Slaap in die donker
Ligte af vir slankheid en rustigheid
‘n Donker slaapkamer bring gemoedsrus
Veranderings wat na depressie lei kan in jou brein plaasvind as jy in ‘n verligte vertrek slaap. Navorsers by die Staatsuniversiteit van Ohio het in eksperimente met die breine van rotte bevind dat wanneer hulle elke aand aan lig van selfs lae intensiteit blootgestel word, dit die digtheid van die haar-agtige groeisels op breinselle verlaag en sodoende hulle doeltreffendheid benadeel. Hierdie groeisels stuur chemiese boodskappe van die een sel na die ander om buie te reguleer.
Volgens die outeur van die studie, Tracy Bedrosian, word die hormoon wat nodig is vir die ontstaan en groei van hierdie groeisels, naamlik melatonien, deur kunsmatige lig in die slaapkamer onderdruk. In die studie is liginensiteitvlakke gebruik wat soortgelyk is aan die vlakke waaraan ‘n persoon blootgestel sal word wat in ‘n donker kamer voor die TV aan die slaap raak.
Alhoewel meer navorsing nodig is, word aanbeveel dat jy eerder alle ligte afskakel.
Nagligte kan vetsug bevorder
Dieselfde navorsers het bevind dat muise wat met ‘n naglig leef gewig optel sonder dat hulle meer eet. Die lig in die nag lei daartoe dat hulle op verkeerde tye eet met die gevolg dat die kos nie behoorlik gemetaboliseer word nie.
Die muise wat aan lig blootgestel is het 50% meer gewig opgetel as die kontrolegroep. Hierdie bevindings suggereer dat as dieselfde tendense by mense voorkom, laat nagte by die TV of rekenaars ons metabolisme sal deurmekaarkrap.
Lig in die nag lyk na ‘n omgewingsfaktor wat op onverwagte maniere bydra tot die vetsugepidemie.
Naglig en jou bloedsuikervlakke
Die muise onder die nagligte het ook tekens getoon van verhinderde glukose-toleransie, ‘n aanduiding van dreigende diabetes.
Hierdie bevindings stem ooreen met die breësienswyse wat ons by www.verslank.net onder lesers se aandag bring, naamlik dat die natuur beter weet. As dit vir ons goed was om elke aand by kunsmatige lig te slaap dan sou die Skepper dit so georden het.