Moet ons ingewande van tyd tot tyd gereinig word?
Dit is wonderlik en goed as jy beter voel nadat jy ‘n reinigingsproses van die ingewande deurgaan het. So ‘n reiniging is egter nie noodwendig ‘n vereiste vir goeie gesondheid nie.
Tensy jy baie siek is, is jou liggaam nie normaalweg vol gifstowwe nie. As dit die geval was, sou jy dringend mediese sorg benodig.
Ons word wel daagliks aan talle giftige stowwe blootgestel. Sommige daarvan kom natuurlik voor, ander is sinteties van aard. Ons is egter dankbaar vir wonderlike liggame wat ons teen skadelike stowwe beskerm. Ons liggame is ook goed ingerig om van skadelike stowwe ontslae te raak. Dit word deur die vel, filtrasie-organe (niere en lewer) en die spysverterings- en limfatiesestelsels gedoen.
Gelukkig hoef ons filtrasie-organe nie soos die filters op krane gereeld skoongemaak of vervang te word nie. Die niere skei gedurigdeur afvalstowwe na die urine toe uit terwyl die lewer gifstowwe deur middel van chemiese reaksies afbreek. Dan word hulle in die urine of gal uitgeskei. Hierdie organe word beslis deur ‘n gesonde dieet bevoordeel, maar ‘n reinigings- of detoksifikasieproses sal hulle nie meer doeltreffend laat werk nie.
Besoek ons Facebookblad hier met ‘n “hou van.”