Oorgewig en jou gevoelens
Hoe voel jy oor jou Oorgewig?
Wat doen ek as….?
• Wat as jy vet, ongewens, ongeliefd, nutteloos en verwerp voel?
• Wat as jy hierdie gevoelens met feite kan staaf en dit nie net blote gevoelens is nie?
• Waar is God as ek na Hom uitroep oor hierdie dinge?
Meer as 50% Christene sal nie maklik erken dat hulle ook af-dae het nie. Dae wanneer hulle stry teen hierdie en soortgelyke gedagtes. Baie Christene oorweeg selfs selfmoord, maar sal dit nooit erken nie, aangesien dit ‘n skande sou wees! Hoe hanteer ek en jy sulke gevoelens en oorweldigende realiteite op ons af-dae?
Die werklikheid is dat selfs maer mense baie keer vet voel, mooi mense lelik en goeie mense ongewens en ongeliefd.
Aan die ander kant is sommige vet en arm mense partykeer baie meer gelukkig as slim of ryk mense.
Selfs al sukkel mens met oorgewig, vind die eintlike stryd tussen lig en duisternis in ons gedagtes en ons optrede plaas.
Die belangrike sleutel is om Jesus daarvan te vertel. Ons praat baie keer net met ons vriende, familie of beraders oor hierdie goed. Wanneer laas het ek en jy ‘n eerlike gesprek met God gehad oor hierdie dinge?
Praktiese wenk:
Neem tyd om met God alleen te wees. Moenie vandag te geestelik probeer wees nie. Praat met Hom oor jou gevoelens en die feite wat jou so ontstel op af-dae. Neem ‘n besluit om nooit weer hierdie dinge vir jouself te hou nie. Hy is die enigste Een wat ons regtig kan help.
Gebed:
Vader, ek voel so verwerp in my emosies en in hoe ek lyk, dat ek begin dink het dat U ook so oor my voel. Here, reinig my vandag van al hierdie verskriklike neerdrukkende gevoelens. Vervang dit met die waarheid oor hoe U my sien. Laat U weë my weë word, sodat ek myself, ander en die lewe deur U oë kan sien.
Met erkenning aan Jerigo Mure gebedsgids: http://www.jwipn.com/
Aanhaling: Doing good to others is not a duty, it is a joy, for it increases our own health and happiness.
Outeur: Zoroaster BC 628-551, Persiese geestelike leier en stigter van Zoroastrianisme