Oefeninge om vinnig gewig te verloor
Jy doen heel waarskynlik reeds ‘n paar van die dinge wat nodig is om te verslank. Die geheim is egter om te weet hoe om bepaalde oefeninge te doen vir maksimum gewigverlies.
Wanneer jy byvoorbeeld loop of trappe klim, is jy reeds besig met die beste oefeninge vir vinnige gewigverlies. Al wat jy moet doen om die beste voordeel daaruit te kry is om die frekwensie en die tyd wat jy aan hierdie hartklop-aktiwiteite bestee op die regte vlak te kry.
As jy nie seker maak dat jy elke dag 45 tot 60 minute flink en energievol aan hierdie aktiwiteite deelneem nie, sal dit jou net moeg maak en jy sal min gewig verloor. Die sleutel is bestendigheid – jou liggaam moet gereeld werk.
Watse oefeninge jy ookal kies, maak seker dat jy al jou energie daarin sit. Jou hartklop moet hoog bly sodat die bloed regdeur die hele oefentyd vinnig pomp. Agterna moet jy behoorlik afkoel.
Wanneer jy byvoorbeeld flink stap, moet jy die laaste paar minute stadiger gaan om jou liggaam tyd te gee om af te koel. As jy skielik stop kan dit spierkrampe veroorsaak en dit is nie goed vir jou hart nie. Hou die tempo matig vir lank genoeg om jou hartklop tyd te gee om na normaal terug te keer.
Dit is belangrik om baie water te drink terwyl jy oefen, sodat jou reserwes aangevul bly. Dit help ook om krampe te verhoed.
Hier is die sewe beste oefeninge om vinnig te verslank. Begin geleidelik sodat jou liggaam tyd het om by jou oefenprogram aan te pas:
1. Hurke: Puik oefening vir versterking van been- en boudspiere. Staan met jou voete skouerwydte uitmekaar en hurk 10-20 keer af en op in twee of drie stelle met kort tussenposes.
2. Hurkspronge: Onthou jy jou skooldae? Dit is een van die beste aerobiese oefeninge vir die hele liggaam. Doen vier of vyf stelle van 20 vir die beste resultate.
3. Trappe: Klim ‘n paar keer trappe terwyl jy huis skoonmaak of trek, dan sal jy weet hoeveel energie hierdie oefening verg. Trapklim het talle voordele: dit verbrand kalorieë, versnel hartklop, is puik aerobiese oefening en bou been- en boudspiere. As jy nie trappe het nie, gebruik ‘n kassie. Klim 20 keer op en af, rus en herhaal twee- of driemaal.
4. Loop: Vinnig of stadig is goed, maar vinniger is beter. As jou doel is om vinnig gewig te verloor, kan jy tot 180 kalorieë binne ‘n halfuur met flink stap verbrand.
5. Fietsry: Die buitelug is heerlik, maar statiese binnenshuise fietse werk net so goed om vinnig gewig te verloor. Indien jy voldoende weerstand toepas en die regte tempo handhaaf, kan jy tussen 250 and 500 kalorieë in ‘n halfuur verbrand.
6. Swem: ‘n Heerlike pret-oefening vir baie mense. Dit verskaf uitstekende cardio-oefening wat jou hele liggaam laat werk. Borsslag vir ‘n halfuur kan 400 kalorieë verbrand.
7. Springtou: Nie kinderspeletjies nie. Volwassenes kry uitstekende, ongeëwenaarde oefening vir die hele liggaam na slegs 15 tot 20 minute.
Daar het jy dit: sewe van die allerbeste oefenmetodes, meesal binne maklike bereik, om jou te help om vinnig gewig te verloor.
Besoek en hou asb van ons Facebookblad: https://www.facebook.com/gesond.verslank