Vas en gebed
God se Riglyne vir Gesondheid en Gewigbeheer: Vas en Gebed
Die blote opstel van hierdie besondere nuusbrief het vir my meer beteken as enige van die voriges. Die Here het vir my in die proses gewys hoedat ek ontslae moet raak van ‘n paar dinge wat steeds my verhouding met Hom en dus ook my geestelike lewe en groei aan bande lê.
Vir dekades lank het ek die idee van vas vermy asof ek sou sterf as ek moes gaan slaap sonder dat ek die dag iets ge-eet het. Nou, nadat die grootste gedeelte van my lewe agter die rug is, besef ek eers die ontsettende waarde van die vas vir sowel my fisiese as my geestelike lewe. Boonop word dit binne ‘n baie kort tyd iets waarna jy uitsien en wat jy geweldig baie geniet omdat die bietjie honger wat in die begin gevoel word te midde van al die fisiese en geestelike voordele in die niet verdwyn.
Stormie Omartian behandel vas en gebed in haar boek “Greater Health God’s Way” op so ‘n oortuigende wyse dat die mees geharde teëstaander van die idee van vastye tot ander insigte kom.
Om te vas is nie ‘n marteling nie: dit is die sleutel tot beter lewenskwaliteit. Dit is ‘n metode om by die baie groter begeertes en behoeftes van die innerlike mens uit te kom. So kan jy wonderlike nuwe dinge oor jouself leer en kan nuwe moontlikhede vir jou oopgaan.
Wat sê die Bybel hieroor?
Volgens Jesaja 58:6 is die Here se wil vir ons as ons vas om ons los te maak van die bande van goddeloosheid, om die stroppe van die juk af te haal en ons vry te maak van verdrukking.
Wie van ons voel nie dat daar ‘n stukkie kwaad erens in ons lewens skuil nie? Sal jy nie ook graag die duiwel se planne in jou lewe wil ondermyn nie? Wie wil nie minstens nog net een las van sy/haar skouers afgooi nie? Wil jy van ‘n vorm van verslawing of verdrukking ontslae raak en meer vryheid in jou innerlike wese ervaar?
Al hierdie voordele en nog baie meer wag om met jou en deur jou te gebeur. Om die waarheid te sê, volgens die Skrif is daar sekere dinge wat slegs deur gebed en vas kan plaasvind en op geen ander manier nie.
Onkunde en vrees: die vyand se wapens
Waarvoor wag ons dan? Waarom die aarseling? Dit is net onkunde en vrees wat ons van al hierdie wonderlike voorregte weerhou. Vrees dat ons kan sterf as ons een aand sonder kos gaan slaap.
Die Bybel verwys meer as 80 keer, in die ou Ou sowel as in die Nuwe Testament na vas. Dit is ‘n gevestigde, bewese, praktiese Bybelse dissipline wat deur God self ingestel is en wat deur baie hoog aangeskrewe mense beoefen word.
In Matteus 6:16 maak Jesus dit duidelik dat Hy van ons verwag om te vas: Hy sê nie as julle vas nie maar wanneer julle vas, wat beteken dat Hy aanvaar dat ons dit sal doen.
Om te vas is nie ‘n verouderde, antieke gebruik nie: soos die Bybel, is dit vir vandag. Dit is skriftuurlik korrek en ‘n geestelike behoefte. Dit is ook in pas met God se riglyn oor ‘n rusdag – ook jou spysverteringsisteem het nodig om een dag per week ‘n ruskans te kry.
Ons het almal die neiging tot oordadigheid, om eerder te rook, te ooreet, nie te oefen nie en basta met longkanker, oorgewig, spanning op die hart en ander kwale. Dit is egter die moeite werd om in alle erns daarna te streef om aan die Here gehoorsaam te wees en om deur gereelde dissipline, vas en gebed nader aan Hom te leef.
Hier is 20 goeie redes waarom jy behoort te vas:
1. om Goddelike leiding, openbaring of ‘n antwoord op ‘n spesifieke vraag te kry
2. om God beter te hoor en Sy wil vir jou lewe meer volledig te verstaan
3. om die vyand se mag oor jou lewe te verswak
4. om groot probleme die hoof te kan bied
5. om vry te kom van verslawing
6. om geestelike krag en oorheersing te vestig
7. om jouself of ander van swaar laste te bevry
8. om ‘n deurbraak met depressie te maak
9. om die here uit te nooi om jou gees te hernu en vir jou ‘n rein hart te gee
10. om God se aangesig te soek en nader aan Hom te wandel
11. om by die Here leiding te kry wanneer Hy jou opdra om iets te doen wat jy nie dink jy kan doen nie
12. om vry te kom van bose en verswakkende gedagtes
13. om versoeking te weerstaan
14. om vry te kom van alledaagse sondes – trots, jaloesie, verwyt, gulsigheid, skinder ens.
15. om jou te help wanneer jy verward voel
16. om jou te help wanneer jou lewe buite beheer voel
17. om jouself te verneder
18. om vleeslike wellus oor enigiets te verbreek
19. om krag te vind
20. om God uit te nooi dat Sy krag met meer mag deur jou sal vloei
Daar is meer spirituele as fisiese aspekte verbonde aan vas, maar vir die doel van hierdie nuusbrief word meer aandag aan die fisiese voordele gegee.
Reinigende krag
Om te vas reinig jou gees, siel, gedagtes en liggaam tegelykertyd. Dit stel jou liggaam in staat om gifstowwe meer doeltreffend uit te skei en skep die ideale toestande vir genesingsprosesse. Dit is omdat die aansienlike krag en energie wat gebruik word om voedsel te verteer, assimileer en metaboliseer nou aangewend word vir reiniging.
Dit is waarskynlik die enigste manier om van sekere gifstowwe ontslae te raak. Die oorblywende residuele afval van medikasie soos aspirines, kalmeermiddels, pynverligters, antibiotikas en ander soortgelyke middels word so meer effektief uitgeskei.
Diere vas van nature wanneer hulle siekerig is. Dit is net varke wat dit nie vanself doen nie. Hulle probeer om hulle mae 24 uur per dag vol te hou. Ons Skepper het nie bedoel dat ons soos varke moet leef nie. Daar is reinigende krag in vas.
Fisiese voordele
Benewens die groter spirituele voordele, is die fisiese voordele van vas monumentaal. Jy sal byvoorbeeld na ‘n tyd van gereelde vas vind dat jy minder vatbaar is vir verkoues, griep, sinusprobleme en allergieë.
Dit help ook om ‘n verrineweerde spysverteringsisteem te herstel. Jou maag sal krimp, sodat jy makliker beheer hou oor die hoeveelhede kos wat jy eet. Dit leer jou smaakorgane ook weer reg sodat jy van nature voedsame kos bo gemorskos verkies.
Moenie die rol wat jou smaak speel onderskat nie: smaak word aangeleer. Onthou dat die sondeval by Adam en Eva deur smaak gekom het! Na drie dae van vas sal die eenvoudigste natuurlike kossoorte soos ‘n appel, ‘n gebakte aartappel of selfs gewone gestoomde groente na godespys smaak.
Gereelde vas sal jou help om beter eetgewoontes aan te leer en so gewig te verloor en gesonder te leef. Laekalorie-diëte is ‘n marteling. Vas is nie, dit is ‘n sinvolle Goddelike instelling. Met vas ervaar jy net vir ‘n dag of twee hongerpyne. Dit balanseer uiteindelik jou gewig, hetsy of jy oorgewig of te maer is. Dit maak dus sin dat dit ‘n instelling van God is, want Hy het nie die liggaam ontwerp om te vet of te maer te wees nie.
Hier is nog meer voordele wat jy kan verwag as jy hierdie sinvolle gewoonte aanleer:
1. dit vestig selfbeheer
2. dit bekamp en elimineer uiteindelik ongewensde hunkerings en swak gewoontes
3. dit vertraag die verouderingsproses
4. dit maak jou sterk (miskien voel jy swak na die eerste paar dae, maar jy sal later sterker as ooit wees)
5. dit stimuleer die liggaam om oortollige vet te verteer
6. dit elimineer liggaamsreuke en slegte asem
7. dit gee jou ‘n skoon vel en helder oë
8. dit elimineer kroniese moegheid
9. dit verhelder benewelde en wasige denke
10. dit verbeter selfbeeld en bevorder ‘n gevoel van welsyn
11. dit verlig stres, spanning en angstigheid
12. dit bring besparing op die voedselrekening
13. dit help jou om beter te slaap
14. dit verseker dat jy beter voel en lyk
Beheer oor ‘n lewe wat buite beheer is
Indien daar enige area in jou lewe is wat deur enigiets anders as deur God beheer word, dan is dit buite beheer. Beheer kan oorgegee wees aan dinge wees soos afguns, vrees, isolasie, depressie, hulpeloosheid, eetversteurings, medikasie, dwelms, alkohol, sigarette, ooreet, selfbevrediging, wellus, televisie, tydskrifte, irrasionele gedagtes, gemorskos, hunkering na suiker, trots – die lys kan onophoudelik aangaan.
Selfbeheer is ‘n vrug van die Gees. Verlies daarvan is ‘n saad van die vlees, en Satan floreer daarmee. Jy sal nooit volkome gesond kan wees met ‘n lewe wat buite beheer is nie. Dit wat jou beheer sal jou altyd dryf.
Selfs wanneer jy voel dat jou lewe vir geen waarneembare rede nie, buite beheer is kan jy dit met vas en gebed na God toe neem. Jy sal verbaas wees om te sien hoe gou jou fisiese, verstandelike en spirituele self op ‘n ferm, kalm en vaste fondasie geplaas word. Die resultate kom so gou dat dit lyk asof die “lewe-buite-beheer” gevoel reguit van die duiwel kom. Sy krag word geheel en al deur vas en gebed verswak.
Die wonderlike nuus is dat dit nie noodwendig lang, uitgerekte tydperke van vas hoef te wees nie. Slegs ‘n gereelde een dag van vas per week sal daardie verslawings afbreek en jou lewe onder God se beheer bring.
Wees versigtig
Daar is omstandighede waaronder jy nie moet vas nie. Tydens swangerskap, terwyl jy borsvoed, as jy uitermate ondergewig is of aan sekere mediese toestande lei. Dit kan ongewens of selfs gevaarlik wees om onder sulke omstandighede te vas. Later meer hieroor maar intusen net ‘n waarskuwing tot versigtigheid. As daar twyfel bestaan, klaar dit eers met kundiges uit.
Sien ook deel 2: Hoe om te vas
(Klik links bo by “Hoe om te vas” om direk na Deel 2 te gaan)
Aanhaling:
Die wenners in die lewe behandel hulle liggaam asof dit ‘n manjifieke ruimtetuig is wat aan hulle die allerbeste vervoermiddel met die beste uithouvermoë vir hulle lewens gee.
Outeur: Denis Waitley 1933-, Amerikaanse skrywer, geleentheidspreker, opleier en deskundige op menslike werkverrigting