Meet eerder as om te weeg
Gooi weg die Skaal en gryp die Maatband
Mate is belangriker as kilogramme
Daar is geen wetenskaplike rede waarom jy juis x aantal kg moet verloor nie – elke mens is ‘n individu met ‘n spesifieke liggaamsbou en sommige is net groter gebou (afgesien van die lengte).
‘n Mens kan hoogstens sê dat die ideaal is om heelwat gewig te verloor en dan die liggaam toe te laat om dit self te doen.
Dit is nie gesond om emosioneel gevange gehou te word met die gedagte dat daar ‘n groot verpligting op ‘n mens rus ten opsigte van gewig nie – dit moet eerder ‘n verpligting wees om gesond te lewe en dit sluit elke dag se keuses in.
Jy sal moet vry raak van jou gewigs-fiksasie en begin om positief te leef en jouself te aanvaar net soos jy tans is.
Wat belangriker is as die gewig, is die omtrek van die middellyf; dames behoort te streef na ‘n middel van tussen 70 en 84 cm en mans tussen 80 en 91 cm.
Veranderde Leefstyl is die Sleutel
1. Oefening
Ten eerste sal jy elke dag (ten minste 5 dae per week) ten minste 45 minute moet spandeer aan matige oefening waarvan vinnig stap een van die beste is.
Jy kan dit aanvul met ‘n bietjie kragoefening deur iets wat gewig het (soos ‘n strykyster) met elke arm bo jou kop uit te stoot, na die kante op te tel en met elke been (terwyl jy sit) 10 keer op te tel.
Maak dit stadig elke week meer. Die geheim is om stadig te begin en die liggaam gewoond te maak en nie jouself te ooreis nie.
2. Eetpatroon
Dit is belangrik om die eetpatroon reg te stel. Vir suksesvolle gewigsverlies gaan dit nie oor die vermindering van kalorieë nie maar oor die kontrolering van die insulien-respons.
Daar is 3 stappe in die proses van vet-opberging:
i. koolhidrate stimuleer die vrystelling van insulien wat veroorsaak dat orige koolhidrate as vet gestoor word;
ii. hoë insulienvlakke onderdruk glukagon en groeihormoon wat onderskeidelik verantwoordelik is vir die verbranding van vet en suiker en die vorming van spiermassa;
iii. hoë insulienvlakke veroorsaak weer honger wat sigbaar word in ‘n bose kringloop – tekens van styselverslawing (waarteen ‘n mens meestal min weerstand het!)
Te hoë insulienvlakke bespoedig die verouderingsproses en lei tot vele siektetoestande soos hoë bloeddruk, verhoogde cholesterol, stimulering van groei van kankerselle, vermeerdering van osteoporose, “cravings”, diabetes, ens.
Die groot probleem kom by die inname van graanprodukte.
Aan die hand van goeie navorsing en die mening van kenners word die volgende aanbeveel:
1. laat jou skildklier toets vir moontlike onderaktiwiteit;
2. skakel ALLE graanprodukte vir ten minste 2 tot 6 weke uit – daarna (as die cravings verby is) kan jy enkele tipes weer in kleiner hoeveelhede terugbring: hawermout; manna; bruinrys; Essenerbrood gemaak van gespruite koring; alle witmeelprodukte in enige vorm is taboe vir die res van jou lewe.
3. skakel alle suiker en versoeters uit asook alle produkte wat daarmee gemaak is – as jy verslaaf is, bid en vra die Here om jou te verlos want dit lei na die dood!
4. vermeerder die inname van komplekse koolhidrate van veselryke groente; dit is die belangrikste voedsel vir jou omdat dit feitlik alles bevat wat nodig is. As jy nie sommige groentes kan eet nie as gevolg van smaak, kan jy dit weer verander want smaak is aangeleer.
5. groente bevat ook goeie proteïene, veral peulgewasse soos bone, ertjies en lensies. Gedroogde peulgewasse moet ten minste 24 uur in water geweek word voordat dit gaargemaak word. Vleis en melk het dikwels die probleem dat die diere met hormone en antibiotika ingespuit word en daarom is dit verkieslik om dit direk van plase waar dit nie gedoen word nie, te bekom.
6. eet vrugte tussen maaltye en dan slegs ‘n klein hoeveelheid soos een appel of ‘n halwe piesang. Te veel vrugte kan ook die insulienbalans versteur.
7. eet goeie vette (dis nie alle vette wat ‘n mens vet maak nie, maar wel stysels en slegte vette). Goeie voorbeelde van goeie vette is: avokado, botter en suiwer room (matig), olyfolie, kokosolie vir kookdoeleindes, aanvullings van salmolie en vlassaad-olie kapsules. Slegte vette wat dringend vermy moet word, is transvette en gehidrogeneerde vette soos “shortening”, margarien (ten spyte van al die propaganda), en alles wat daarmee gemaak word soos geprosesseerde kosse en alle gebak. Ook die kookolies op die winkelrakke is verander deur te hoë hitte en is baie ongesond – slegs koud-geparste olies is aanvaarbaar.
8. drink gesuiwerde water en kruietee soos rooibos; vermy koffie vir 6 maande en daarna slegs 1 koppie per dag. Vermy ook alle koeldranke en kommersiële vrugtesappe.
3. Selfbeeld
Werk aan jou selfbeeld en die emosionele redes waarom jy oorgewig geraak het – soek ‘n goeie berader en vra die Here om jou vry te maak van negatiewe denkpatrone, veral wat jou selfbeeld betref.
4. Universele Riglyne
Hierdie wenke kan enige persoon bevoordeel want ons leef in ‘n wêreld waar die geldmag (o.a. deur advertensies) ons aanmoedig om stysels te eet en sodoende verslaaf te raak. Stres en ander emosionele faktore dra ook grootliks by tot siektetoestande.
Met erkenning aan Dr Marius Potgieter (www.drmarius.com)
Marius is ‘n geregistreerde natuurlike genesingspraktisyn van Cullinan.
Sy kontakbesonderhede: Sel 072 768 3981 E-pos marius@drmarius.net
Moet nooit bang wees om iets nuut aan te pak nie. Onthou, die Ark is deur ‘n enkele amateur gebou. Die Titanic is deur ‘n groot groep professionele skeepsbouers gebou.