Oefening werk wonders

Breek uit die tronk met oefening

Gebruik fiksheid eerder as voedsel om jou ingesteldheid te verander

Party dae is ek sommer net buierig. Weet nie altyd so mooi wat om dit te noem nie – opgestres, verveeld, eensaam, kwaad, hartseer, angstig of sommer net moeg. Dit voel vir my asof ek uitvlug soek. Wanneer dit gebeur het ek my omstandighede toegelaat om aan my houding en denkwyse voor te skryf en voordat ek weet waar ek is voel ek dat ek wil vlug.

As ek so voel dan hou ek daarvan om oefening te doen. Sommige mense soek egter uitkoms by ongesonde gewoontes soos emosionele etery of rook. Glo my, as jy omgekrap of opgewerk is of net nie goed voel nie kan oefening en die opkikkerende endorfiene wat dit produseer die allerbeste raad vir jou wees.

Wanneer jy weer so voel, identifiseer wat jy voel en waarom. Is jy verveeld omdat jou beste vriend uitstedig is? Voel jy eensaam sedert die kinders die huis verlaat het? Miskien voel jy omgekrap oor geldsake. Wat dit ookal mag wees, identifiseer dit. Gebruik dan die spesifieke riglyne wat volg om jou slegte bui met ‘n goed-voel oefeningvoorskrif te verdryf.

As jy kwaad is

Jou bloed kook en jy het behoorlik in die koffiesak geklim! Jy moet dit op iets of iemand uithaal voordat jy ontplof!

Bui-vernietigende oefeninge soos boks, “kickboxing”, skaduboks of krygkuns (martial arts).

Of jy ‘n video volg, groepklasse bywoon of wat ookal, elke skop, hou en stamp sal woede laat bedaar. Verbeel jou dat jy die rede vir jou woede met elke skop, slaan of steek bykom. Voer sommer 12 agtereenvolgende houe of skoppe uit! Jy sal nie net van jou woede ontslae raak nie, maar sommer ook kalorieë verbrand. Enige soort krygkuns, wat soms nie as oefening gesien word nie, sal ook werk. Benewens die kontak met skerms, teikens en skilde wat in sigself baie stresverligting meebring, sal jy selfvertroue, dissipline en fokus ontwikkel.

As jy verveeld is

Jy voel in ‘n groef vasgevang en wil iets interessant doen maar jy weet nie mooi wat nie.

Oefeninge wat buie verdryf: Spinklasse, aerobiese oefening of ‘n fiksheids DVD.

Verdryf verveligheid deur by hoë-energie spinklasse by jou plaaslike gimnasium in te skakel. Hulle gebruik opkikkerende musiek en jy sal verstom staan oor hoe gou ‘n uurlange klas verbyvlieg.

Aerobiese oefening werk ook uitstekend. Daar is so baie variasie dat dit geen tyd vir verveeldheid laat nie. Dit is ook nodig om op die choreografie te konsentreer – byna soos wanneer jy ‘n eenvoudige dans aanleer waar ‘n stappie baasgeraak moet word. Jy leer ook nuwe vaardighede aan en sal na die tyd voel dat jy werklik iets bereik het!

Of besoek die biblioteek of videowinkel en leen ‘n oefen-DVD wat vir jou interessant lyk. Doen dit tuis, en nooi sommer ‘n vriend om jou nuwe oefen-avontuur saam met jou te beleef!

As jy eensaam is

‘n Jammerkry-partytjie sal jou net meer eensaam laat. Die heel beste is soms om uit te gaan en te kuier.

Enige groep-fiksheidsessie sal jou gevoel van eensaamheid verdryf

Om met ‘n groep saam te oefen wat almal soortgelyke doelwitte nastreef en dieselfde roetine volg sal jou laat voel dat jy deel is van iets groter as jyself. Daar is talle redes waarom groepklasse so gewild is: ongeag watse soort klas jy kies, daar sal altyd sosiale ondersteuning, ‘n vriendelike omgewing en ‘n geleentheid wees om mense met soortgelyke belange te ontmoet.

As jy depressief voel

Depressie is geen grap nie! Daar is miljoene mense wat aan depressie ly. Dit is aftakelend en emosioneel pynlik. Dit is egter wetenskaplik bewys dat oefening kan help om depressie to oorkom. Die heel moeilikste gedeelte is om die moed en motivering bymekaar te skraap om te begin. Die regte aktiwiteite kan baie help.

Oefeninge wat buierigheid verdryf: Stap in die buitelug, fietsry, hardloop.

Daar is iets in die natuur wat ‘n helende invloed uitoefen. Die vars lug en natuurskoon van die buitelug kan ‘n wêreldse verskil aan jou perspektief maak. Boonop kan gereelde blootstelling aan sonlig jou in ‘n positiewe luim bring en seisoenale depressie afweer, ongeag welke buitelugaktiwiteit jy geniet (klim ‘n slag uit die kas en probeer iets anders soos kanovaart, rotsklim of spansport). Net die beweging van jou liggaam kan help om jou lewensuitkyk en selfs simptome te verbeter.

As jy gespanne voel

Almal van ons is besig. Ons neem te dikwels meer verantwoordelikhede op ons skouers as wat ons kan hanteer. Wanneer die lewe handuit ruk wil ons soms die handdoek ingooi, maar dit is moontlik om te ontspan sonder om jou verantwoordelikhede opsy te skuif.

Oefeninge wat jou luim verbeter: Liggaam/gees oefeninge soos joga, Pilates, of Tai chi.

Verstandelike/liggaamlike oefeninge verg fokus, geduld en aandag. Dit is ingewikkeld om die korrekte vorm van asemhaling te bly toepas. Asemhaling bind die gedagtes en die liggaam saam en daarom is dit onmoontlik om aan jou inkopielys te dink terwyl jy byvoorbeeld besig is met ‘n deeglike joga- of Pilatesklas.

Die stil, mediterende atmosfeer wat in sulke klasse en tydens die videos heers stel jou in staat om by die huidige oomblik in te skakel. Dit is iets wat mense wat baie stres ervaar meer dikwels behoort te doen! Indien jy dink dat jy te besig of te oorweldig is om te probeer om by so ‘n klas in te skakel, gebruik dan kort videosessies wat gewoonlik in 10- tot 30- minuut afdelings opgedeel is.

Het jy al ooit na afloop van ‘n oefensessie vir jouself kon se: “Ek wens dat ek dit eerder nie gedoen het nie. Dit was net ‘n vermorsing van my tyd.” Baie onwaarskynlik. Jy sal byna altyd na afloop van ‘n goeie oefensessie fisies, verstandelik en emosioneel beter voel. Ongeag die rede waarom jy uitvlug soek, sal jy vind dat oefening ‘n bruikbare hulpmiddel is om jou reg te ruk, jou negatiewe ingesteldheid weg te werk en jou terug na jou normale self te kry. Waarvoor wag jy?

Maak oefening ‘n plesier

Lees verder by http://www.verslank.net/index.php?option=com_content&task=view&id=21&Itemid=28
Lees meer

Gebruik die soekwoord “oefening” om by www.verslank.net heelwat meer oor hierdie belangrike onderwerp te lees.
Aanhaling: People who don’t know how to keep themselves healthy ought to have the decency to get themselves buried, and not waste time about it.

Outeur: Henrik Ibsen 1828-1906, Noorweegse Dramaturg

You may also like...