Waaksaamheid is die wagwoord
Wees Waaksaam en Veiligheidsbewus – Dit kan jou lewe red
Dr. Rudolph Zinn van die Skool van Kriminele Reg by UNISA het intensiewe navorsing gedoen op residensiële roof en aanvalle en het onderhoude gevoer met vele gearresteerde en veroordeelde rowers.
Sommige van sy bevindinge is kommerwekkend, ander is verassend –– maar dis die moeite werd om van kennis te neem. Maak jou eie afleidings en skerp jou sekerheid op waar nodig.
1. Die afgelope jaar het huisinbrake met 13.5% gestyg. Die helfte van die 15 000 rowe van woonhuise in 2008 was in Gauteng.
2. Die gemiddelde ouderdom van inbrekers is tussen 19 en 26. 30% van hulle het of reeds ’n moord gepleeg of sal nie skroom om iemand dood te maak nie.
3. Slegs 17% van die inbrekers is buitelanders.
4. 90% van die gearresteerde inbrekers het nie matriek nie of is werkloos.
5. Die 10% wat vantevore gewerk het, het ophou werk toe hulle ontdek hoeveel geld hulle met inbrake kan verkry.
6. Die meeste slagoffers is welgestelde mense wat hul welvaart vertoon met bv. duur huise, juwele en duur motors.
7. Voor die inbrake word inligting omtrent die teikenhuis en sy inwoners verkry. Huishulpe verskaf die meeste van die inligting. In Schoemansville het ’n vrou haar huishulp se selfoon bekyk: daar was foto’s van haar deurslotte en veiligheidstoerusting! En die nommers van haar medekriminele. Dit het gelei tot ’n aantal arrestasies.
8. Agt uit tien inbrake vind plaas met die hulp van inligting verkry van huishulpe, tuiniers of vorige werknemers.
9. Rowers monitor ’n huis en sy inwoners se bewegings vir tot twee weke, totdat hulle genoeg weet om die roof te beplan.
10. Alle bendes doen navorsing op die reaksietyd van elke sekerheidsmaatskappy.
11. Die meeste aanvalle word geloods tussen 19:00 en middernag, want dan het die meeste mense nog nie hul alarms aangeskakel nie. Hulle ontspan, maak kos of sit voor die TV. Rowe vind tot om 04:00 plaas.
12. Volgens die inbrekers is die grootste afskrikmiddel klein hondjies wat in die huis slaap.
13. Alarms en gewapende reaksie word glad nie as ’n afskrikmiddel beskou nie!
14. Elektriese heinings, strale wat beweging optel en CCTV geslote baan TV wat vir die huisbewoner wys wie buite of binne beweeg, is wel ’n afskrikmiddel.
15. Die waarde van gesteelde goedere is gemiddeld R5 000 per inbraak.
16. In 2% van huisinbrake word die slagoffers ernstig beseer.
17. 35% van die inbrekers doen dit omdat hulle die geld nodig het vir kos en lewensmiddele. 65% van hulle blaas die geld op klere, karre en pret.
18. Die gemiddelde rower doen 103 inbrake in 7 jaar voordat hy gevang word.
19. ’n Skrikwekkende 97% van alle inbrekers is gewapen en daar is gemiddeld 4 lede in ’n bewapende rowerbende.
20. Die meeste rowers teiken huise wat hulle binne 10 tot 30 minute per motor van hul basis of blyplek af kan bereik.
21. Die meeste slagoffers wat tydens huisinbrake gemartel of beseer word is vroue.
22. In Suid-Afrika word slegs 7,67% van inbrekers gevonnis. In die VSA is dit 53%.
Ons vertrou dat hierdie statistiek jou sal inspireer om jou veiligheidsituasie goed te bedink. Maak seker dat jou veiligheidsmaatreëls in plek is, toets gereeld of alarms werk. Moenie gerus raak en dink dat dit net met iemand anders kan gebeur nie.
(Uit die De La Haye Neighborhood Watch Nuusbrief)