertel hom dat ek oortuig is dat my probleem nie infeksie is nie, daarvoor had ek te veel vertroue in my middels. Die dok meen egter dat ek tog verkeerd kan wees en skryf ‘n stywe dosis penisillien voor. Nadat die kursus opgebruik is, is daar steeds geen verandering nie. Nou weet hy ook nie verder nie, maar hy het darem die insig gehad om ‘n smeer van die mangel te neem. Die ontleding toon dat daar geen infeksie is nie. Dit kon ‘n virusinfeksie gewees het wat nou in inflammasie omgesit het.
Oppad huistoe, met hierdie kennis in my agterkop, maak ek ‘n plan: die Omega 3 olies het pynstillende en anti-inflammatoriese werking. Ek neem ses normale daaglikse dosisse op een dag. Daardie nag kom die draaipunt. Ek kan voel iets is aan’t gebeur, dit voel heelnag asof daar iets in my keel oopgebars het maar ek sien niks behalwe ‘n deursigtige vloeistof, byna soos speeksel, in my keel. Die volgende oggend kon ek weer byna normaal sluk. Daardie dag ‘n tweede oordosis Omega 3 en weer ‘n nag waar ek voel alles in my dreineer deur my keel uit my liggaam, maar die volgende dag is die pyn byna weg en voel en weer soos ‘n mens.
Daarna het die inflammasie (dit is nou duidelik dat dit is wat dit was) vinnig opgeklaar en was ek opnuut verwonder oor hoe die Skepper die menslike liggaam gemaak het met die vermoë om homself te genees solank hy die regte voedingstowwe ontvang.