Onwettige vetsug in Japan

Regering vermaer die middellyf van miljoene

Die Japannese regering sal deur sommige as skenders van menseregte bestempel word. Hulle weet egter wat die prys van oorgewig is en wat dit aan mense se lewenskwaliteit, die land se ekonomie en produktiwiteit kan doen. Hulle weet ook dat daar iets aan gedoen kan word. Ek gee hulle tien uit tien.

Onlangs is mnr. Minoru Nogiri, 45, die eienaar van ’n blomwinkel, deur amptenare van die stad Amagasaki ontbied. Hy moes in ’n ry gaan staan om die omvang van sy middel te laat meet. Hy het nie ’n boepmaag nie en die kans is skraal dat hy as oorgewig geklassifiseer kon word.

Aangesien die nuwe voorskrif, wat deur die regering uitgereik is, die omtrek van mans se middellywe streng tot 33.5 duim beperk, het hy benoud ’n paar dae tevore homself by die huis gemeet. “Ek is op die grens,” het hy gekreun.

Japan, ’n land wat tradisioneel nie bekend is vir oorgewig mense nie, het een van die mees ambisieuse veldtogte ooit deur ’n nasie van stapel gestuur om vervetting van sy burgers teë te werk.

Ingevolge nasionale wetgewing, wat in April 2008 in werking getree het, moet maatskappye en plaaslike owerhede die middellyf van Japanners tussen die ouderdom van 40 en 74 meet. Dit verteenwoordig meer as 56 miljoen middellywe!

Aan persone wat die regering se beperking oorskry – 33.5 duim vir mans en 35.4 duim vir dames – word van verslankingsdiëte voorsien. As hulle na drie maande nog nie gewig verloor nie, sal hulle vir verdere heropvoeding en spesiale ondersoeke gestuur word.

Die regering sal boetes aan maatskappye en plaaslike owerhede oplê wat versuim om spesifieke doelwitte te haal. Amptenare het met ’n doelgerigte poging begin om middellywe te meet. Hulle beklemtoon dat die veldtog die verspreiding van siektes soos suikersiekte en beroertes sal aanspreek en ook sal bydra om die middelywe van ’n steeds verouderende bevolking in toom te hou.

Toe die beurt van die blomwinkeleienaar, mnr. Minoru Nogiri van die stad Amagasaki aanbreek, het hy die kleedhokkie binnegegaan waar hy sy middellyf moes ontbloot, wat skaars sigbare vetjies by die heupe vertoon het. ’n Verpleegster het met ’n maatband om sy middel by sy naeltjie gemeet: 33.6 duim, 0.1 duim oor die beperking.

“Dis ’n groot terugslag!” roep hy uit, met ’n gesig wat neerlaag weerspieël.

Matsushita, een van die groot maatskappye in Japan, moet ten minste 80 persent van sy werknemers se middellywe meet. Hulle moet verseker dat 10 persent van persone wat oorgewig geag word teen 2012 en 25 persent teen 2015 gewig verloor.

As deel van hulle verskerpte pogings versprei die maatskappy handdoeke aan sy werknemers wat ook gebruik kan word as ’n maatband.

NEC, Japan se grootste vervaardiger van persoonlike rekenaars, dui aan dat as hulle nie hulle doelwitte haal nie, hulle tot soveel as $19 miljoen as boete sal moet betaal.

Kenzo Nagata, 73, ’n speelgoedwinkeleienaar, sê hy het ’n skrywe wat hom vir ’n sogenaamde spesiale ondersoek ontbied, geïgnoreer. Sy middelyf het niks met enigiemand anders as homself te doen nie, reken hy. Die tweede kennisgewing wat die stad van voorneme is om aan weerbarstiges te stuur beplan hy ook om te verontagsaam.

Bron: NY Times, deur Mnr N. Onishi, 2008-06-13

Ai, ek moet ook binnekort my middellyf laat meet en amptelik laat registreer, maar my sendelingvriend, John Stemmons, sê hy dink dit is skandalige staatsinmenging.

Ek weet nie wat my vriend daaromtrent gaan doen nie, maar ons almal stem as gelowiges saam dat ons na ons liggame, wat nie meer aan ons behoort nie, moet kyk. Dit is ’n tempel van die Heilige Gees!

Weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?

Want julle is duur gekoop.

Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort (1 Kor. 6:19,20).

As jy aan God behoort, is jou liggaam ’n heiligdom, die tuiste van die Heilige Gees!

Jy kan nie net sommer lewe soos jy wil nie, God het ’n duur prys vir jou betaal.

Wend elke deel van jou liggaam aan tot eer van jou Skepper!

Met dankbare erkening aan Neil Verwey, Japan Mission http://www.japanmission.org/

You may also like...