Noodhulp vir brandwonde
Eierwit vir brandwonde en ‘n oproep tot gebed
Hoe goed onthou ek die bekoring wat vuur vir my as kind gehad het. Seuntjies kan dit moeilik weerstaan. Ons het meer as eenmaal slae gekry oor speletjies met vlamme en veral een insident sal my altyd bybly.
Ons wou sien of ‘n petrolvuur op ‘n bal aan die punt van ‘n stuk tou ‘n sirkel van vlamme kan vorm as dit vinnig genoeg in die rondte gedraai word. Een van die tweeling in ons groep speelmaats was aan die beurt om die tou te swaai terwyl die res van ons toekyk. Die brandende bal het losgevlieg en op my beland. Gelukkig kon ons die vlamme betyds blus om ‘n tragedie te verhoed maar die wonde was verdoemende getuienis en genoeg om te sorg dat ons elkeen nog ‘n goeie drag slae gekry het.
Terwyl ‘n jongman sy grasperk en struike met insekmiddel bespuit, trek hy ‘n vuurhoutjie om lig te maak sodat hy kan sien hoeveel spuitmiddel daar nog in die kan oorbly. Skielik het die dampe ontvlam en hy is omhul deur vuur. Sy buurvrou was gelukkig byderhand met ‘n paar eiers wat sy oopgebreek het. Sy het gou die geel uitgeskei en die deurskynende eierwit op die brandwonde op die jongman se gesig aangewend.
Toe die ambulans arriveer en die paramedici die wonde sien vra hulle wat gebeur het. Een van die omstanders beduie dat die vrou eierwit op die brande gesit het. Hulle het haar gekomplimenteer en verklaar dat sy die man se gesig gered het. Weke later het die jongman vir die vrou ‘n roosruiker gekoop om haar te bedank. Sy gesig was so skoon en glad soos ‘n baba se vel.
Noodhulp vir brandwonde
Die twee bostaande scenarios uit die regte lewe illustreer hoe maklik en gou brandwonde kan ontstaan. Hoe gouer jy effektief kan reageer wanneer dit met iemand naby aan jou gebeur, hoe beter is die kanse vir die persoon om volkome te herstel.
Probeer om onmiddellik die temperatuur van die gebrande area te verlaag deur koue water saggies daaroor te laat loop. Sodra die hitte geneutraliseer is, plaas rou eierwit wat jy van die geel geskei het op die brandwonde. Jy kan ook aloe vera aanwend maar dit is nie altyd so geredelik beskikbaar soos eierwit nie.
Wend meer eierwit aan sodra die eerste laag droog word. Moet nie probeer om dit af te spoel nie, vryf dit versigtig af en bedek die wond liggies met ‘n sagte verband. Jy kan ook voordat jy die wond bedek, vitamine E olie of antibakteriese room wat vir brandwonde bedoel is aanwend indien dit beskikbaar is.
‘n Vrou wat haar hand met kookwater gebrand het, se eerste optrede was om koue water uit die kraan oor die hand te spoel. Daarna het sy die eierwit van twee eiers effe geklits en haar hand in die oplossing ingedruk. Dit is asof die eierwit ‘n beskermende laag vorm.
Eierwit is natuurlike kollageen, ‘n vitamine-ryk plasenta wat die wond beskerm as jy dit laag op laag aanwend.
Was jou hande met warm water en seep voordat jy brandwonde behandel. Hou egter in gedagte dat intense pyn ‘n aanduiding is van tweedegraadse brandwonde. Sulke wonde vereis mediese behandeling. Moet ook nooit ys, botter of olie op brandwonde gebruik nie.
Aloe Vera jel het in die afgelope paar jaar ‘n onontbeerlike hulpmiddel teen brandwonde in ons huis geword. As jy dit byderhand het en gou genoeg aanwend is dit asof dit die brandskade uittrek sodat daar ongelooflik vinnig genesing plaasvind. Kontak ons vir meer inligting.
Gebedsaksie
Die volle omvang van die krag van gebed sal selfs christene sprakeloos laat.
Tydens die tweede wêreldoorlog het ‘n adviseur van Winston Churchill ‘n groep mense gemobiliseer om elke dag op ‘n bepaalde tyd alles wat hulle doen te laat vaar en saam te bid vir die veiligheid van hulle mense en vir vrede. Daar was an die einde van die oorlog ‘n onverwagse ommeswaai.
Daar is tans so ‘n aksie in Suid-Afrika en jy word uitgenooi om deel te neem.
Hou elke aand om 21:00 vir net een minuut op met wat jy ookal doen en bid vir die veiligheid van ons mense, en dat ons volk hom weer tot God sal wend.
Ons gelowige gebede is ons kragtigste wapen. Kom ons gebruik dit om die krag van die liefde van God los te bid sodat Hy ons land sal herstel.
2 Kron 7:14 – Toon berou en bid, vra na Sy wil, draai weg van die bose weë af, dan sal Hy luister, ons sondes vergewe en ons land herstel.
Stuur hierdie uitnodiging aan elkeen wat jy ken wat Hom dien en vra dat hulle sal saambid.
Lag ‘n slag
‘n Nuwe aankomeling by die hospitaal sien twee dokters in wit jasse wat in die blombeddings rondsoek. Hy vra “Verskoon my, het u iets verloor?”
“Nee,” antwoord een van die dokters, “ons doen ‘n hartoorplanting vir ‘n inkomstebelastinginspekteur en soek net na ‘n geskikte klip.”