Waarom word ons vet?
Waarom word Suid-Afrikaners vet?
Waarom is daar soveel van ons wat met ons gewig sukkel al eet ons gesond? Dit wil voorkom asof hierdie probleem te doen het met die ingesteldheid van Suid-Afrikaners.
Die bevindings van die Mediese Navorsingsraad se onlangse projek “Putting Prevention into Practice” dui daarop dat daar onder ons land se mense ses ingesteldhede is wat met die oorsaak te doen het.
Hulle is:
Kinders besluit self wat hulle wil eet en wat nie omdat ouers eerder die maklikste uitweg volg as om die moeite te doen om hulle te leer wat goed en gesond is om te eet.
Daar word sondermeer aanvaar dat dit te duur is om gesond te eet en gevolglik word die weg van minste weerstand ook in hierdie opsig eerder gevolg.
Oorgroot porsies word voorgesit, veral van kosse wat baie koolhidrate en veral verfynde koolhidrate bevat.
Aandag word slegs aan gesond eet gegee nadat probleme opgeduik het, eerder as om gesonde eetgewoontes vroeg aan te leer en om kinders te leer waarom dit belangrik is om reg te eet.
Die persepsie word gekweek dat “gesond” ook “vervelig” is. ‘n Besoek aan die eetplanne by www.verslank.net sal hierdie persepsie die nekslag toedien.
Daar heers onkunde oor die hoeveelheid sout, vet en suiker wat in gekoopte, verwerkte voedsel voorkom.
Hou in gedagte dat ‘n gesonde dieet gewoonlik goedkoper sal kos omdat dit minder vette, olies, rooivleis, suiker en verwerkte kossoorte bevat. Jy sal ook kan bespaar op duurderwordende elektrisiteit omdat baie van die vars, natuurlike kosse rou ge-eet kan word of baie gouer gaar word. Dit beteken ook nie noodwendig dat alles gekook moet word nie; stoom en rooster smaak baie lekkerder en is net so gesond.
Slegs so min as 1% van tieners kry genoeg natuurlike vesel in hulle daaglikse dieet. Dit bring mee dat hulle mae groter word en dat hulle hoër vlakke van inflammatoriese faktore in hulle bloed kry. Albei hiervan verteenwoordig risikofaktore vir hartsiektes en diabetes.
Oorsigtelik kan gesê word dat ‘n kombinasie van ‘n gejaagde leefwyse, gemaksones, onkunde en swak dissipline daartoe lei dat ons samelewing baie vet en ongesonde mense oplewer.
Wat van ons getuienis?
Suid-Afrikaners maak graag daarop aanspraak dat dat ons christene is. Indien ons dit as getuienis wil uitleef, sal meer van ons ook moet begin om te verstaan en uit te leef dat ‘n gesonde liggaam nie net ‘n gesonde gees huisves nie, maar ook dat my liggaam die woonplek van God die Heilige Gees is en as sulks gerespekteer, opgepas en gesond gehou moet word.
Maak moeite daarmee om hierdie liggaam wat jy vir die res van jou aardse bestaan sal moet bewoon, reg te bestuur. So sal jy die Skepper en mede-bewoner daarvan eer, goeie lewenskwaliteit tot in jou oudag geniet en ‘n gesond-leef erfenis vir jou kinders en kleinkinders nalaat.
Begin deur die versameling nuusbriewe wat by www.verslank.net te lees is deur te werk en toe te pas waar dit vir jou nodig is.