Wag op God om te antwoord
Waarom moet ons wag?
Om op God te wag was een van die geheime wat Dawid “‘n man na God se hart” gemaak het. Dawid het “voor die Here gaan sit.” (2 Samuel 7:18) God was sy vertroue en hy het Hom vertrou vir elke aspek van sy lewe: leiding en onderrig (Psalm 25:5); hulp en beskerming (Psalm 33:20); oorwinning oor vyande en regverdiging (Psalm 37:7, 9, 34, 52:10); redding uit gevaar (Psalm 40:2, 59:10), skuilplek teen verraad en onderdrukking. (Psalm 130:5-6.)
Niks toets ons geloof meer as om op God se antwoord op gebed te wag nie. Om te wag toets ons onderwerping aan Hom as ons betroubare Gesag. Wag is nie noodwendig die neerlê van alle aktiwiteite nie; dit is onderwerping aan God se kennis van wat beter is as wat ons kan sien of verstaan.
Om op God te wag beteken dat ons hele lewe onder God se sambreel van gesag en leiding val. Indien ons voor God uithardloop, sal ons voortdurend onrus, uitputting en mislukking beleef. Daar is leersame voorbeelde in God se Woord van wat gebeur wanneer ons sake in eie hande neem. Dink aan Abraham met Ismael, Saul wat die rol van priester vervul het, Israel wat na Egipte gekyk het vir hulp (Jesaja 30:1-3), of om in die lig van ons eie vuur te loop. (Jesaja 50:11).
Wat leer ons terwyl ons wag?
Ons leer God Self ken. God openbaar Sy volmaaktheid, Sy onfeilbare vermoë om elke stukkie detail te hanteer. Sy tydsberekening is perfek. Hy is alwetend, alomteenwoordig. Hy doen alles en is in alles. Hy gee aan ons bevestiging van die feit dat Hy altyd teenwoordig is. Hy gee ons die versekering van Sy ware mag oor die vyand wat ons nie kan sien nie. Sy Heilige Gees help ons om op die regte dinge te fokus. Wat ons nodig het, is nie bewyse nie, maar geloof om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. (Hebreërs 11:1).
Die Heilige Gees sê: “Ek gee aan jou geloof.” Hy gee aan ons die genade om op Sy doel te wag totdat ons die bewyse sien dat Hy nog die hele tyd aan die werk was. Dit is onmoontlik om Hom sonder hierdie geloof te behaag, want almal wat na God toe kom, moet glo dat Hy dié beloon wat Hom in alle erns soek. (Hebreërs 11:6).
In gemeenskap met ander gelowiges, wanneer ons ons leegmaak van onsself, meer Christus-gelykvormig word en vervul word met die Heilige Gees, word ons versterk om die volle kaleidoskoop van Sy plan te sien, en dan word ons bemoedig met die genade om op God te wag totdat Hy beweeg.
Hoe wag ons?
1. Biddend. (Psalm 62:2, 6)
2. Met krag en moed. (Psalm 27:15, 31:25)
3. Met blydskap en vertroue in sy heilige Naam (Psalm 33:21)
4. Gegrond op die vrees van die Here en Sy onfeilbare liefde. (Psalm 33:18, 22)
5. Met hoop. (Psalm 33:20, 39:8)
6. Geduldig. (Psalm 37:7, 40:2; Habakuk 3:16; Romeine 8:25; Hebreërs 6:15)
7. Gehoorsaam. (Psalm 37:34; 119:166; Jesaja 26:8-9)
8. Met ‘n begeerte na Hom. (Jesaja 26:8-9)
9. Gefokus. (Psalm 62:6)
10. Met verwagting. (Psalm 123:2; Miga 7:7)
11. Met geloof in sy Woord. (Psalm 130:5)
12. Met sekerheid. Hy is al wat ons nodig het; Hy is ons erfdeel. (Klaagliedere 3:24).
13. In stilte. (Klaagliedere 3:26)
14. Volhardend en dag vir dag. (Hosea 12:6)
15. In afwagting van vreugde. (Johannes 3:29)
16. Gretig. (Romeine 8:19, 23)
(Artikel deur Sylvia Gunter, verkort en notas bygevoeg deur Jerigo Mure.)