Werk jou nuwejaarsvoornemens?
Waarom werk so min goeie voornemens ?
By die krieket op Nuweland, staan daar ‘n jongman met ‘n plakkaat om die nek wat verkondig dat sy nuwejaarsvoorneme is om op te hou drink. Hy staan met ‘n bier in die hand.
Aan die begin van elke nuwe jaar word baie nuwejaarsvoornemens gemaak. Soos in bogenoemde geval word sommige van hierdie mooi voornemens sommer met die intrap in die wind geslaan of die spot mee gedryf. Party voornemens hou vir ‘n tyd lank maar min daarvan bly staan tot by die volgende nuwe jaar. Dan begin die proses maar weer van voor, totdat ons nie meer glo dat ons werklik kan verander nie en maar tou opgooi.
Feit bly staan: elkeen van ons het areas in ons lewens wat ons wil en kan verbeter; swak gewoontes wat ons wil breek, goeie gewoontes wat ons wil aanleer.
Waarom is dit dan so moeilik om te bly by beloftes wat ons vrywilliglik aan onsself maak, selfs as ons weet dat dit nodig en goed is?
‘n Onmoontlike belofte?
Toe Jesus se werk op aarde afgehandel was, het Hy belowe dat Sy volgelinge sal doen wat Hy gedoen het. Hy het verder gegaan en gese dat hulle selfs groter dinge sal doen.
Daar is egter waarskynlik min mense, selfs onder gelowiges, wat werklik glo dat hierdie belofte waar is of wat dit ervaar. Dit is nietemin een van die enigste onwrikbare waarhede wat ons ken, omdat dit die Woorde van die almagtige Skepper van die hemel en die aarde is.
As ons in staat is tot sulke groot dinge dan moet ons immers die relatief maklike nuwejaarsvoornemens kan nakom! Waarom gebeur dit dan so selde?
As ek maar net vroeër geweet het
Belangrike lewenswaarhede het in die afgelope paar jaar onder my aandag gekom. Dinge waarvan ek baie graag heelwat vroeër in my lewe sou wou weet, omdat dit my met my nuwejaarsvoornemens en in my verhouding met Jua, my kinders, my vriende, vreemdelinge en my vyande baie sou gehelp het.
Op 70 is daar so baie dinge wat aandag verg en so min tyd oor dat ‘n mens genoodsaak word om prioriteite hieroor op te stel.
Hoe kan ek my voornemens laat werk?
Elkeen wat hier lees en in die nuwe jaar iets anders as voorheen wil doen moet verkieslik eers besluit oor prioriteite. Identifiseer die belangrikste terrein in jou lewe waarin jy wil groei, soek dan al die plekke in die Bybel wat oor die saak handel. Begin om die betrokke gedeeltes getrou, elke dag te lees en daaroor te bid. As jy klaar is, begin weer voor. Doen dit weer. En weer. Herhaal die proses soveel keer as wat nodig is, totdat die resultate in jou lewe sigbaar word en vrug dra.
Dit is dieselfde beginsel wat geld wanneer jy ‘n druiwestok in water inlê. Jy hou dit nat totdat dit wortel skiet. Dan plant jy dit in die grond en hou dit nat totdat dit sterk wortels ontwikkel, groei en vrugte dra. Dit SAL werk, omdat dit die Skepper se wil is dat dit moet werk, anders sou Hy dit nie so in sy Woord beskryf het nie. Al wat jy moet doen is om volhardend, elke dag, deurentyd by die water te bly TOTDAT die wortels groei, sterk word en die vrugte sigbaar word.
My eie voorneme vir die nuwe jaar
Dit was nie vir my moeilik om te besluit dat liefde die één eienskap is wat ek graag in my lewe wil sien groei nie. Liefde is die domein van God, omdat Hy liefde IS. Dit is die teenoorgestelde van selfsug, wat die domein van Satan is.
Daar is baie selfsugtige terreine in my lewe, en ek het met ‘n skok besef dat elkeen daarvan ‘n besliste vastrapplek van Satan in my lewe verteenwoordig. Die enigste manier om daarvan ontslae te raak is om in die Liefde van Christus te lewe sodat Sy krag die vyand se invloed sal breek totdat daar eenvoudig nie meer plek vir die vyand en sy leuens is nie.
Die mees verstommende aspek van die tipe Liefde wat ek met ‘n hoofletter skryf omdat dit aan God self gelykgestel word, is dat dit die sleutel is tot God se almag. Nou word die krag agter die belofte van Jesus wat Hy in Johannes 14:12-14 gemaak het duidelik: Julle sal selfs groter dinge as Ek doen. Dis nie ons krag wat dit moontlik maak nie; dis die almag van God, gesetel in Sy Liefde.
Wat jy ookal op besluit, hetsy byvoorbeeld
* om gesonde gewoontes te ontwikkel
* om verder te studeer
* om jou finansiële posisie te verbeter
* om meer vir behoeftiges te doen
* om stres te verminder
* om meer onafhanklik te word
… of enige ander voorneme waaraan jy kan dink, soek in die Skrif na plekke waar die saak aangespreek word. Lees daardie gedeeltes elke dag, oor en oor, totdat dit by jou posvat. Totdat die wortels gegroei het, takke en blare gevorm het en daar vrugte aan die boom verskyn.
Gebruik ‘n konkordansie of ‘n Bybelprogram op jou rekenaar om die plekke te vind waar die voorskrifte en riglyne vir die doelwitte wat jy wil bereik opgeteken is. As jy nie regkom nie, vra iemand wat meer kennis van die Bybel het om jou te help.
Sover ek weet word gewigbeheer nie spesifiek behandel nie (as iemand my kan teregwys waardeer ek dit) maar daar is wel baie riglyne oor hoe om gesond en gebalanseerd te leef. Soos jy weet is ons uitgangspunt by www.verslank.net ook dat oorgewig self sal regkom as ons gesonde leefstyle aanleer.
Dit wat vol is het nie ruimte vir meer nie
Jy sal nie deur selfdissipline, wilskrag of deursettingsvermoë regkry om jou voornemens volhoubaar deel van jou lewe te maak nie. Die leuens van die vyand en die aanloklikhede waarmee hy jou verlei is te sterk.
Die enigste manier om ontslae te raak van verkeerde gewoontes en negatiewe dinge in jou lewe is om seker te maak dat daar geen ruimte vir die dinge wat jy wil agterlaat in jou lewe oorbly nie. Dit beteken dat jy jou lewe en veral jou gedagtes so moet vul met die positiewe Skrifgedeeltes dat daar eenvoudig geen plek is vir die negatiewe dinge nie.
In my geval, waar ek die Here vertrou om Sy belofte oor Sy almag (liefde) wat in my lewe tot stand sal kom waar te maak, glo en weet ek dat dit sal gebeur. Nie omdat ek so wonderlik is, goeie dissipline kan handhaaf of innerlik sterk is nie, inteendeel, ekself is tot niks in staat nie. Dit sal gebeur omdat Hy wat my liefhet en in my woon die oorwinning namens jou en my behaal het.
As ons vir lank genoeg naby genoeg aan die Here leef, moét Sy liefde en die positiewe eienskappe waarna ons streef in ons lewens gestalte kry.
Dit werk soos enigiets wat aansteeklik is. Dit maak my opgewonde, want daar sal eenvoudig geen ruimte vir selfsug oorbly nie.
Daar is ook byvoordele: Liefde verdryf nie net selfsug nie, dit verdryf ook die gevolge van selfsug, naamlik vrees, twyfel, ongeloof, afguns, woede en vele meer.
Opsommend: Sewe stappe om te volg
1. Besluit oor die presiese terrein waarin jy wil groei en verander
2. Soek in die Woord na die oplossing vir jou probleem
3. Begin om volhardend en met verwagting elke dag die geselekteerde gedeeltes te lees
4. Hou aan om elke dag die gedeeltes te lees in die geloof dat elke belofte in die Woord waar is
5. Vestig die beeld van ‘n wingerdstok wat in water lê in jou gedagte – as dit droog word gaan die worteltjies dood maar solank dit in die water bly sal daar nuwe wortels vorm en groei sal volg
6. Hou so aan totdat die vrugte sigbaar word; dit SAL gebeur, soms neem dit net langer
7. Gee die eer aan die Here wanneer Sy beloftes waar word
Nog onderskraging
Dit sal jou verder help as jy gereeld na ‘n Geesvervulde boodskap luister. Ek en Jua het byvoorbeeld geruime tyd gelede besluit om in die plek van die Sewendelaan sepie met al sy baie negatiewe boodskappe elke aand in daardie tydgleuf na Dr Creflo Dollar op God TV te luister.
Indien jy nog nie jou dekodeerder ingestel het om God TV, Kruiskyk en talle ander goeie kanale op te vang nie, volg die riglyne by Nuusbriewe/Leefstyl/Opsies op Satelliet-TV