Twaalf gewigverlieswenke
‘n Dosyn wenke vir gewigverlies
Die geheime resep vir volhoubare gewigverlies is om minder te eet en meer te oefen.
Dit is natuurlik vir die meeste van ons makliker gesê as gedaan. Feit bly staan dat nie een van die talryke sogenaamde deurbrake in gewigbeheer of enige van die dieetgiere wat kom en gaan enigsins ‘n verskil aan die wêreldwye vetsug-epidemie gemaak het nie.
Hier volg twaalf nuttige wenke vir suksesvolle en volhoubare gewigverlies:
1. Eet voedsame, natuurlike kosse met min kalorieë, soos groente, heelgrane, peulgewasse en vars vrugte soos aangedui in die eetplanne by www.verslank.net.
2. Moenie oor-eet nie. As jy stadig genoeg eet en deeglik kou, sal die honger weggaan voordat jy te veel ge-eet het.
3. Drink vier glase water wanneer jy opstaan, eet minstens 45 minute daarna en drink nog ten minste 4 glase deur die dag, verkieslik so 45 minute voor maaltye om jou aptyt te temper. Klik hier vir meer oor waterterapie: http://www.verslank.net/index.php?option=com_content&task=view&id=124&Itemid=2
4. Geniet ‘n koninklike ontbyt, ‘n goeie middagete en ‘n aandete vir armlastiges. Jy het die energie deur die dag nodig, nie wanneer jy slaap nie.
5. Onthou dat alkohol en die meeste sportdrankies en sappe kalorieë bevat.
6. Oefen gereeld – ten minste een uur per dag – met strek- en versterkende oefeninge en 30 tot 45 minute van aerobiese aktiwiteit ten minste viermaal per week.
7. Vermy hoëvet, geprosesseerde en hoëkalorievoedsel soos lekkergoed, koekies, gebak, koeldranke, aartappelskyfies, kaas en verwerkte vleise.
8. Vergewe jouself liefdevol oor gewigprobleme en wanneer jy van jou eetplan afwyk. Kom gou weer terug op die spoor en fokus op laevet, lae-kalorie, heilsame kossoorte.
9. Onthou dat daar talle emosionele en genetiese faktore en snellers by jou gewigprobleem betrokke kan wees. Daarom sal jy waarskynlik ondersteuning nodig hê om werklik die probleemgewoontes te verander.
10. Die beslissende proses vir gewigverlies is die lang, stadige een wat vereis dat jy jou eetgewoontes lewenslank verander, eerder as om op diëte te gaan. Sodoende sal jy goeie gesondheid en ‘n liggaam met die toepaslike gewig vir jou eie, unieke liggaamsbou tot stand bring.
11. Vermy kunsmatige versoeters (ook dié in laesuiker koeldranke) en alle kitsoplossings,
12. Beveg spanning met onspannende oefening eerder as met kos.
Aanvaar jouself as onvolmaak maar steeds pragtig, geskape na die beeld van jou Skepper. Raak ontslae van enige gewigs-fiksasie en streef eerder na ‘n middellyf-omtrek van tussen 70 en 84 cm vir vroue en tussen 80 en 91 cm vir mans. Vir meer hieroor, kyk die nuusbrief by http://www.verslank.net/index.php?option=com_content&task=view&id=101&Itemid=2
Hierdie raad klink miskien eenvoudig, maar as dit so was dan sou daar min oorgewig mense gewees het. Byt vas, kry ‘n ondersteuningsgroep en wees bereid om te vra vir raad, ondersteuning en vir voorbidding.
Ek het baie natuurlike voedselsoorte ge-eet totdat ek gehoor het hoeveel mense aan natuurlike oorsake sterf.