Rou groente of gekookte groente?

Wat is beter wanneer dit by die metode kom waarop groente en vrugte voorberei word: moet ons dit rou of gekook eet?

Met soveel botsende inligting wat in verband met voeding wat oor en weer rondtrek, weet ons dikwels nie meer wat reg of verkeerd is nie. Dit lyk of die kundiges ook verskil. Wie moet  mens dan nou glo?

Neem byvoorbeeld die kwessie van wat is beter, rou of gekookte groente. Die rou kos entoesiaste glo dat jy nie beter kan doen as om jou groente vars en rou te eet nie.

Neem bv. ‘n wortel: sodra jy dit uit die grond trek, begin dit agteruitgaan. Verhitting versnel agteruitgang en vernietiging van belangrike voedingstowwe soos ensieme, vitamine en minerale.

Dalk sal jy dus verbaas wees om te weet dat die kookproses eintlik die voedingspotensiaal van sekere groentesoorte kan ontsluit. Harde selwande word sag gekook wat vertering en vrystelling van nutriënte vergemaklik.
Die kragtige anti-oksidante in tamaties word byvoorbeeld aansienlik deur die kookproses versterk. Talle groentes stel meer biologies-beskikbare anti-oksidante beskikbaar wanneer hulle gaar gestoom of gekook word as wanneer hulle rou is, MITS die stoom- of kookproses met die mins moontlike hitte gedoen word.

Rou boerekool en broccoli bevat bestanddele wat skildklierfunksionering by sommige persone kan benadeel. Die probleem kan egter bekamp word deur die groente te kook. Sulke saggekookte groente word ook makliker verteer. Daar is dus heelwat voordele aan lig-gekookte groentes en ons hoef nie skuldig te voel om groente gaar te maak nie.

Dit is egter so belangrik dat ons moet herhaal: maak seker dat die kookproses met die laagste moontlike hitte en die minste water gedoen word.

Die volgende groentesoorte is beter gaar as rou:
Pampoen en ander winterskorsies
Aspersies
Tamaties
Sampioene
Rissies
Spinasie
Wortels

Dit is ‘n ingewikkelde proses om die voedingswaarde van rou en gaar groentesoorte te vergelyk. Soms is daar voordele sowel as nadele.  Daar bestaan steeds talle raaisels oor die interaksie tussen plantmolekules en die menslike liggaam.

Eet ‘n verskeidenheid groente- en vrugtesoorte op verskillende maniere. Dan ontvang jy die voordeel van ‘n verskeidenheid nutriënte wat deur verskillende metodes voorberei is. Die belangrikste les is om genoeg groente en vrugte te eet, ongeag hoedat hulle voorberei word.

Ten slotte: probeer altyd om organies-gekweekte gewasse te bekom, hoe varser hoe beter. En vermy geneties-gemanipuleerde produkte sowel as enige afwyking van die natuurlike proses.

Besoek ons by Facebook met ‘n “Like” asb: klik hier

You may also like...