Oud, maar nie koud nie

Ouderdom is waardevol

Wysheid kom in die gryse ouderdom en insig na baie jare.   Job 12:12

Is ou mense waardevol?  Bemarking en produkontwikkeling van groot maatskappye word op die ouderdomsgroep 18 tot 44 jaar toegespits.  Daar is maar min vir die ouer geslag.  Hoekom gebeur dit? 

Ons gemeenskap is behep met jeug. Daar is ‘n ongemaklikheid oor die idee van oud word.  Al word almal ouer, die besigheidswêreld probeer dit ontken.  Feit is egter dat

  • Die vinnigste bevolkingstoename is in die ouderdomgroep ouer as 55 jaar.
  • Hierdie groep is relatief welgesteld.
  • Hierdie groep het nog baie dekades voor hulle om hulle geld te spandeer.
  • Hulle is gewoond aan goeie diens.
  • Hulle kry nou slegte diens.    

Is ons as ouer mense nie dalk deel van die probleem nie?  Ek dink aftree is belangrik, maar dan moet ons besin oor wat vorentoe.  Hoe kan ek al my jare se ondervinding terugploeg in die gemeenskap? Meeste van ons ouer mense is al so gebreinspoel dat hulle dink dat hulle geen verdere bydrae kan lewer nie.  Dis nie waar nie.  Kom ons kyk. 

Veroudering, die omgewing en ek!

Kyk rondom jou.  Daar is baie dinge wat soos hulle ouer word, toeneem in waarde.  Hoekom gebeur dit?  Kom ons kyk na ‘n paar dinge: 

1.    Whisky en wyn. 

Whisky is afgelei van ‘n Iers/Skotse (Gaeliese) woord wat “water van die lewe” beteken.  Fynproewers is bereid om baie geld te betaal vir ‘n bottel ou whisky, want die gehalte is soveel beter.  Veroudering verminder die ongewenste kwaliteite en voeg gewenste kwaliteite by. 

Ons beskryf ook dikwels jong mense as oppervlakkig – hulle kom nog van die goeie karaktertrekke kort.  Ondervinding sal nie noodwendig ‘n slegte persoon goed maak nie, maar dit sal ‘n goeie persoon baie beter maak. 

Die voor- en nadele van veroudering kan nie van mekaar geskei word nie.  Veroudering behoort egter die waarde van die mens te verhoog.  Soos met whisky word die gewenste kwaliteite meer en verbeter die karakter van die persoon.  Presies dieselfde gebeur met wyn – veroudering verbeter die kwaliteit. 

2.    Kaas. 

In die maak van kaas is veroudering – rypwording – ‘n belangrike proses.  Die kase wat in lande soos Frankryk, Switserland, Holland, ens gewild is, is kase wat beleë is.  In hulle kry ons die reuke en geure wat mense aantrek – hooi, sampioene, neute en ander goeie dinge.  Ook in ou mense is daar baie wat mense aantrek. 

3.    Beesvleis. 

Mense betaal vir beesvleis wat reg rypgemaak is, want hierdie proses maak die vleis geuriger en sagter.  Weer eens, veroudering vermeerder die gewenste kwaliteite.   

4.    Bome. 

Dink maar aan die ou groot geel- en stinkhoute daar by Knysna.  Hulle is oud, maar hulle is waardevol.  As ou mense trots is op hulle ouderdom, is hulle nie soos hierdie bome nie?  Hulle het die slaggate van ’n roekelose jeug vermy.  Hulle grys hare en plooie is tekens van oorlewing – dit is mooi. 

5.    Viole. 

Hoe beter die viool waarmee jy begin, hoe beter word dit met ouderdom.  Maar daar is ‘n voorwaarde: dit moet gereeld bespeel word.  Viole word “ryp” deur gebruik. 

6.    Oudhede. 

Hoekom is oudhede so waardevol?  Natuurlik is hulle skaars, maar hulle is ook ‘n band met die verlede.  

In Okinawa, een van die Japannese eilande, is daar ‘n besondere hoë persentasie baie ou mense.  Die inwoners beskou hulle as baie waardevol en probeer alles in hulle vermoë om hierdie seniors by alle gemeenskaps-aktiwiteite te betrek. 

Hoekom laat ons nie ou mense toe om hulle stories te vertel nie?  As hulle deel van ‘n uitgebreide gesin is, dien hulle as band met die verlede.  Is dit nie vir ons kinders belangrik om dit te hoor nie? 

In die laat sewentigerjare het ek by my Pa aangehou om sy stories op band op te neem. Sy 156 stories is nou ‘n bron van groot vreugde vir my. Wat ‘n voorreg om sy stem te hoor nadat hy reeds vir meer as 30 jaar oorlede is, om te hoor van dinge wat gedurende die Anglo-Boere oorlog gebeur het, ens.

Sy kleinkinders wat hom nie geken het nie, kan hom so leer ken en leer uit sy ervarings en getuienis. Kosbare en kostelike stories wat vir altyd verlore sou wees, kan nou deur die nageslag geniet word.    

Maar nou moet ons eers die dinge bymekaarbring.  Wat het ons uit die whisky, wyn, kaas, vleis, bome, viole en oudhede geleer?  Hierdie is maar net voorbeelde van veroudering wat waarde toevoeg.  En die mens?   Verhoog veroudering nie ook die waarde van die mens nie?  Ek glo dat veroudering: 

  • My lewe ryker maak.
  • Die oppervlakkigheid van die jeug met diepte en volwassenheid vervang.
  • Die gewenste eienskappe van my persoonlikheid versterk en die ongewenste eienskappe verminder.
  • Die emosionele en geestelike aspekte van my lewe versterk.
  • Die voordele van oorlewing oordra.
  • My gesag as ‘n lewende band met die verlede versterk. 

Daar is belangrike lesse wat ons moet leer uit al hierdie voorbeelde.  

1.    Al hierdie dinge is waardevol, nie oor wat aan die buitekant is nie, maar oor wat binne is. 

‘n Viool gemaak deur Antonio Stradivari (oorlede in 1737) is waardevol, nie omrede sy voorkoms nie, maar omrede die klank wat uit hom kom. 

Ongelukkig is die fokus van die wêreld op die uitwendige.  Daar is maar min fotos van ons ouer mense op die buiteblaaie van tydskrifte.  Maar onthou ons waarde lê in wat binne ons is. 

2.    Geduld is belangrik.  As ek ‘n goeie wyn koop, is ek dikwels nie bereid om te wag nie – ek wil hom dadelik drink.    

Verminder die waarde van ‘n mens se lewe met ouderdom?  Dit is ongelukkig die oordeel van baie mense in die gemeenskap.  Ons leef toenemend in ‘n jeug-georiënteerde samelewing.  “Old and gray and only in the way,” sê baie van die jongmense. 

Hierdie negatiewe siening van veroudering moet nek omgedraai word.  Oud word is nie ‘n ramp nie.  Daar is sekerlik nadele aan oud word, maar daar is ook voordele.  Dink maar aan die voorbeelde uit ons omgewing.  Ek is oud, daarom is ek waardevol!  

 

Maak jy voorsorg vir die toekoms? 

Met dit as agtergrond, glo ek dat al ons verslank-netters moet seker maak dat ons voorbereid is om die herfs- en winterjare te geniet.

Ons kan dit net doen as ons NOU, terwyl die fondasie gelê word, reg eet, gereeld matig oefen, goeie verhoudings nastreef en sorg dat ons liggame al die voedingstowwe inkry wat hulle nodig het om gesond te bly. So draai ons sommer ook briek aan teen die verouderingsproses.    

You may also like...