Oorgewig is ‘n resultaat

Oorgewig is ‘n resultaat eerder as ‘n toestand

As jy oorgewig is, dan is dit gewoonlik die gevolg van ‘n bepaalde leefstyl, ingesteldheid en gewoontes. Dit help nie om oor die simptoom te tob nie. Dit sal ook nie help om op hol te raak agter allerhande metodes, foefies en kortpaaie aan om van die resultaat ontslae te raak nie. Jy sal die aanleidende oorsaak moet aanspreek.

Die resultaat is nie net oorgewig nie, dit lei ook onder andere tot swak gesondheid, ‘n swak selfbeeld, ondermyn lewenskwaliteit en kan verhoudings vernietig.

Beide oorgewig en swak gesondheid bekruip jou gewoonlik wanneer jy teen jou beterwete en teen goeie advies in ‘n leefstyl handhaaf wat dinge soos gemorskos, gejaagdheid, stres, oordadigheid en min oefening behels.

Gesondheid moet egter altyd eerste kom. As ons gesond leef sal oorgewigprobleme byna sonder uitsondering vanself verdwyn.

Sekere hulpprodukte kan onder bepaalde omstandighede help, maar indien jy ‘n wonderpil soek en net daarop wil staat maak om jou gewig onder beheer te kry terwyl jy steeds eet wat jy wil wanneer jy wil, min oefening kry en jaag na wind dan is jy by die verkeerde adres: ek kan jou nie help nie en ek verstout my om te beweer dat niemand dit volhoubaar kan doen nie.

Pille en “wonder rate” is net veilig indien jy hulle as ‘n hulpmiddel sien. Gebruik hulle om aan te vul by ‘n gesonde leefstyl en slegs indien jy werklik oorgewig is en jy reeds al die leefstylaanpassings gemaak het wat nodig is.

Indien jy nog nie min of meer volgens die riglyne in die eetplanne by www.verslank.net eet nie en nie gereeld oefening kry nie, behoort jy nie eens te dink aan hulpprodukte nie.

‘n Gebalanseerde eetpatroon, gereelde matige oefening en ‘n stresvrye verhoudingslewe met jou Skepper en jou medemens is die basis vir goeie gesondheid en die pad na ‘n liggaam om op trots te wees.

Indien jy dit alles reeds in plek het, maar steeds sukkel om gewig te verloor, kan jy produkte oorweeg wat jou liggaam help om deur die versperring te breek. Maak egter seker dat wat jy gebruik veilig is deur dit deeglik na te vors en by kundiges raad te vra.

Meet eerder as om te weeg

Dit is vir verskeie redes beter om jou mate te monitor as om jou te weeg. Gewig kan verwarrend en misleidend wees omdat sommige mense van nature swaarder weeg as ander van dieselfde lengte, en spiermassa weeg swaarder as vet.

Vergeet dus van die skaal, raak ontslae van enige gewigs-fiksasie wat jou treiter en help jou liggaam deur gesond te leef om stilletjies, op natuurlike en volhoubare wyse van enige oortollige vetjies ontslae te raak.

Lees meer hieroor en oor die ideale mates vir mans en vroue deur die soekfasiliteit op hierdie webwerf te gebruik.

Daar sal jy ook riglyne vind vir oefening, eetpatrone, kontrole van die insulien-respons, aandag aan jou selfbeeld ens.

You may also like...