Ondersteun anoreksielyers

Hoe Ondersteun ek my Anoreksiese Vriendin?

Anoreksie is ‘n ernstige en ‘n potensiële dodelike versteuring. Die werklike oorsaak is onbekend, maar daar word aanvaar dat ‘n aantal faktore soos emosionele en fisieke faktore asook sekere gedragspatrone daartoe kan bydra.

As ons vir hierdie mense bid, moet ons nie preek of voorgee dat ons kenners op die gebied is nie. Dit is ‘n sensitiewe saak wat baie pyn en kommer veroorsaak vir die anoreksielyer, die ouers en vir vriende.

Wat belangrik is, is dat jy hulle moet liefhê en vir hulle moet bid. Die volgende is ‘n paar gedagtes wat jy met jou vriende kan deel oor hoe om te bid en om te gee vir mense wat aan anoreksie ly. Jou gebede sal ‘n verskil maak, want God antwoord gebed.

Disfunksionele gesinne:

Mense wat aan anoreksie ly, woon dikwels in disfunksionele gesinne. Soms mag die verhoudings in ‘n gesin daartoe lei dat jongmense in die strik trap veral as die pa en/of die ma baie dominerend is en/of oorbeskermend.

Die kind mag dit sien as outoritêre beheer en dat daar geen vryheid is om sy eie besluite te neem nie. Nog ‘n probleem is dat daar soms nie openlike en eerlike kommunikasie in die gesinskring is nie. Bid en vra die Here om die gesin te wys of daar enigiets in die gesinsopset is wat anoreksie kan veroorsaak. Bid dat daar nie ontkenning sal wees nie en dat die ouers nie bedreig voel nie, maar dat hulle gewillig sal wees om daaraan te werk en as dit nodig is, berading te kry.

‘n Vals gevoel van Beheer:

Soms mag jongmense voel dat hulle nie erken word vir wie hulle is nie, vir hulle gawes en waartoe hulle in staat is nie. Daar is dikwels ‘n sterk drang om te beheer. Deur hulle eetgewoontes probeer hulle “beheer” oor hulle eie lewens kry en daardeur wys dat hulle in staat is om iets op hulle eie te doen.

Bid dat jongmense die nutteloosheid van sulke denkpatrone sal insien en dat hulle gewillig sal wees om hulle lewens aan Jesus Christus en die Heilige Gees oor te gee om hulle laste te dra, sodat hulle volkome bevryding en aanvaarding kan beleef.

Oorgawe:

Bid dat hulle sal verstaan dat God in beheer is van alles en dat hulle kan ontspan. As God in beheer is, is daar geen verwerping nie, daar is geen behoefte om jouself te bewys of aanvaarding te probeer verdien nie. Jy kan net jouself wees.

Identiteitskrisis:

Anoreksielyers worstel dikwels met ‘n identiteitskrisis en het dikwels ‘n totaal verkeerde siening van hulle eie waarde en veral van hulle eie liggame. Sommiges haat hulle liggame om verskillende redes en voel dat hulle dit kan regstel deur hulle eetgewoontes radikaal te verander.

Bid dat hulle hul identiteit in Christus sal vind en in staat sal wees om hulleself te sien soos God hulle sien. Vra dat hulle sal verstaan dat God hulle onvoorwaardelik liefhet, dat Hy hulle gemaak het en trots is op hulle.

Verwerping:

Sommige van hulle vrees verwerping en voel dat as hulle gewig kan verloor, hulle meer aanvaarbaar sal wees vir ander mense. Bid dat hulle die liefde en aanvaarding van vriende en familie sal ervaar en ook die aanvaarding van God.

Vra dat hulle sal verstaan dat God hulle waardeer en in hulle glo omdat Hy hulle gemaak het en die mooiste planne vir hulle het (Jeremia 29:11-14).

Word gerespekteer as ‘n persoon:

Alle mense het minstens twee basiese behoeftes: om liefgehê te word (versus verwerping) en om waarde te hê, om iets te kan bydra. Vra die Here om jongmense deur die Heilige Gees te oortuig dat hulle liefgehê word, dat hulle belangrik is en dat hulle nodig is.

Vra dat mense van buite anoreksielyers sal help deur hulle met respek te behandel op so ‘n wyse dat hulle waardevol en geliefd voel.

Verwronge selfbeeld:

Anoreksielyers is dikwels bang vir sosiale interaksie, het ‘n lae selfbeeld en is bang om voor mense te eet. Hulle is dikwels perfeksioniste. Hulle is geneig om hulself te onttrek en ‘n verwronge begrip van wie hulle regtig is, begin ontwikkel. Gevolglik begin hulle voel dat mense hulle verwerp en dit is die rede waarom hulle so ongemaklik voel. Die kern hiervan is ‘n verwronge selfbeeld.

Bid dat alle leuens oor wie hulle in Christus is, geopenbaar sal word en dat hulle bevry sal word van hierdie leuens. Leuens en onkunde bind ons, maar die waarheid maak ons vry.

Moed om die waarheid te erken:

Vra die Here om gewilligheid in die harte van anoreksielyers te werk om hulle probleem te erken en hulp te gaan soek.

Verwronge beeld van geluk:

Hulle ontken die meeste van die tyd dat hulle ondergewig is. Hulle voel dat geluk nie vir hulle bedoel is nie en hulle streef na perfeksie.

Bid dat hulle sal verstaan dat God hulle geskep het sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed (Johannes 10:10).

Dek hulle toe in gebed:

As jy vir hulle bid, onthou om in die Naam van Jesus die gees van die dood, leuens en vernietiging te weerstaan (Jakobus 4:7).

Aanvaarding deur vriende en familie:

Die belangrikste is dat hulle as mense aanvaar word. Moenie kwaad word en hulle veroordeel nie. Bid dat familie en vriende hulle ook so sal behandel.

Bly staan:

Bid met hoop, met geloof. Lees die Woord en bid God se beloftes van hoop en lewe oor hierdie kinders so dikwels as wat die Heilige Gees jou herinner.

Aanhaling: Take care of your body with steadfast fidelity. The soul must see through these eyes alone, and if they are dim, the whole world is clouded.   Outeur: Johann Wolfgang Von Goethe 1749-1832, Duitse digter, dramaturg en romanskrywer

You may also like...