‘n Nuwe “normaal”?
In die wêreldwye benadering tot Covid-19 kyk ons verby die groter prentjie.
Daar is niks anders as immuniteit wat ordentlike beskerming teen virusse kan bied nie. Daarom is ons immuunstelsel by verre die mens se belangrikste, maar deesdae grotendeels miskende bondgenoot in die hantering van die covid-19-probleem.
Lesse uit die geskiedenis
Die Groot Oorlog van 1914-1918 het 9 miljoen sterftes veroorsaak en 13 miljoen burgerlikes is gedood. Elke oorlogsdood gaan gepaard met ongeveer tien beserings, derhalwe is 240 miljoen mense fisies deur die dood of beserings daardeur geraak. Dit verteenwoordig 13% van die totale wêreldbevolking van daardie tyd. Ons kan aanvaar dat daar in daardie skrikwekkende vier jaar skaars ‘n enkele siel wêreldwyd was wat nie buitengewoon gespanne was nie.
Ons weet dat stres mense se immuniteit aftakel. Nadat die spanning van die vier oorlogjare die immuniteit van feitlik almal op aarde verlaag het, het die Spaanse griep die wêreld oorval en na raming 17 tot 50 miljoen mense doodgemaak. Sommige beweer dat dit soveel as 100 miljoen kon wees.
Lesse uit die hedendaagse lewe
In 2019 het mediese kundiges gewaarsku dat die moderne mens se swak dieet- en leefstylkeuses die verwagte lewensduur van die wêreldbevolking verlaag. Die huidige geslag sal vir die eerste keer in 100 jaar op ‘n vroeëre ouderdom as hul ouers sterf. (Lees hier meer)
Dit is heel moontlik dat hierdie mediese waarneming, en nie ‘n natuurlike verskynsel of een of ander menslike ingryping nie, die rede is vir covid-19 se geweldige impak.
As dit inderdaad die geval is, dan is byna alles wat ons doen om verspreiding van die virus te bekamp, teenproduktief. Dit dra alles by om onsself bloot te stel aan meer aggressiewe indringings in ons gesondheid. Elke nuwe virus sal gevaarliker lyk omdat dit meer mense dood maak, en daar is elke jaar nuwe virusse sowel as nuwe mutasies.
Abnormale optrede
Die dra van maskers, isolasie, ‘n gebrek aan oefening en blootstelling aan sonlig, ‘n gebrek aan liefdevolle aanraking en sosiale interaksie, verlies van besighede en werkgeleenthede en gevolglike armoede en swak voeding, negatiwiteit en ‘n vreesaanjaende, leuenagtige pers, dra alles by tot angs en stres. Dit lei op sy beurt na verdere aftakeling van ons immuniteit.
As ons aanhou om die krities-belangrike rol van die menslike immuunstelsel te ignoreer, sal ons waarskynlik duurder moet boet as wat ons ooit kon dink. Ons kan maklik ‘n herhaling sien van wat die wêreld ná die Eerste Wêreldoorlog verduur het deur 500 miljoen of meer mense aan aansteeklike siektes te verloor voordat ons tot besinning kom.
Deur te probeer ontken dat ons deurentyd deur miljoene virusse en bakterieë omring is, sal ons duur te staan kom. (Lees hier meer)
Die normale
Die mens is geskape na die beeld van sy Skepper-God. Ons is geskape vir liefde, aanraking, omgee, interaksie en om stresvry te leef. Na mate ons verder van hierdie belangrike beginsels af wegbeweeg deur paniekbevange van virusse af te probeer vlug, beweeg ons al hoe nader aan selfvernietiging.
Enige sogenaamde “nuwe normaal” lyk na opstand teen ons Skepper.