Moet nie kinders omkoop nie

Lekkergoed, kinders en geweldsmisdaad

Het jy al lekkergoed as omkoopmiddel gebruik om jou kind te paai? Dit werk dikwels wanneer beredenering, dreigemente en ander pogings niks vermag nie. Sulke sjokoladebedekte bederfies kan aansienlike korttermynvoordele inhou, maar volgens Britse wetenskaplikes kan dit jou kind blootstel aan latere probleemgedrag.

Afgesien van die tendens om oorgewig by kinders te bevorder en ander gesondheidsnadele, dui nuwe studies aan dat kinders wat in hulle kleintyd te veel versnaperings eet by volwassenheid gewelddadige gedragspatrone kan ontwikkel.

Simon Moore, ‘n seniorlektor in Geweld en Gemeenskapsnavorsing by die Universiteit van Cardiff in die V.K. het die studie van blootgestelde kinders gelei. Moore het die faktore bestudeer wat kinders na ernstige misdaad lei. Tydens hierdie studies het hy ontdek dat die kinders met die ergste probleme neig om impulsiewe risikos te neem en dat juis daardie kinders uiters swak eetpatrone openbaar – soos ‘n Coke en ‘n pakkie skyfies vir ontbyt.

Hierdie assosiasie het hom nuuskierig gemaak. Hy het onder andere gekyk na ‘n langtermyn Britse studie van 17 000 mense wat almal binne die bestek van een week in April 1970 gebore is. Die studie het periodieke evaluerings van talle verskillende aspekte van die groeiende kinders se lewens ingesluit, soos wat hulle eet, sekere gesondheidsmaatreels en sosio-ekonomiese status.

Data oor die kinders se dieet en latere gedragspatrone het die volgende korrelasie opgelewer: 69% van mense wat op ouderdom 34 skuldig bevind is aan geweldsmisdaad het gerapporteer dat hulle as kinders byna elke dag lekkergoed ge-eet het; 42% van mense wat ‘n probleem met gewelddadige gedrag het, het dieselfde agtergrond.

Die navorsers het aanvanklik gedink dat hierdie effek ‘n ander oorsaak kan hê maar toe hulle voorsiening maak vir faktore soos toegeeflike ouers, ekonomiese status en of die kinders uit stedelike of landelike gebiede kom het hulle telkens dieselfde resultate gekry.

Met ander woorde, ondanks omgewings- en leefstylfaktore soos die inkomstevlak van die gesin, opvoedingstyl van ouers of die kind se vlak van opvoeding dui die data daarop dat dit slegs die frekwensie van inname van lekkernye tydens kinderjare is wat ‘n sterk voorspelling van geweld by volwassenheid meebring.

Volgens Moore is die kernboodskap dat hierdie studie eintlik meer vrae as antwoorde na vore bring.

Een van die vrae is of dit die lekkergoed self is wat bestanddele bevat wat anti-sosiale en agressiewe gedrag bevorder en of die oormatige inname van lekkergoed ‘n gebrek aan dissipline tydens die kinderjare vestig wat in volwassenheid lei na swak impulsbeheer. Moore se mening neig na die laasgenoemde.

Dit is moontlik dat kinders wat te dikwels lekkergoed ontvang nooit leer hoe om te wag op bevrediging nie. Hulle ontwikkel nooit voldoende geduld om te wag vir die dinge wat hulle begeer nie. Dit lei tot impulsiwiteit by volwassenheid. Dit is ook moontlik dat kinders wat van meet af swak gedragspatrone openbaar neig om meer lekkergoed te ontvang.

Moore wys ook op interessante data wat suggereer dat dieet in sigself ‘n diepgaande effek op gedrag kan uitoefen. Onlangs-gepubliseerde navorsing by die Universiteit van Oxford bevat bevindings wat polemiek kan veroorsaak. Dit dui daarop dat prisoniers wat vitaminaanvullers ontvang — en derhalwe waarskynlik daardeur beter gebalanseerde voeding inneem – laer vlakke van dissiplinêre voorvalle en agressiewe uitbarstings toon as ‘n kontrolegroep wat plasebo-tablette neem. Alhoewel die assosiasie voorlopig is, voel Moore dat dieet ‘n sinvolle nuwigheid verteenwoordig in die strewe na ‘n lewenskursus om gewensde gedragspatrone te bevorder.
Ek het verlede jaar by ‘n gesondheidsklub aangesluit. Het al omtrent R800 spandeer, maar nog nie ‘n enkele kilogram verloor nie.
Blykbaar moet mens soontoe gaan…

You may also like...