‘n Bietjie slaap, ‘n bietjie slimmer

My hoogtepunt van die dag: ‘n middagslapie

Toe ek nog tyd gehad het om voldag op kantoor te wees, het ‘n nywerheidsielkundige ons eendag toegespreek oor die voordele en belangrikheid van ‘n afskakeltydjie in die middel van die dag. Hy het as’t ware aangedring dat ons dit aan ons werkgewer verskuldig is om die ou brein weer te laai vir die middagskof. Hy was so oortuigend dat ek hom ernstig moes opneem en so het ek begin om elke dag my kantoordeur vir 15-30 minute te sluit en op die naat van my rug op die mat te ontspan.

Die kort slapie om my batterye te laai het wondere verrig wat betref my produktiwiteit in die middag en selfs tot in die aand.

Wetenskaplik beproef

My ervaring wat middagslapies betref word deesdae onderskryf deur wetenskaplikes wat be-aam dat ‘n middagdutjie die brein se kapasiteit aansienlik vehoog.

Moet dus nie jou oë rol of neersien op jou kollega as hy/sy onder verdagte omstandighede vir ‘n wyle verdwyn nie. Bevindings by die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, toon dat ‘n slapie van een uur jou breinkrag dramaties kan verhoog. Die bevindings dui daarop dat ‘n slaapskedule met meer as een fase per dag jou verstand verhelder en jou ook slimmer maak.

Studente wat dut het heelwat beter gevaar in geheuetoetse as studente wat nie gerus het nie. Jou brein reageer al hoe traer hoe langer jy wakker bly. Studente wat deurnag studeer se retensievermoë verlaag met byna 40%.

Matthew Walker, ‘n assistant sielkundeprofessor by UC Berkeley wie aan die spits staan van hierdie navorsing, verklaar dat jy na ‘n slapie ‘n hoër konsentrasievermoë bereik as wat jy gehad het voordat jy geslaap het. Jou brein word so verhelder dat sy vermoë om nuwe inligting te absorbeer heelwat verbeter.

Slaap is nodig om die brein se korttermyngeheue “skoon te maak” om sodoende ruimte te maak vir nuwe inligting. In hierdie opsig funksioneer die brein byna soos ‘n e-posprogram op ‘n rekenaar wanneer die vouer vol is. Dit moet leeggemaak word voordat dit nuwe e-posse kan opneem.

Hierdie geheue-verfrissende proses vind veral plaas wanneer die persoon ‘n bepaalde slaapsiklus bereik. Dit gebeur tydens die Tweede Stadium nie-diepe slaap, wat tussen diep slaap en die droomstadium bekend as vinnige oogbeweging “Rapid Eye Movement” (REM) plaasvind. Die doel van hierdie slaapfase was voorheen onbekend, maar hierdie nuwe bevindings dui daarop dat daar ‘n goeie rede bestaan waarom mense hulself byna die helfte van hulle slaaptyd in die tweede Stadium nie-diepe slaap bevind.

Ons slaappatrone is ingewikkeld en daar bestaan goeie redes waarom ons 50% van ons slaaptyd daaraan bestee om van die een na die ander slaappatroon te beweeg. So gee ons slaaptyd vir ons wat ons nodig het.

In ligter luim

Sommige mense hoor stemme. Ander sien onsigbare mense. Dan is daar diegene wat oor hoegenaamd geen verbeeldingskrag beskik nie.

You may also like...