Wat moet ek eet?
Wat moet ek eet?
Wees tevrede met wat jou voorgesit word en bedwing jou as jy ‘n groot eetlus het (Spreuke 23:1 – 2)
Inleiding
Dit het min waarde om reg te eet as jy eendag oud is. Eet jou hele lewe lank reg.
Moderne eetgewoontes laat elkeen wat basiese kennis van gesondheid het, gril. Kitskosse het huiskos vervang; die rakke in ons supermarkte is vol verfynde en geprosesseerde voedselsoorte. Nog erger: elke nou en dan is daar ‘n nuwe dieet of ‘n nuwe gewigbeheerfoefie waaragter almal aanhardloop.
Die wetenskap van voeding vorder so snel dat min mense kan bybly.
Boekrakke is vol boeke oor diëte en aanbevelings oor hoe om gewig te verloor.
Ons behoort egter eerder ons aandag te bepaal by die voedingskomponent van ‘n gesonde leefstyl.
Die inflammatoriese proses
Die vier tekens van inflammasie is die rooi kleur, warmte, swelling en pyn. Dink maar net aan ‘n brandwond. Hierdie tekens vestig aandag op die liggaamsdeel wat geaffekteer is en dit wys dat die liggaam se genesingsprosesse werk.
Inflammasie hou gewoonlik op sodra die aangetasde deel genees is en is dus ‘n tydelike proses.
Inflammasie kan egter ook buite sy perke ten opsigte van plek en tyd versprei na plekke waar die liggaam nie beseer of aangeval is nie. Dit kan selfs aanhou nadat die probleem opgelos is.
Die geaffekteerde selle laat onder andere ensieme vry wat normale selle kan aanval en vernietig. Sodra inflammasie normale selle aanval, het ons te doen met ‘n abnormale toestand wat siektes soos tipe 1 diabetes, rumatiekkoors, rumatoïede artritis en asma veroorsaak.
Dieet
Hoe en wat jy eet kan die inflammatoriese proses beïnvloed. Hier is enkele voorbeelde:
Makronutriënte
1. Vette
Vette het te doen met die mees ooglopende verband tussen dieet en inflammasie. Die twee noodsaaklike vetsure, omega 3 en omega 6 is die belangrikste vette. Die liggaam kan nie hierdie vette vervaardig nie en dus moet ons hulle via ons voedsel inkry. Dit is ook belangrik dat hulle in die regte verhouding ingeneem moet word.
Omega 6 word in olieryke sade en groente-olies gevind.
Omega 3, wat die begin van die anti-inflammatoriese pad aandui, is nie so maklik bekombaar nie. Blaargroentes, sekere sade en neute (okkerneute, hennepolie, vlas), enkele groente-olies (soja, canola), seegroentes (verwerkte seewier is baie gewild by Japannese) en olierige vis uit die koue waters (sardyne, makriel, harings, salm) is nuttige bronne.
Die moderne dieet bevat gewoonlik heelwat meer omega 6 as omega 3. Meeste van die skyfies, beskuitjies en lekkers in ons supermarkte bevat omega 6, maar geen omega 3 nie.
Hier is enkele riglyne om jou te help om die balans te verbeter:
1. Vermy groentesmeer.
2. Gebruik botter en olyfolie eerder as margarien.
3. Eet so min as moontlik gebraaide kosse, veral in restaurante.
4. Moenie olies, neute, sade of pappe eet wat galsterig ruik nie.
5. Beperk inname van poli-onversadigde groente-olies (sonneblom, koring, sesame en soja). Hou klein hoeveelhede op ‘n keer aan en beskerm hulle teen lig, lug en hitte.
6. Moet nooit olie verhit totdat dit rook nie en moenie olie wat eenmaal baie warm gemaak is, hergebruik nie.
7. Die meeste vrugte-olies word deur verhittingsprosesse of deur oplosmiddels onttrek. Dit het nadelige chemiese veranderinge tot gevolg. Gebruik eerder “extra-virgin” olyfolie of soortgelyke olies.
2. Koolhidrate
Sommige koolhidrate verteer vinnig en ander weer stadig. As jy goeie gesondheid wil nastreef moet jy meer koolhidrate eet wat stadig verteer. Die glikemiese indeks, met ‘n skaal van 0 tot 100 meet die verskil en die hoër telling dui op vinniger vertering.
Inligting oor die glikemiese indeks en glikemiese lading is by die meeste apteke en alle dieetkundiges beskikbaar.
Besnoei jou inname van voedsel met ‘n hoë glikemiese lading. Dit beteken minder brood, aartappels, skyfies en ander peuselkosse, soetgebak en versoete drankies.
Eet meer heel grane, bone en ander groentesoorte. Eet eerder nie-tropiese vrugte (appels, pere, kersies) as tropiese vrugte (pynappel, mango, papaja).
Eet minder verfynde en geprosesseerde kossoorte en vermy kitskosse.
3. Proteïne
Die invloed van proteïne is meer indirek. Meeste proteïnkossoorte bevat vet wat goed (olierige vis) of sleg kan wees. Dierevet is meestal versadig en verhoog die risiko vir hartsiektes. Daar is die bykomende probleem van omgewingstoksienes in baie diereprodukte.
Eet minder vleis, pluimvee en ander kosse van diere-oorsprong en meer proteïene in die vorm van groente soos peulvrugte (bone, lensies), heel graan, sade en neute.
Eet ook kouewater vissoorte.
Mikronutriënte
Vitamiene en minerale in die regte hoeveelhede en verhoudings is noodsaaklik vir die mens. Die natuurlike bron is meestal vrugte en groente maar die gewasse moet organies gekweek wees en die grond waarin hulle gekweek word moet al die natuurlike spoorelemente in voldoende hoeveelhede bevat. Sulke bronne is deesdae bykans onbekombaar. Dit is nietemin belangrik om vrugte en groente van die volle kleurspektrum in ons diëte in te sluit en om ook aanvullers te gebruik om te kompenseer vir die afwesige spoorelemente.
Addisionele anti-oksidante
Anti-oksidante kom voor in vrugte en groente, tee, donker sjokolade (maar die suikerinhoud maak dit ongelukkig ‘n minder aanvaarbare bron), en aanvullers.
Omdat min van ons elke dag ‘n voldoende verskeidenheid van organies-gekweekte groente en vrugte eet, word dit al hoe belangriker om aanvullers te neem wat die elemente bevat wat uit die volle kleurspektrum geneem word en wat dit in voedselvorm aanbied.
Anti-inflammatoriese ondersteuning
Gespesialiseerde aanvullers kan hier ‘n belangrike rol speel. Soos reeds aangedui speel Omega 3 en 6 olies in die regte vehouding ‘n sleutelrol. Hierdie verhoudings is die onderwerp van ingewikkelde studienavorsing, wat ook die wanbalanse in die dieet in aanmerking moet neem. Pogings om hierdie balanse te handhaaf deur self die twee olies uit verskillende bronne te meng sal onvermydelik lei tot swak benutting en geldmors.
Oor die algemeen neem ons voldoende Omega 6 via ‘n normale dieet in, maar nie Omega 3 nie – kyk dus eerder na aanvullers wat slegs Omega 3 bevat.
Slotsom
‘n Gesonde balans in wat ons eet is uiters belangrik vir mense van alle ouderdomme. Om lekker te kan eet is ‘n voorreg en ‘n gawe. Daar is net twee riglyne: matigheid en balans. Hierdie eienskappe is ingebou in die langtermyn eetplan wat jy by die “Eetplanne” skakel sal vind.
Dat ‘n mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God (Pred 3:13)